..........
“Ek vra verskoning daarvoor. Maar hierdie bose platform, wat geen effektiewe manier kan vind om foprekenings uit te filter nie, en haatspraak toelaat (soos in die grondwet gedefinieer) bied geen alternatief nie.”
..........
Die twietgierige DA-politikus Helen Zille se Twitterstem het uiteindelik stil geword. Sy het besluit om haar rekening te sluit en ’n nuwe rekening oop te maak waartoe slegs ’n klein uitgesoekte groepie kennisse van haar toegang sal hê.
Zille, wat bekend is vir haar Twitterliefde, was in die verlede telkemale in hewige polemieke en bekgevegte betrokke as gevolg van haar omstrede twiets. Sy is by geleentheid selfs deur haar eie party oor die vingers getik daarvoor.
Vir die derduisende Twitterati wat haar twiets getrou volg, was haar aankondiging om Twitterland te verlaat ’n verrassing. Onder haar ongeveer een en ’n half miljoen volgelinge op Twitter was dié vuurvreterpolitikus tegelyk geliefd en gehaat.
Haar aanhangers kon nie genoeg kry van haar twiets nie. Hulle het haar geloof vir wat hulle bestempel as haar onverskrokke eerlikheid. Vir haar opponente was haar twiets ’n doring in die vlees. Hulle het geen steen onaangeraak gelaat om haar te laat les opsê daaroor nie.
Tydens haar amp as premier van die Wes-Kaap was dit so erg dat haar eie party haar mond op Twitter wou snoer. Dit was veral haar twiet in 2017 dat kolonialisme nie net sleg was nie, wat byna haar politieke loopbaan gekelder het. Hoe sy ook al haar standpunt daarna probeer verduidelik het, het dit haar selfs in haar eie party duur te staan gekom.
Verlede jaar in Julie het Zille na nóg ’n mediastorm oor haar twiets gesê sy sal die platform nooit verlaat nie. Sake het egter die afgelope week drasties verander.
..........
“Haar besluit het uiteenlopende reaksie by haar volgelinge uitgelok. Sommige sê hulle neem haar nie kwalik nie en sou dieselfde as sy gedoen het. Ander het haar skerp gekritiseer en sê sy dink haar narratief is die enigste waarheid.”
..........
Dit volg na ’n inskrywing van haar op Twitter waar haar kleindogter saam met haar kos maak. Na ’n venynige reeks persoonlike aanvalle op haar waarby haar kleindogter betrek is, het Suid-Afrika se ystervrou, soos baie haar noem, besluit genoeg is genoeg en die handdoek ingegooi. Voortaan sal slegs diegene wat een vir een deur haar gekeur word, op haar nuwe rekening toegelaat word. Sy sê ongelukkig beteken dit ook dat baie mense wat in rasionele debat belangstel, deur haar uitgesluit sal moet word omdat sy hulle nie ken nie.
A thread 1) After the grotesque treatment of my grand-daughter on Twitter ydy, I am closing this account. I say goodbye to some of my followers, and good riddance to the haters, bots and sock-puppets that constitute such a large percentage of my 1,4-million plus followers.
— Helen Zille (@helenzille) February 17, 2020
“Ek vra verskoning daarvoor. Maar hierdie bose platform, wat geen effektiewe manier kan vind om foprekenings uit te filter nie, en haatspraak toelaat (soos in die grondwet gedefinieer) bied geen alternatief nie. Dit gaan jou goed as jy dit goed bedoel. Ek is hier uit,” het Zille in haar laaste twiet geskryf.
Sy sit die redes vir haar besluit puntsgewys in ’n reeks van sewe afsonderlike twiets uiteen. Die laaste strooi was die aanvalle op haar kleindogter. Daar is onder meer getwiet dat sy haar swart kleindogter vir politieke doeleindes misbruik. Van die twiets was van ’n baie persoonlike en beledigende aard.
Daar is byvoorbeeld beweer sy sit met ’n sweep en beveel die arme meisie rond soos wat haar Kaukasiese oupa gedoen het. Iemand anders het gesê die meisie moet uit hierdie lokval gered word en dat Zille haar vir politieke gewin misbruik.
Zille sê in haar vaarwel-twiet Twitter het vervlak tot ’n platform van irrasionele boendoegedrag wat gebruik word om ’n agenda van haat te bedryf om maksimum skade te berokken.
Sy het aanvanklik probeer om ontslae te raak van die groot aantal vals profiele op haar Twitterrekening, maar was onsuksesvol.
Sy sê sy het haar bes probeer om van Twitter ’n platform van beskaafde en rasionele debat te maak, maar dit is duidelik nie moontlik nie. “Dit het verval in ’n spasie vir verdraaiing, dekontekstualisering, demonisering en dubbele standaarde.”
Haar besluit het uiteenlopende reaksie by haar volgelinge uitgelok. Sommige sê hulle neem haar nie kwalik nie en sou dieselfde as sy gedoen het. Ander het haar skerp gekritiseer en sê sy dink haar narratief is die enigste waarheid.
Buro: MvH