Wynkelders se tenks en vate is propvol as gevolg van die verbod op wynverkope en daar is glad nie meer plek vir 2021 se oes nie.
Dit is die dilemma waarmee die land se wynprodusente op die oomblik sit. “Boere kry nie leweringskwotas nie en oestyd het begin. Jy kan nie ’n plaas vir ’n jaar sluit nie – veral nie nadat dit die vorige jaar gesluit was nie”, sê die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) in ’n verklaring.
“Een werker op ’n wynplaas het vir ons gesê hy sterf eerder aan COVID-19 as aan honger en verdriet; maar dood is dood!”
Intussen sê die Biervereniging van Suid-Afrika hulle is besorg dat meer as 85% van brouers van boetiekbier die risiko loop om permanent te sluit weens die impak van die derde verbod op drankverkope.
You cannot close a farm for a year – especially not after it was closed the previous year.
A worker on a wine farm told us that he would rather die from COVID-19 than from hunger and sorrow.Click on the link to read the full articlehttps://t.co/cnds9LDT8Q#savesawines
— Saai (@Saai_org) January 22, 2021
Saai het reeds verlede jaar gewaarsku dat indien die verbod op die vervoer en verkoop van alkohol nie opgehef word nie, staar 90% van wynboere bankrotskap in die gesig en sal ongeveer 350 000 mense wat werksaam is in die bedryf, nie kos op die tafel kan sit nie.
Volgens die wynbedryf is daar geen rasionele rede om die voortbestaan van ’n familieplaas wat reeds eeue lank die Bolandse ekonomie aan die gang hou, in gedrang te bring “omdat ’n kantoorwerker dink hulle kan daardeur ’n paar beddens vir COVID-19-pasiënte oophou nie”. Stop die onsinnigheid, sê Saai in hulle verklaring.
Volgens Saai ly boere, werkers en dorpe veel meer onder die “drakoniese maatreël” wat die verkoop en die vervoer van wyn verbied as die frustrasie in die markplek van wynliefhebbers wat sukkel om ’n bottel wyn in die hande te kry of van gaste wat die Boland droëbek besoek omdat wynproe by ’n duur kelderrestaurant ook verbied is.
“Met die verskoning dat alkoholverbruik tot huismoles, straatgeweld, ongelukke en ander euwels lei wat beddens in hospitale se hoësorgeenhede beset wat vir COVID-19-pasiënte beskikbaar moet wees, mag restaurantgangers nie eens ’n glasie wyn vir middagete koop nie.”
Volgens Saai is ’n kombersverbod op alle alkohol die stompste instrument wat die regering kán gebruik om ’n delikate operasie mee uit te voer. Intussen bloei honderde wynplase en tientalle dorpe dood, gaan werksgeleenthede vinniger verlore as wat COVID-19-geld in die staatsdiens wegraak en dreig een van Suid-Afrika se oudste landboubedrywe om deur die vloer te gaan.
“Die argument dat ’n alkoholverbod beddens in hospitale beskikbaar maak soos wat ons oor Nuwejaar in hospitale beleef het, hou beslis water. Maar net soveel beddens word deur taxi-ongelukke in beslag geneem en daar is geen poging aangewend om hulle van ons paaie af te kry of selfs die passasiersbelading minder te maak nie. Die regering sê dat dit oor werk, inkomste en lewensbestaan gaan. Maar met watter mandaat kan die regering besluit dat die oorlewing van werksgeleenthede in die taxibedryf belangriker is as dié van die wynbedryf?” wil Saai weet.
Saai sê daar is in elk geval ’n aandklokreël wat motoriste tussen 21:00 en 05:00 van die paaie af hou en wat deur beamptes en padblokkades gepolisieer word. In ’n soortgelyke saak het Saai en ander belanghebbendes ’n saak oor die tabakverbod voor die hof gebring waarin ’n verdoemende uitspraak teen die grondwetlikheid en irrasionaliteit van die verbod gelewer is.
“Ons kan aantoon dat 20 weke van ’n tabakverbod en die miljarde rande se skade aan die ekonomie, werksgeleenthede en lewensbestaan van derduisende gesinne volgens die staat se eie syfers dalk hoogstens 18 beddens kan spaar!”
Wyn is ’n landbouproduk en wyn en kos gaan saam, daarom kan ’n mens dit (anders as ander alkohol) van rakke in supermarkte koop, sê Saai.
Die organisasie, wat daartoe verbind is om die regte, waardes, ideale en behoeftes van familieboere in die primêreproduksiesektor te beskerm en te bevorder, sê honderde wynboere staar ondergang in die gesig. Selfs as die bedryf nou weer van sy kettings bevry word, is die skade onherstelbaar.
Volgens ’n opname van die Vereniging van Boetiekbierbrouers (Basa) is ’n groot getal drankhandelaars in finansiële moeilikheid weens die verbod op drankverkope, het die SABC Dinsdag berig. Die bestuurshoof van Basa, Patricia Pillay, het ook daarop gewys dat bier ’n vervaldatum het wat voorraad raak. Sy sê die voorraad wat vir Nuwejaar bedoel was, se rakleeftyd is binnekort verby en dan sal die bier vernietig moet word. Basa vra die regering dat drankverkope hervat word, terwyl die aandklokreël en die verbod op sosiale byeenkomste gehandhaaf word.