Zondo sê kiesers moet self die land se president kies

  • 0

Hoe op aarde het dit gebeur dat iemand soos oudpresident Jacob Zuma wat, as ’n mens die Zondo-verslag lees, skynbaar die Guptas gehelp het om die land rot en kaal te steel, president van die land kon word?

Dit is een van die vrae wat regter Raymond Zondo hom afgevra het in sy finale verslag oor staatskaping wat hy Woensdag aan president Cyril Ramaphosa oorhandig het.

Die kommissie het sy werk in Augustus 2018 begin. Die kommissie is aanvanklik 180 dae gegee om sy werk af te handel, maar die werk het uiteindelik vier jaar geneem nadat die spertyd verskeie keer uitgestel is.

Gedurende die openbare verhore het meer as 330 getuies getuig.

Uit die verslag blyk dit dat Zuma een van die hoofoorsake van staatskaping was.

As Zondo sy sin kan kry, moet Suid-Afrikaners, net soos in Amerika, liewer self besluit wie hulle president word en nie die party met die grootste steun in die parlement nie.

Dit is egter te bevraagteken of die ANC hierdie aanbeveling sal steun en dit sal in elk geval ’n Grondwetwysiging verg om dit moontlik te maak.

Zondo sê in sy verslag die kommissie moes hom uiteindelik afvra hoe op aarde dit moontlik was dat iemand soos Zuma president kon word en goeie eerlike staatsamptenare na willekeur in die pad kon steek om hulle met Gutpa-lakeie te vervang. “’n President wat die minister van finansies afdank, net omdat sy vriende iemand anders in daardie posisie wou hê, wat met hulle sou saamwerk om die land se tesourie te kaap.”

Zuma was volgens Zondo ’n gewillige pion van die Guptas gewees en die ANC het daardie mag aan hom gegee.

Volgens Zondo kon Zuma dit regkry om president te word net omdat hy deur die ANC in staat gestel is om so ’n hoë amp te beklee.

Zondo sê hoewel dit so mag wees dat Zuma steeds president sou kon geword het as hy direk verkies was ondanks die meer as 700 kriminele klagtes teen hom, kon daar moontlik ANC-ondersteuners gewees het wat nooit vir hom as president van die land sou gestem het nie.

Hoewel daar geen verskering gegee kan word dat ’n tweede Zuma, of iemand selfs erger, president van die land sal word as die volk hom direk sou verkies nie, meen Zondo dit sal dan ten minste die kiesers se eie skuld wees as hulle ’n onwaarskynlike karakter as president verkies, soos wat dit met Trump in Amerika die geval was.

Zondo se verslag het ook die ANC se beleid van kaderontplooiing skerp gekritiseer. Hy het die getuienis van Cyril Ramaphosa verwerp dat die betrokke komitee bloot “aanbevelings” maak. Hy sê selfs die kabinet was de facto gebonde aan die besluite van die komitee, wat beteken dat sy “aanbevelings” in werklikheid instruksies is.

Ramaphosa het nie ongeskonde uit Zondo se verslag gekom nie. Hoewel hy nie soos sy voorganger Zuma en verskeie ander hoë bome in die ANC direk by staatskaping betrek word nie, moes hy meer gedoen het om dit keer, sê Zondo.

Daar word verskeie leemtes in Ramaphosa se getuienis oor die wydverspreide plundering van staatshulpbronne blootgelê in die verslag. Ramaphosa het ook nie oop kaarte gespeel toe hy ondervra is oor die werk van die hoëvlakoorsigpaneel oor die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) nie.

Ramaphosa se verskoning dat hy dinge van “binne” wou regmaak is deur Zondo verwerp. Hy sê as adjunkpresident moes Ramaphosa hom sterker uitgespreek het teen staatskaping. Selfs al sou dit beteken het dat Zuma hom in die pad steek as adjunkpresident van die land, sou dit beter gewees het vir die land, want Ramaphosa sou steeds kon aangebly het as adjunkpresident van die ANC en dit sou die ANC van binne geskud het. 

Ramaphosa het onderneem dat die regering die aanbevelings in die verslag sal bestudeer en binne vier maande met voorstelle na die parlement sal gaan om maatreëls in te stel wat staatskaping in die toekoms sal probeer verhoed.

Skakels na die laaste dele van die Zondo-verslag kan hier gevolg word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top