Zille se twiet het DA weer die harnas in

  • 0

Helen Zille in 2011 (Foto: The Democratic Alliance [CC BY-SA 2.0], via Wikimedia Commons)

Die DA se twietgierige Federale Raad-voorsitter, Helen Zille, het al wéér haar vingers verbrand met een van haar omstrede twiets.

Dié slag het sy getwiet daar is vandag meer rassistiese wette as gedurende apartheid. Haar jongste twiets het soos gewoonlik die politieke tonge los en haar party weer in yslike verleentheid gedompel.

Die voorsitter van die DA se federale regskommissie, Glynnis Breytenbach, het reeds bevestig dat ’n amptelike ondersoek op hande is om vas te stel of Zille se jongste twiets die DA se grondwet of partybeleid oortree het.

Die tussentydse DA-leier, John  Steenhuisen, wat moet skarrel om vure dood te slaan, het Zille die swye opgelê nadat haar jongste twiet die brose tweespalt in die party opnuut na die oppervlak gebring het.

Die Sowetan berig dat al hoe meer van haar swart partygenote nou moeg is vir haar omstrede uitlatings oor ras. Selfs haar swart bondgenote in die party spreek hulle al hoe harder teen haar uit.

Haar lang bondgenootskap met die DA se Wes-Kaapse leier, Bonginkosi Madikizela, is volgens die Sowetan nou ook in die weegskaal. Verskeie leiersfigure in die party het glo beswaar gemaak teen haar twiet en dit as “onsensitief” afgemaak.

Sonder om Zille se naam te noem het Madikizela dit duidelik gemaak aan die Sowetan dat sy fundamenteel van Zille se uitlatings op Twitter verskil.

“Wanneer mense sê vandag se wette is meer rassisties, verskil ek fundamenteel daarmee aangesien apartheid se rassistiese wette hoofsaaklik wit mense bemagtig het. Ons het wette in Suid-Afrika wat veronderstel is om swart mense te bemagtig maar dit gebeur nie,” het Madikizela volgens Netwerk24 gesê.

Netwerk24 berig Zille se mond is nou finaal gesnoer. Sy sal glo eers weer in ’n nuwe boek wat sy gevra is om te skryf, praat “oor dinge wat nie vandag gesê kan word nie”.

Zille se volgelinge en teenstanders het uiteenlopend op haar jongste twiet gereageer.

Simon Grindrod het op Twitter gesê die DA eis gereeld dat die ANC en die EFF teen hulle lede moet optree as hulle ongedissiplineerd is, maar Steenhuisen is totaal impotent wanneer Zille vir hom die middelvinger wys.

Van haar ondersteuners meen egter sy dwing respek af en skroom nie om die waarheid te praat nie. “Hoekom haar nou daaroor probeer stilmaak, om ’n paar swart stemme te werf?” wil iemand op Netwerk24 se kommentaarblad weet.

Die jongste relletjie volg enkele maande nadat sy self aangekondig het dat sy haar openbare Twitter-rekening gaan sluit. Sy het toe gesê sy het besluit om haar Twitter-rekening te sluit en ’n nuwe rekening oop te maak waartoe slegs ’n klein uitgesoekte groepie kennisse van haar toegang sal hê.

Die laaste paar weke het haar vingers egter duidelik weer begin jeuk en het sy oudergewoonte weer al hoe meer uitgesproke geraak op Twitter.

Tydens haar amp as premier was dit so erg dat haar eie party haar mond op Twitter wou snoer. Dit was veral haar twiet in 2017 dat kolonialisme nie net sleg was nie wat byna haar politieke loopbaan gekelder het. Hoe sy ook al haar standpunt daarna probeer verduidelik het, het dit haar selfs in haar eie party duur te staan gekom.

Verlede jaar in Julie het Zille na nóg ’n mediastorm oor haar twiets gesê sy sal die platform nooit verlaat nie.

Die politieke kommentator Tim du Plessis het Sondag in Rapport geskryf die probleem met Zille is nie wát sy sê nie. Ook nie die veglustige trant van haat twiets nie. Hy sê omdat sy steeds ’n belangrike amp in die DA beklee, raak haar aktivisme telkens verstrengel in mislike partypolitiek.

“Dit is tyd vir Zille om die blou hoed op te hang. Die spieël tussen haar en die DA het gebreek,” skryf Du Plessis in sy rubriek oor die jongste twis in die party. Hy sê sonder haar kan die DA se twee faksies – die “ANC lite” en die Prog-liberale – dan in rus en vrede voortbaklei.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top