’n Katnes van korrupsie en bedrog. Dit is hoe die bevindings van die Zondo-kommissie se eerste verslag oor die geregtelike kommissie se ondersoek na staatskaping in een kort sin opgesom kan word.
Met die verslag het Zondo nou die deur wawyd oopgemaak vir die land se wetstoepassers om hulle werk te doen sodat die Nasionale Vervolgingsgesag die skuldiges kan vervolg. Sowel Zondo as Ramaphosa sê daar is geen rede waarom vervolgings nie nou reeds ingestel kan word teen diegene wat geïmpliseer is nie.
Deel een van die verslag, wat Dinsdag aan Ramaphosa oorhandig is, en ook aan die publiek beskikbaar gestel is, lees soos ’n riller en is maar slegs die oortjies van die seekoei wat uitsteek.
Die verslag wemel van “vuil geld” wat hande verwissel het en eerlike mense wat in die pad gesteek en met gulsige opportuniste in sleutelposisies vervang is.
In hierdie ingewikkelde tapisserie van korrupsie en bedrog duik die naam van die land se voormalige staatspresident, Jacob Zuma, telkens op. Zuma of sy stigting se naam word nie minder nie 193 keer in Zondo se eerste verslag van 874 bladsye genoem. Dit is duidelik dat hy ’n sleutelrol gespeel het in die plundering van die staatskas tydens sy bewind. Dit verklaar ook waarom hy nie voor die kommissie wou getuig nie.
Zondo sê in sy verslag Zuma het heeltemal sonder enige geldige rede uit die kommissie gevlug. “Hy het dit gedoen om te verhoed dat hy vrae in die kommissie hoef te beantwoord. Hy wou nie aan die nasie rekenskap gee nie. Hy het geweet hy gaan nie antwoorde hê op baie van die vrae wat aan hom gestel sou word nie.”
Die getuienis wat deur die kommissie aangehoor is, het onder andere aan die lig gebring dat Bosasa byvoorbeeld jare lank diep betrokke was by korrupsie wat tenders van die regering behels het deur middel van departemente of regeringsentiteite soos die Departement van Korrektiewe Dienste (tronke) en die Departement van Binnelandse Sake en die lughawensmaatskappy.
Die bewyse het ook onthul dat Bosasa skenkings aan die ANC in kontant en andersins gemaak het. Dit kan nie wees dat dit net “skoon” geld was wat vir die ANC gegee is of dat Bosasa nie “vuil” geld aan die ANC bestee het nie, sê Zondo.
Die getuienis voor die kommissie het nie gepoog om die volle omvang vas te stel van korrupsie wat verband hou met die ANC se finansiering of die mate waarin ander politieke partye ook geïmpliseer mag wees nie.
Zondo sê dit spreek vanself dat die sake wat in sy verslag na vore kom deur die Nasionale Vervolgingsgesag geprioritiseer moet word, maar dit alleen sal nie die probleem aanspreek nie. Wetgewing word vereis om sulke aktiwiteite te voorkom, bloot te lê en te kriminaliseer.
Een van die belangrike aanbevelings in Zondo se eerste verslag is ’n Nasionale Handves teen Korrupsie wat onder andere die etiese standaarde uiteensit wat toegepas moet word.
Zondo sê die regering kan nie vertrou word om korrupsie hok te slaan nie.
Hy sê staatskaping, en die blootstelling daarvan, het die nasionale diskoers die afgelope jare oorheers. Die effek was voorspelbaar en negatief: ’n verlies aan vertroue in beide die regering en politieke partye en in die sakesektor. Dit is vererger deur frustrasie weens die gebrek aan aanspreeklikheid vir oortredings.
Volgens die kommissie is dit hoog tyd om stappe te doen om die gebroke vertroue te herstel. Die eerste stap in daardie rigting moet wees dat die hele samelewing gesamentlik ’n nasionale verbintenis onderskryf om korrupsie in die openbare lewe en in die verkryging van goedere en dienste uit te skakel.
Die kommissie beveel aan dat daar, by wyse van ’n gebaar wat beide simbolies en inhoudelik nodig is om ’n skoon bladsy om te slaan, ’n Nasionale Handves teen Korrupsie deur die regering aanvaar moet word wat ’n gestandaardiseerde gedragskode insluit.
“Suid-Afrika benodig ’n antikorrupsieliggaam vry van politieke toesig en wat in staat is om korrupsie met vars en toegewyde energie te bekamp. Openbare vertroue sal nie anders herstel kan word nie. Die uiteindelike verantwoordelikheid om die leiding te neem in die stryd teen korrupsie kan nie weer aan ’n regering of departement oorgelaat word of onderhewig wees aan ministeriële beheer nie.”
Wat volgens Zondo nodig is, is gespesialiseerde toesig- en moniteringsowerhede wat op ’n onafhanklike basis werk en slegs aan die Grondwet en die wette van die land onderworpe is.
Hy sê dit impliseer ook dat die keuse van amptenare wat daarin die leiding sal neem se aanstellings nie aan die diskresie van die regering oorgelaat word nie. Sulke aanstellings moet in ooreenstemming met ’n deursigtige prosedure ’n openbare proses wees.
Die volledige verslag kan hier by die presidensie se webwerf afgelaai word by dokumente onderaan die webwerf.