Die pas afgelope parlementêre en presidentsverkiesing in Zimbabwe het vooraf die belofte ingehou vir ’n nuwe politieke geboorte, soortgelyk aan wat Suid-Afrika tussen Desember en Februarie ervaar het met die “magsoorname” deur Cyril Ramaphosa.
Uiteraard word die gebeure in Suid-Afrika se buurland plaaslik met intense belangstelling dopgehou, aangesien na raming tot tussen twee en drie miljoen Zimbabwiërs – vir ekonomiese en politieke oorlewing – hier tuis is.
Maar Zimbabwe is ’n ander land – en dit was weer duidelik in die nadraai van die bekendmaking van die verkiesingsuitslae: dié het uit die staanspoor, ofskoon toe nog onbevestig, op ’n oorwinning vir Emmerson Mnangagwa en Zanu-PF gedui.
Die amptelike uitslae het die onsekerheid uit die weg geruim: Mnangagwa het 50,8% van die stemme teenoor Nelson Chamisa van die MDC se 44,3% op hom verenig; die res is onder die (allemintige) 21 ander presidensiële kandidate verdeel.
Mnangagwa het ses uit die tien provinsies gewen en Chamisa die oorblywende vier – en terwyl laasgenoemde die gunstelingkandidaat in die stedelike gebiede was, het die platteland aan sy teenstander behoort. Dit is in ooreenstemming met ander jare se verkiesingstendense nadat die MDC onder Morgan Tsvangirai, wat vroeër vanjaar weens siekte gesterf het, op die politieke toneel verskyn het.
Wat sou dan aanleiding gegee het tot die (voortydige) feesviering en aankondiging deur die opposisie-MDC se presidensiële kandidaat, Chamisa, dat sy party as oorwinnaar uit die stryd sou tree? Of dit ’n doelbewuste ontwrigtingstrategie was, is iets waaroor ontleders gewonder het. Indien die MDC en Chamisa egter wel oortuig was dat hulle die verkiesing gewen het, selfs voordat die Zimbabwiese Verkiesingskommissie (ZEC) enige uitslae bekend gemaak het, sou ’n mens graag wou weet waarop hulle dit gebaseer het.
Dit is moontlik dat hulle nou volhard met hul bewerings van verkiesingsbedrog en aantygings van ongeloofwaardigheid teen die ZEC nadat die stemmeverskil tussen Chamisa en Mnangagwa slegs 300 000 was.
En dis dalk in hierdie kop-aan-kop-uitslag tussen ’n nuweling en ’n veteraan dat die potensiaal vir ’n werklike “nuwe dagbreek” vir Zimbabwe opgesluit is: Chamisa is ’n 40-jarige regsgeleerde en pastoor wat eers vroeër vanjaar met sy verjaardag kon kwalifiseer om aan die presidentsverkiesing deel te neem – en dít teen die 75-jarige Zanu-PF- en militêre “grootman” Mnangagwa, alombekend as “Die Krokodil”.
Mnangagwa het die presidensiële leisels in November verlede jaar oorgeneem by Robert Mugabe, wat sedert 1980 regeer het, met Mnangagwa vir die grootste deel van hierdie uitgerekte termyn langs hom. Toe hul paaie skei met die afdanking van Mnangagwa as adjunkpresident laat verlede jaar, glo onder druk van Mugabe se vrou, Grace, is die bal ook aan die rol gesit vir die einde van die Mugabes se ysterhandbewind.
Terwyl die internasionale gemeenskap en Zimbabwiërs in die diaspora in die aanloop tot hierdie week se verkiesing asem opgehou het oor hoe sake sou verloop, het Mugabe met ’n perskonferensie verras. Nou weinig in die nuus of in die openbaar te sien, het hy wel die behoefte gehad om die wêreld te laat weet hoe ongelukkig hy steeds is met diegene wat hom sou uitverkoop en sy vertroue in hulle (lees: Mnangagwa en maters) geskend het.
Die vraag was of Mugabe se (nuutgevonde) afkeer van Zanu-PF en sy presidentskandidaat dié party se verkiesingsteun negatief sou beïnvloed en of dit tot voordeel of nadeel van die MDC en Chamisa sou wees (selfs al was Mugabe nie duidelik oor vir wie hy sou stem nie). Noudat die uitslae bekend is, toon dit dat Mugabe dalk sy eie oorblywende invloed op sy land se politieke landskap oorskat het.
Die Mnangagwa-era het, soos die Ramaphosa-era vroeër in Suid-Afrika, aangebreek. Die twitter-naam vir “President of Zimbabwe” kon dus onveranderd gelaat word: @edmnangagwa. En dié het getwiet: “I am humbled to be elected President of the Second Republic of Zimbabwe. Though we may have been divided at the polls, we are united in our dreams. This is a new beginning. Let us join hands, in peace, unity & love, & together build a new Zimbabwe for all!”
Uit Suid-Afrika het Ramaphosa die nuutverkose leier van Zimbabwe gelukgewens en ’n beroep op die opposisie gedoen om die verkiesingsuitslae te aanvaar. Die rede is voor die hand liggend: ’n stabiele Zimbabwe met ’n ekonomie wat groei is ook belangrik vir Suid-Afrika en Ramaphosa se “nuwe dagbreek” waarmee hy die skade van sy voorganger, Jacob Zuma, moet herstel, soos wat Mnangagwa se “Mugabe-herstelproses” nou ’n aanvang neem.
Maar dat minstens ses mense dood en tientalle beseer is toe die Zim-weermag op protesterende MDC-ondersteuners toegeslaan het – à la die Mugabe-bewindsjare – te midde van die afwagting op die amptelike verkiesingsuitslae, bied geen gerusstelling oor ’n “nuwe dagbreek” vir Zimbabwe nie.
In reaksie op die geweld het Kofi Annan, die voormalige sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, hierdie pleidooi gelewer: “We call on all those responsible to step back from the brink and give the people of #Zimbabwe the opportunity of a peaceful transition to #democracy.”
Of Mnangagwa, wat as staatshoof ook die opperbevelvoerder van die weermag is, werklik verbind is tot sodanige vreedsame oorgang tot demokrasie, is te betwyfel as mens sy eie reaksie op die geweld in ag neem. Hoewel hy in ’n twiet meegevoel met die slagoffers se families betuig het, “ongeag die omstandighede”, het hy meer daarop klem gelê om die MDC as vermeende “aanstigters” van die geweld uit te sonder, maar nie ’n woord oor waarom dit enigsins vir die weermag nodig was om skerppunt-ammunisie teen betogende burgers te gebruik nie – en geen verskoning daarvoor nie. Dis immers nie in die aard van ’n krokodil om ’n traan te stort nie.
Buro: MvH