Die 43-jarige Nyathi, wat as tuinier in Johannesburg gewerk het, is verlede week na bewering aangerand en aan die brand gesteek nadat hy gevra is om sy dokumente van herkoms te wys.
Die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) het Dinsdag tydens ’n webinaar getiteld "Hoe om Suid-Afrika se vlamme van xenofobie te blus" gesê meer as 250 xenofobiese aanvalle en verwante voorvalle is die afgelope agt jaar in Suid-Afrika aangeteken.
Die webinaar het plaasgevind te midde van verskeie beskuldigings en uitsprake deur politici oor onwettige immigrante, wat die gemoedere onder Suid-Afrikaners laat opvlam het.
Een van die ISS se navorsers oor geregtigheid en geweldvoorkoming, Godfrey Mulaudzi, se voorlegging het gehandel oor wat op grondvlak ten opsigte van xenofobie gebeur.
Die seminaar is befonds en ondersteun deur die ambassade van Finland, die Hanns-Seidel-stigting, die Europese Unie, die Open Society Foundation en die regerings van Denemarke, Ierland, Nederland, Noorweë en Swede.
Mulaudzi sê die tendens en modus operandi bly dieselfde. Sommige Suid-Afrikaners eis dat onwettige buitelanders die land moet verlaat omdat werk volgens hulle aan Suid-Afrikaners behoort. Die tendens geld in KwaZulu-Natal, Diepsloot, Soweto en Hillbrow.
President Cyril Ramaphosa het ook sy weeklikse nuusbrief vandeesweek aan xenofobie gewy met die opskrif “Beveg misdaad, nie immigrante nie”. Hy sê misdaad is die gemeenskaplike vyand wat bestry moet word.
Die DA sê egter Ramaphosa is besig om die blaam te verskuif.
Die groot aantal ongedokumenteerde buitelanders wat in Suid-Afrika woon, is volgens die DA toe te skryf aan die gebroke ANC-beheerde Departement van Binnelandse Sake en die land se poreuse ANC-beheerde grense. “Buitelanders word as sondebok gestraf vir ANC-regeringsmislukking. Dit is natuurlik makliker om te begryp as jy in die middelklas is, in diens is, ingelig is en die luukse het om ’n onemosionele, objektiewe standpunt oor die saak in te neem.”
“Elvis Nyathi se moord was geen toeval nie. Dit is die tragiese maar voorspelbare uitkoms van ANC-mislukking gekombineer met xenofobiese retoriek deur leiers wat onwillig of nie in staat nie is om die werklike oorsaak te identifiseer en werklike werkbare oplossings te dryf.”
Die DA beskuldig ook leiers soos Julius Malema en Herman Mashaba daarvan dat hulle mense aktief tot geweld aanhits deur doelbewus die vlamme van xenofobie aan te blaas vir politieke gewin.
Die DA-leier, John Steenhuisen, het Woensdag tydens ’n oorsigbesoek aan die Departement van Binnelandse Sake se sentrale kantoor in Johannesburg gesê die rede agter xenofobiese aanvalle in die land is dat die regering nie daarin slaag om die basiese beginsels van regeer reg te kry nie.
“Die rede waarom ons hierdie besoek afgelê het, is die ernstige bedreiging wat die verlammende ondoeltreffendheid en meedoënlose korrupsie in die Departement van Binnelandse Sake vir die stabiliteit van Suid-Afrika inhou.”
Today, I led an oversight visit to the Home Affairs’ central Johannesburg office.
The reason we conducted this visit is because of the serious threat that the crippling inefficiencies and relentless corruption in Home Affairs poses to the stability of SA.#FixHomeAffairs pic.twitter.com/QCEmxWXqjn
— John Steenhuisen MP (@jsteenhuisen) April 13, 2022
DA Leader John Steenhuisen says Home Affairs is the reason behind Xenophobic attacks in the country because of a government that is failing to get the basics of governing right. BM pic.twitter.com/8lZc7sSyE5
— EWN Reporter (@ewnreporter) April 13, 2022
ActionSA se leier, Herman Mashaba, sê sy party is diep verbind tot die oppergesag van die reg, en is nie selektief in hulle benadering oor watter wette geïmplementeer moet word nie. “Ons doen ’n beroep op Suid-Afrikaners om nie die reg in eie hande te neem nie en om hul woede teen ’n mislukte ANC nasionale regering te rig. Ons staan in solidariteit met die slagoffers van geweld, ongeag die nasionaliteit van die oortreders of die slagoffers.”
ActionSA sê buitelanders is welkom mits dit in ooreenstemming met die immigrasiewet is en hulle die land se wette gehoorsaam. “Hierdie posisie is in ooreenstemming met elke land met selfrespek in die wêreld.”
Mashaba sê in ’n verklaring in tye van moeilikheid het die land politieke partye nodig wat oplossings aanbied en wat kalmte vra, nie partye wat die gedrag van Suid-Afrikaners wil beheer deur hul vrese te manipuleer nie.