Die geskiedenis sal toon dat hoofregter Raymond Zondo sy toegewese verantwoordelikheid met wysheid en ywer nagekom het. Meer nog: Zondo sal onthou word vir die standaard vir eerlikheid in openbare aangeleenthede wat hy gevestig het wat ons land nog baie jare sal dien.
Dit was een van verskeie pluimpies wat Zondo ontvang het tydens die afgelope week se afskeidseremonies vir hom.
Die minister van justisie en konstitusionele ontwikkeling, Thembi Simelane, het Zondo tydens ’n afskeidsdinee in Melrose Arch, Johannesburg bestempel as ’n baken van wysheid, gelouter deur ervaring, onwrikbaar in beginsel en integriteit, en iemand wat met beide nederigheid en moed beliggaam is.
Zondo is veral geprys vir sy werk by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.
Hy tree aan die einde van Augustus 2024 af na ’n voortreflike regterlike loopbaan van 27 jaar. Sy ampstermyn eindig op 31 Augustus, waarna regter Mandisa Maya die rol by hom sal oorneem.
[HAPPENING TODAY] Chief Justice Raymond Zondo will be honoured in a Special Ceremonial Sitting of the Constitutional Court. This is the day on which the Chief Justice will hand down his last judgment. #ChiefJusticeZondo pic.twitter.com/MHxtqIgFrD
— @SAgovnews (@SAgovnews) August 21, 2024
Gedurende sy termyn was Zondo deurslaggewend in die bevordering van die transformasie van die regbank, wat die Arbeidsappèlhof deur beduidende uitdagings gelei het, maar hy sal veral onthou word vir sy rol as die voorsitter van die staatskapingskommissie.
Zondo is ook Woensdag tydens ’n spesiale seremoniële sitting van die Konstitusionele Hof vereer vir sy werk. Dit was die dag waarop hy sy laaste uitspraak gelewer het.
Chief Justice Raymond Zondo is now delivering his final judgement. #ChiefJusticeZondo pic.twitter.com/tzcci2gOSt
— @SAgovnews (@SAgovnews) August 21, 2024
Simelane het Zondo tydens Dinsdagaand se dinee geprys vir sy leiding van die staatskapingskommissie toe die land alles in sy vermoë moes doen om die oppergesag van die reg te handhaaf.
“Dit was ’n taak wat hy met waardigheid, regverdigheid en integriteit aangepak het. Die werk van wat nou bekend staan as die Zondo-kommissie, bly ’n integrale deel van ons pogings om ons land te herbou in die nasleep van een van die skandelikste tydperke in ons demokratiese geskiedenis.
“Die Zondo-kommissie was ’n bevestiging van ons grondwetlike orde, die oppergesag van die reg en die krag van ons instellings. Die kommissie het veel meer gedoen as om die omvang en aard van staatskaping in noukeurige besonderhede te openbaar,” het sy gesê.
Farewell Dinner for Chief Justice R M M Zondo. The farewell dinner takes place on the eve of a Special Ceremonial Sitting of the Constitutional Court, at which the Judiciary, the Executive, Parliament, and the legal profession will honour Chief Justice Zondo’s contributions to… pic.twitter.com/pUSmuelusL
— South African Government (@GovernmentZA) August 20, 2024
Die minister het bygevoeg dat die kommissie begin het om die samelewing se vertroue te herstel in ons regstelsel se vermoë om foute reg te stel en om diegene wat verantwoordelik is vir oortredings tot verantwoording te roep.
“Deur die diens wat hy aan die nasie gelewer het, deur sy optrede en sy houding, het hoofregter Raymond Zondo die bewondering, respek en dankbaarheid van alle Suid-Afrikaners verdien,” het sy gesê.
Simelane het bygevoeg dat die regering se taak nou is om in Zondo se voetspore die koers wat hy aangedui het, te volg.
Sy sê die regering het reeds baie gedoen om die aanbevelings van die kommissie te implementeer.
“Die wetstoepassingsagentskappe het belangrike vordering gemaak met die ondersoek en vervolging van beweerde oortreders en het begin om gesteelde geld terug te kry.”
Die minister sê terwyl daar voortgegaan word om die werk te verskerp, is dit almal se plig om op alle terreine van die openbare lewe die etiese standaarde te verskans wat die Zondo-kommissie gehelp het om te definieer.
Glynnis Breytenbach, die DA-woordvoerder oor justisie en konstitusionele ontwikkeling, het gesê onder leiding van Zondo is sleutelprogramme geïmplementeer om die regbank suksesvol te transformeer om volle verteenwoordiging te verseker.
“Hy het nie net doeltreffende werk in die bestuur van die regbank gedoen nie, maar hy het ook aansienlik bygedra tot die ontwikkeling van regspraak in Suid-Afrika,” het Breytenbach opgemerk.
Simelane het hoofregter Zondo die beste toegewens met sy aftrede.
“Die nasie bedank u vir u diens. Ons is vol vertroue dat u belangrike stem en wyse raad nie vir ons verlore sal gaan in hierdie nuwe era in die lewe van ons land nie,” het die minister gesê.