Zelenski se diplomasie; probleme met treine en die posdiens; en ’n skietery

  • 0
Oorlog in Oekraïne

Die Russiese inval in Oekraïne bepaal steeds talle agendas in die Lae Lande.

Zelenski spreek Nederlandse en Belgiese parlement toe

President Wolodimir Zelenski van Oekraïne het verlede Donderdag die Tweede Kamer in Nederland toegespreek. In sy toespraak het hy ’n beroep op Nederland gedoen om die invoer van gas uit Rusland te staak en strenger sanksies teen dié land in te stel, omdat die geld wat daaruit verdien word, volgens Zelenski gebruik word om oorlog teen Oekraïne te voer.

Hy het ook weer ’n beroep om meer wapens gedoen om Rusland te beveg.

Zelenski het na gebeure in Nederland se geskiedenis verwys, soos die bombardering van Rotterdam deur die Nazi’s in 1940, asook na vlug MH17 wat volgens alle aanduidings deur bevelvoerders van Rusland op Oekraïense grondgebied afgeskiet is. Verder het hy verwys na die watergeuse wat die Spanjaarde tydens die 80-jarige Oorlog in Den Briel verjaag het.

Zelenski het ook ’n spesiale beroep op president Mark Rutte gedoen om die snelle toetrede van Oekraïne tot die Europese Unie te ondersteun – iets waarteen Rutte tot nog toe vasskop.

Zelenski het na afloop van sy toespraak ’n staande toejuiging van raadslede in die Tweede Kamer ontvang.

In België is Zelenski se toespraak aan die Federale Parlement geopen met twee Poolse musikante wat die Oekraïense volkslied gespeel het. Alle LP’s asook Zelenski het op aandag gestaan.

Zelenski het ’n groot deel van sy toespraak het gewy aan die omstandighede in die beleërde stad Marioepol. Hy sê voor die oorlog het Marioepol ’n belowende ekonomie gehad; vandag is 90% van die stad verwoes, duisende burgers het omgekom en daar is geen voorrade of lewensmiddele meer nie. Zelenski het Marioepol met die Belgiese stad Ieper vergelyk wat in die Eerste Wêreldoorlog tydens gevegte met die Nazi’s en die geallieerdes in puin gelê is, maar wat Duitsland nooit kon verower nie.

Zelenski het België bedank vir die opneem van Oekraïense vlugtelinge en die lewering van humanitêre hulp en wapens.

Hy het egter weer gevra vir ’n vliegspersone, nog meer wapens en ’n snelle toetrede tot die EU.

Net soos in Nederland het Zelenski ’n staande applous ná sy toespraak gekry.

Premier De Croo het egter in antwoord op Zelenski se toespraak met klem benadruk dat ’n vlugspersone nie haalbaar is nie.

Nederland reageer op skokbeelde uit Oekraïne

Ook die Nederlandse minister-president, Mark Rutte, het met skok gereageer op die afgryslike beeldmateriaal wat Sondag opgeduik het ná die Russe se onttrekking uit die voorstad Boetja van Kiëf, waar, volgens die plaaslike burgemeester, meer as 300 burgerlikes dood is, berig die NOS.

Rutte het op Twitter gesê die dade moet ondersoek word en dat “Nederland en onze partners niet zullen rusten tot de daders van oorlogsmidaden verantwoordelijk zijn gehouden”.

Nuusdienste en sosiale media versprei foto’s van lyke van burgerlikes wat volgens sommige bronne weke lank op straat lê. Sommige met ’n inkopiesak in hul hand of langs ’n fiets.

Daar is ook foto’s van lyke van persone wie se hande agter hul rûe vasgebind is.

Dodelike skietery by kitskosrestaurant

Twee broers van onderskeidelik 57 en 62 is verlede Woensdag tydens ’n skietery by ’n McDonald’s in Zwolle doodgeskiet. Volgens die polisie is ’n 32-jarige man uit Arnhem in verband met die moorde in aanhouding nadat hy hom aan die polisie oorgegee het.

Ooggetuies beweer die skieter het omstreeks 18:00 die restaurant binnegegaan en iets bestel om te eet. Hy het daarna by ’n tafel gaan sit en twee mans wat langs hom gesit het, doodgeskiet. Minstens 10 gesinne met kinders was ten tye van die voorval teenwoordig.

Ná die skietery het paniek uitgebreek en het alle besoekers probeer om gelyk uit die restaurant te vlug, berig die NOS.

PostNL in België opnuut onder skoot

Die Belgiese tak van die Nederlandse koerierdiens PostNL is weer in die kollig nadat die Belgiese polisie ’n klopjag op PostNL-depots uitgevoer het en nege mense in hegtenis geneem is. Ses van hulle is later weer vrygelaat. Die twee wat nog in aanhouding is, is die Belgiese uitvoerende hoof en sy adjunk.

Die polisie ondersoek ’n saak van mensehandel, samewerking met ’n kriminele organisasie en onwettige indiensnemingspraktyke, berig VRT NWS.

PostNL was einde verlede jaar ook in die nuus nadat die joernalis Joppe Nuyts in die geheim by die diens gewerk het en met behulp van ’n verborge kamera ’n verslag saamgestel het wat toon dat subkontrakteurs van PostNL sonder rybewyse ry, minderjariges in diens neem en werknemers uitsonderlik lang ure moet werk.

Intussen bly twee depots van PostNL afgesper, met sowat 8 000 pakkette wat wag om afgelewer te word.

Die Belgiese minister van staatsondernemings, Petra de Sutter, het intussen bekend gemaak dat ’n nuwe poswet ingevoer word wat sal verseker dat ’n veel groter deel van die personeel permanent in diens is en dat uitkontraktering beperk word.

Nederlandse treindienste knars tot stilstand

’n Tegniese probleem het afgelope Sondag veroorsaak dat die hele Nederlandse treinnetwerk buite werking was.

Die NOS berig die probleme het teen 12:00 ontstaan, wat veroorsaak het dat talle reisigers gestrand gelaat is. Hoewel die oorsaak van die probleem binne enkele ure opgelos is, het dit nog ure geduur voordat die diens weer op dreef kon kom.

“Hoewel de oorzaak van de storing inmiddels verholpen is, is de impact groot. Om betrouwbaar te kunnen opstarten, moeten systemen geüpdatet worden en treinen op de juiste plaats worden gebracht,” laat weet die NS in ’n verklaring.

Die rede vir die landwye probleem was volgens die NS dat die rugsteunstelsel wat gebruik word in geval van ’n tegniese probleem, Sondag nie na behore gewerk het nie.

Staatsekretaris Vivianne Heijnen het skerp op die gebeure gereageer. Sy sê die NS het Sondag “een zeer slechte beurt gemaakt” en noem die manier waarop die NS die probleem hanteer het “echt onder de maat”.

Heijnen sê: “Ik wil van de NS precies horen waarom het hele treinverkeer plat is gelegd en waarom er geen vervangend vervoer is geregeld.”

Pendelaars het op sosiale media ook hul woede oor die probleem uitgedruk:

Sommige politici het ook van die geleentheid gebruik gemaak om reklame te maak:

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top