Zondo hoor van moord en doodsdreigemente

  • 0

Skrikwekkende getuienis van doodsdreigemente en selfs moord is Woensdag voor die Zondo-kommissie gelewer toe ’n boer van Vrede sy getuienis voor die kommissie voortgesit het.

’n Kleinboer van Thembalihle, Ephraim Dhlamini, het aan die Zondo-kommissie gesê hy wil alles oor die omstrede Estina-suiwelprojek in die Vrystaat aan regter Zondo vertel voordat hy ook vermoor word. Hy is een van die begunstigdes in die projek wat sy ontnugtering oor die grootskaalse korrupsie rakende die projek met die kommissie gedeel het.

Ephraim Dhlamini (Foto: YouTube)

Volgens Dhlamini is hy met die dood gedreig omdat hy nie wou stilbly oor wat by die omstrede projek gebeur nie. Dhlamini het ’n video geneem van ’n persoon wat gesê het hy het ’n huurmoordenaar gekry om hom te vermoor en dat die huurmoordenaar ingestem het. Dhlamini het vroeër getuig oor melk en ander voorraad wat sekere mense snags probeer verkoop het. Volgens hom het die transaksies snags plaasgevind omdat die voorraad van die plaas gesteel is.

Hy het aan die kommissie gesê as mens in sy omgewing oor die projek praat, is jou lewe in gevaar. Hy het name genoem van mense wat glo reeds vermoor is en sê sy eie lewe is ook in gevaar. Hoewel hy dit by die polisie en die Valke aangemeld het, is daar niks gedoen om die dreigemente teen hom behoorlik te ondersoek nie.

Dhlamini het aan regter Zondo vertel van dreigemente wat hy ontvang het van iemand wat by die munisipaliteit werksaam is. Hy het geen beskerming van die polisie ontvang nie en daar is niks gedoen om sy klagtes te ondersoek nie.

Regter Zondo het opdrag gegee dat die kommissie se ondersoekspan vasstel waarom die polisie of die Valke nie die klagte verder ondersoek het of aan Dhlamini terugrapporteer het hoe die ondersoek verloop nie. Zondo sê, indien nodig, moet die nodige arrestasies gedoen word. Die persoon wat Dhlamini met die dood gedreig het, is nooit in hegtenis geneem nie en werk steeds by die munisipaliteit.

Volgens Dhlamini is hy beter in staat om na sy eie veiligheid om te sien as die polisie. Daarom het hy ’n vuurwapen bekom om homself en sy gesin te beskerm. “Hulle het gesê ons moet doodgemaak word, want ons maak die ander mense wat by die projek betrokke is, ook bewus van hulle regte.”

Regter Zondo het hom na sy getuienis bedank vir die moed wat hy aan die dag gelê het om voor die kommissie te getuig. Hy het ook opdrag gegee dat die Zondo-kommissie se administrasie die nodige reëlings tref om hom te beskerm en na sy veiligheid om te sien.

Die openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, wat reeds op verskeie plekke ernstig onder verdenking is vir die wyse hoe sy haar ondersoeke hanteer, het ook skerp onder skoot gekom in Dhlamini se getuienis.

Hy het aan regter Zondo gesê hy het geen vertroue in die openbare beskermer nie. Sy het glo voor haar eerste verslag oor die Estina-projek nie met een van diegene gepraat wat veronderstel was om te baat by die projek nie. Hy het dit duidelik gemaak dat hy haar steeds nie vertrou nie.

Verskeie hooggeplaaste sleutelfigure soos die ANC se sekretaris-generaal en voormalige Vrystaatse premier, Ace Magashule, en talle ander regeringsamptenare was na bewering saam met die Gupta-broers betrokke by die ontwikkeling van die Estina-projek met leë beloftes aan opkomende boere wat nooit realiseer het nie.

Die Guptas het glo miljoene rand van die projek gebruik vir ’n spogtroue by Sun City, terwyl die plaaslike kleinboere wat by die projek moet baat vind, nooit ’n sent gekry het nie.

Nog ’n kleinboer wat veronderstel was om voordeel te trek uit die mislukte Estina-projek, Meshack Mpaleni Ncongwane, het ook aan die kommissie vertel van sy ervarings wat ooreenstem met die van Dhlamini.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top