Zondo staan vas dat Zuma moet getuig

  • 0

Regter Raymond Zondo (foto: Wikipedia)

Die Zondo-kommissie gaan sy werksaamhede om getuienis aan te hoor vroeg volgende jaar afsluit met twee hoëprofiel-politici wat gevra gaan word om te getuig.

Die kommissie wil beide president Cyril Ramaphosa en sy voorganger, Jacob Zuma, ondervra voordat regter Raymond Zondo hoop om in Maart te begin om sy verslag met die bevindings op te stel.

Zondo het Maandag tydens ’n aanlyn mediakonferensie gesê die grendelstaat het die kommissie se werksaamhede met minstens drie maande vertraag. Weens die streng inperkingsmaatreëls kon daar vir drie maande geen getuienis gelewer word nie.

Zondo sê hulle gaan by die Hooggeregshof aansoek doen dat die kommissie se sittings met ’n verdere drie maande verleng word sodat hy sy werk kan afhandel. Die kommissie moes teen Maart aanstaande jaar sy werksaamhede afgehandel het, maar Zondo sê hulle het meer tyd nodig.

Alle oë sal vroeg volgende jaar op Zuma en Ramaphosa wees wanneer hulle gevra gaan word om voor die kommissie te getuig. Ramaphosa het reeds gesê hy is bereid om te getuig, maar wat Zuma gaan doen, is ’n ope vraag.

Zondo het Maandag gesê Zuma moet weer van 18 tot 22 Januarie getuig. Dit volg nadat Zuma die Zondo-kommissie verlede maand openlik geminag het toe hy die kommissie sonder toestemming verlaat het terwyl hy nog moes getuig.

Dit het ’n omgekrapte regter Zondo genoodsaak om Zuma krimineel aan te kla vir sy gedrag. Zondo het geen doekies omgedraai toe hy hom verlede maand uitgelaat het oor Zuma se optrede nie. Verskeie stappe is aangekondig om te verseker dat Zuma voor hom moet verskyn

Of Zuma wel volgende maand daaraan gehoor gaan gee en wat die gevolge gaan wees indien hy weier, beloof om Suid-Afrikaners se nuwe jaar op allesbehalwe ’n vervelige noot te laat begin.

Zondo het Maandag gesê Zuma het nêrens om weg te kruip nie. Selfs al meen Zuma hy het niks om vir die kommissie te sê nie, stem Zondo nie daarmee saam nie.

https://twitter.com/SowetanLIVE/status/1341025087210831873?s=20

Hy sê Zuma is deur meer as 30 getuies geïmpliseer en dit kan onmoontlik net daar gelaat word. Die enigste manier waarop Zuma sou kon aanspraak maak om nie te getuig nie, sou wees as hy glad nie deur enige van die getuies geïmpliseer was nie, het Zondo gesê.

Die kommissie sal nog dié maand die Konstitusionele Hof nader om seker te maak dat die dagvaarding wat op Zuma bedien is om voor die kommissie te verskyn afdwingbaar is.

https://twitter.com/SiphoMbanjwa5/status/1341065812262727688?s=20

Ramaphosa het reeds heelwat vroeër sy volle samewerking aan die Zondo-kommissie beloof en aangebied om te getuig. Zondo het Maandag bevestig dat Ramaphosa sowel as die ANC gevra sal word om vroeg volgende jaar voor hom te getuig.

Hy het tydens sy mediakonferensie gesê beide Zuma en Ramaphosa se getuienis is belangrik omdat albei in leiersposies in die regering sowel as die ANC was tydens gebeure waaroor daar al getuienis gelewer is en wat met staatskaping verband hou. Zuma was die grootste deel daarvan president van die land en die ANC terwyl Ramaphosa adjunkpresident was asook deel van die ANC se top-ses.

Zonda sê as alles volgens plan verloop, wil hy graag die getuienis einde Februarie afhandel sodat hy in Maart kan begin om aan die verslag te werk waarin hy sy bevindings sal bekendmaak.

Die kommissie het sedert sy ontstaan in 2018 reeds 278 getuienisse aangehoor wie se getuienisse al meer as 50 000 getranskribeerde bladsye beslaan.

Buro: NM
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top