Wynboere maak planne om COVID-19 te oorleef

  • 0

Die skade wat die nasionale inperking as gevolg van COVID-19-regeringsbeleid aan Suid-Afrika se wynbedryf aangerig het, beloop reeds R7,5 miljard in die sewe maande sedert die inperking aangekondig is.

Na raming is daar ’n oorskot van byna 400 miljoen liter wyn, wat meer as Suid-Afrika se plaaslike jaarlikse verbruik is, sê Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai).

Saai sê hulle is baie bekommerd oor die duisende hektaar wingerde wat in die gedrang is. Tot 80 familieplase kan as gevolg hiervan verlore gaan.  ’n Nuwe inisiatief is deur Saai begin om hierdie wynboere van moontlike ondergang te red.

In ’n poging wat daarop gemik is om familieboerwyne teen kelderdeurpryse aan verbruikers van regoor Suid-Afrika beskikbaar te stel, het Saai begin met ’n nuwe wynbemarkingsprojek, Die Wynboer, wat verlede maand by die Marianne-wynlandgoed in Stellenbosch bekendgestel is. Die Wynboer is ’n aanlyn wynwinkel wat daarop gemik is om familieboerwyne teen kelderdeurpryse aan verbruikers regoor Suid-Afrika beskikbaar te stel.

“Van die oudste familieplase in ons land is in die Wes-Kaap geleë. As netwerkstruktuur vir familieboere is dit vir ons kritiek belangrik om hierdie boere op hul plase te hou,” sê Saai in ’n verklaring.

“Hierdie plase is nie net wynplase nie – daar is in die meeste gevalle ook ’n restaurant en akkommodasie op die plaas wat geweldig baie werk skep – veral op die platteland, waar werk broodnodig is. Dit is voorts ook toerisme-aantreklikhede wat eie aan die Boland en die Wes-Kaap is,” sê Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

Aggressiewe bemarking van wyn kan volgens Saai veel meer as net die vernietigende impak van irrasionele COVID-19-regulasies teenwerk en bydra om van wynsurplusse ontslae te raak. Dit kan ook werksgeleenthede in stand hou, boere op hulle plase hou én die streek se ekonomie red.

Saai sê terwyl die owerhede nog absoluut niks gedoen het om die selfgemaakte krisis op te los nie, moet wynplaasfamilies die beste digitale en bemarkingstegnologie inspan vir die herstel van die bedryf.

Die Wynboer sal aanvanklik 10 wynplase se produkte op die webtuiste lys, waarna daar weekliks nog plase bygevoeg sal word.

“Hierdie platform gee aan elke verbruiker toegang tot wyne wat nie noodwendig plaaslik beskikbaar is nie. Dit skakel voorts ook die middelman uit, wat vir die wynboer meer waarde in sy sak beteken,” sê Kwagga Boucher, wynmaker en uitvoerende hoof van Die Wynboer.

“Hierdie webtuiste is meer as net ’n wynwinkel. Elke wynmaker het nou ’n platform om die storie van die plaas en die agtergrond van die wyne te vertel. Jy kan nie elke dag ’n familiewynplaas in die Kaap besoek nie, maar Die Wynboer stel jou in staat om elke dag ’n familiewyn by jou huis te geniet,” voeg Boucher by.

“Gedurende vlakke 4 en 3 van die inperking het Saai meer as 220 wynboere verteenwoordig in ’n hofsaak teen minister Nkosazana Dlamini-Zuma en andere om die verbod op die verkoop van wyn op te hef aangesien dié verbod ontsaglike skade aan die bedryf veroorsaak het. Die Wynboer is die tweede helfte van ons inisiatief om familiewynboere te help om hulle bedryf weer aan die gang te kry,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is uiters sleg getref en onkant gevang deur die streng regulasies tydens die staat van inperking wat verreikende implikasies vir die bedryf ingehou het. Dit is nie slegs wynverkope wat daardeur geraak is nie, maar die hele bedryf is geraak.

Tientalle wynplase moes tydens die inperking hulle deure vir die publiek sluit. Die Stellenbosse-landgoed Delheim was die eerste wat sy deure gesluit het nadat ’n toeris by wie COVID-19 gediagnoseer is, op die plaas was. Daarna het ’n rits ander wynplase ook hulle deure vir die publiek gesluit nog voordat die grendelstaat afgekondig is.

Besoek Die Wynboer hier.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top