Zero tekens van Dag Zero

  • 0

Die gevreesde Dag Zero wanneer Kapenaars se krane nog dié jaar sou opdroog is tot volgende jaar uitgestel.

Hoewel daar steeds geen goeie reën in die droogtegeteisterde Wes-Kaap geval het nie en die damme kommerwekkend leeg is, het Dag Zero vir ten minste die res van die jaar soos water in die sand verdwyn.

Daar is aanvanklik verwag dat hierdie datum 22 April sou wees, maar dit is kort daarna verander na 12 April. Dit is later geskuif na 16 April, en daarna weer verander na onderskeidelik 11 Mei, 4 Junie en 9 Julie. Dag Zero is nou onbepaald uitgestel.

Op die stadsraad se webwerf staan slegs Dag Zero is tot volgende  jaar uitgestel, maar daar word nie verduidelik presies waarom nie.

Kaapstad se inwoners verwelkom die feit dat Dag Zero aangeskuif is tot ten minste volgende jaar maar is in die war oor die redes waarom dit gebeur het.

Swak kommunikasie deur die stadsraad van Kaapstad en politieke opportunisme kry nou die skuld vir die onsekerheid wat die afgelope paar maande soos ’n swaard oor die koppe van Stad Kaapstad se inwoners gehang het.

Damvlakke in die provinsie is volgens die stadsraad se webwerf steeds slegs 23 persent vol. Die huidige daaglikse verbruik van 511 miljoen liter is ook steeds hoër as die teiken van 450 miljoen liter water per dag.

Die reënseisoen het nog nie begin nie en talle inwoners is in die war oor wat presies gebeur het dat Dag Zero skielik onbepaald uitgestel kan word.

Daar word wyd bespiegel dat politieke redes agter die besluit sit om die erns van die droogte minder prominent te verkondig.

Dit wil voorkom of daar doelbewus besluit is om die droogte te begin onderspeel uit vrees vir die negatiewe impak wat die voortdurende waarskuwing van ’n Dag Zero op Kaapstad se toerisme het en ook die negatiewe impak daarvan op beleggingsmoontlikhede in die stad.

Kenners waarsku die waterkrisis is beslis nie iets van die verlede nie en met damme slegs 23 persent vol is daar nog niks waaroor Kapenaars kan juig nie.

Volgens ’n verklaring van Agri SA het Kaapstad se Dag Zero-scenario gewone Kapenaars se aandag op die erns van die huidige droogte gevestig. Dit het dalk egter ook sy eie onvoorsiene waterbestuurskrisis geskep.

Paniekbevange inwoners (wat dit kon bekostig) het begin om rou- sowel as behandelde water op te berg in afwagting van Dag Zero. Hierdie ontwrigting van normale verbruikspatrone het geweldige probleme vir die Stad se waterbeplanners asook die Departement van Water en Sanitasie geskep.

Hoewel die Stad erken dat sy beraming van watervoorsiening hersien is as gevolg van ’n vermindering in die landbou se waterverbruik, het dit versuim om erkenning te gee aan die landbousektor se volgehoue pogings in dié verband of die rampspoedige effek van die droogte op die landbousektor. Volgens Agri SA se hoof van Natuurlike Hulpbronne, Janse Rabie, skep die aankondiging (en herroeping) van Dag Zero die indruk dat dit ’n vals alarm was waarvoor die landbousektor nou moet betaal.

“Terwyl ons dankbaar is dat Dag Zero nou blykbaar afgeweer is, moet mense besef dat die huidige droogte geensins verby is nie. Dit bly steeds ’n nasionale ramp wat veral in die landbousektor van die Wes-Kaap by die dag erger word. Ons versoek alle regeringsvlakke om deurgaans te fokus op die erns van die droogte en om die kritieke droogtehulpmaatreëls vir die landbousektor te verbeter,” sê Rabie.

Terwyl Dag Zero blykbaar afgeweer is, sleep die droogte in die provinsie en die stad voort. Die Nasionale Waterbeperkings van 12 Januarie 2018, sowel as die Stad se Vlak 6b Waterbeperkings, is steeds in plek en mense is gevra om te voldoen aan die voorskrifte, onder andere ’n beperking op hul persoonlike waterverbruik, naamlik hoogstens 50 liter per persoon per dag.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top