Zondo stel ’n goeie voorbeeld, zonder aarzeling, met staatskapingkritiek

  • 0

“Zonder aarzeling” is ’n gepaste wyse om hoofregter Raymond Zondo se staatskapingkritiek op die parlement te bestempel. Of was dit slegs ’n bekommerde uitlating? Hoe dit ook al sy, dit is wat hy gesê het: dat die land se burgers vatbaar bly vir die impak van korrupsie. En sy stelling was nie slegs akkuraat nie, dit was ook tydig.

Die geleentheid waar hy aan die woord was, was ’n simposium van die Raad op Geesteswetenskaplike Navorsing; die tema was die uitwerking wat die Zondo-verslag na staatskaping op die demokrasie gehad het. Terwyl hy trots is op die werk van die kommissie waarvan hy aan die hoof gestaan het, is Zondo teleurgesteld (bekommerd, ontnugter) omdat die parlement, sover dit hom aangaan, nog nie ’n stokkie voor moontlike toekomstige staatskaping sal kan steek nie.

Hier is sy eie woorde (uit die Engels vertaal): “Indien ’n ander groep mense presies sou doen wat die Guptas gedoen het om staatskaping na te jaag [gedurende die Jacob Zuma-presidensiële era], sal die parlement steeds nie in staat wees om dit stop te sit nie. Dit is eenvoudig omdat ek niks verandering sien nie.” Die vraag wat hieruit voortspruit, het hy bygevoeg, was die volgende: “Indien die parlement nie in staat sal wees om die mense se belange te beskerm nie, wié sal dan die mense beskerm?”

Wie, inderdaad? Want die Guptas het dit skynbaar reggekry om senior politici en staatsamptenare se guns te wen en vermoedelik invloed oor aanstellings en die toekenning van staatskontrakte op hulle uit te oefen. Tot op die hoogste vlak, na bewering.

Die hoofregter hoef nie agtergrond of konteks aan sy gehoor te verskaf het toe hy na “die Guptas” verwys het nie. Dié familienaam is sinoniem met beweerde staatskaping, net soos dié van Zuma is – eersgenoemde ’n verwysing na die broers uit Indië wat in Suid-Afrika geland het om besigheid te kom doen en dit toe oënskynlik reggekry het om in sekere opsigte as’t ware die rol oor te neem van laasgenoemde as die destydse staatshoof.

Dit is ’n verskriklike aanklag teen die regering van Zuma se opvolger, Cyril Ramaphosa, en die parlement dat Zondo ons daarop attent moet maak dat niks verander het sedert hy in Junie 2022 die vyfde en finale deel van sy kommissie se verslag aan Ramaphosa oorhandig het nie. Ramaphosa het die eerste deel van die verslag ses maande vroeër ontvang, en by dié geleentheid gesê: “Dié is ’n deurslaggewende oomblik in ons land se poging om beslissend ’n einde aan die era van staatskaping te bring en die integriteit, geloofwaardigheid en vermoëns van ons instellings – maar, belangriker, ons regering – te herstel.” 

Mens sou gedink het die regering en die parlement sou Zondo dus nou, ’n anderhalf jaar later, gelyk gee oor sy uitlatings. Helaas. Die parlement het eerder met groot verontwaardiging aangekondig dat ’n dringende vergadering met Zondo gehou sal word oor wat hy durf sê het. Hiermee saam het die regerende ANC by monde van sy sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, met verwysing na Zondo opgemerk dat regters nie halfgode (demigods) is nie

Dit word duidelik deur Mbalula as steurend ervaar dat Zondo, soos hy dit in sy reaksie gestel het, “week ná week” ’n mening oor ’n saak van openbare belang huldig – die regter moet daarteen waak om nie die reël oor die skeiding van magte te oortree nie, het hy gemaan. Wat gewis nie nodig was nie, maar ewenwel, dit was Mbalula se manier om ’n beroep op Zondo – die land se mees senior regter – te doen om die Nasionale Vervolgingsgesag voldoende tyd en ruimte toe te laat om hul ondersoeke na staatskaping dééglik af te handel.

Mbalula het verder verduidelik (hier geparafraseer): Die beweerde staatskapingoortreders beskik immers oor geld, groot geld (hoe anders?), waarmee hulle die beste regsverteenwoordiging kan bekostig – en jy wil sekerlik nie ’n situasie hê waar jy hulle in die aangesig van nuusfotograwe en TV-kameras aankeer en dan nie in staat is om hulle skuldig te bevind nie omdat daar gebreke in die ondersoeke deur die NVG bestaan.

Maar die hoop beskaam nou reeds lank al, onder meer weens die (onverwagse) bedanking van die hoof van die eenheid wat spesifiek ondersoek na staatskapingsake moes instel en ook (vernederend) die staat se oënskynlike mistasting met ’n aansoek om die Guptas uit die Verenigde Arabiese Emirate uitgelewer te kry. (’n Nuwe, moedige poging word nou deur die minister van justisie, Ronald Lamola, aangewend.)

Die reaksie van die parlement en Mbalula op Zondo se waarskuwing is ongetwyfeld gemarineer in die sous van staatslojaliteit: dat ’n hoofregter nie durf vergeet wie uiteindelik sy of haar aanstelling bekragtig nie – naamlik die staatshoof, leier van die meerderheidsparty. Maar ons Grondwet vereis van regters om onafhanklik op te tree; om nie te verval in die Amerikaanse gebruik waar regters opgeëis word deur die party van die president wat hulle aangestel het nie, of in pogings soortgelyk aan dié van die Israelse regering tans om die parlement beheer oor die regbank te gee, wat deur die land se hoofregter, Esther Hayutas, as “fataal vir die demokrasie” beskryf word

Zuma het egter op die harde manier geleer dat jy nie moet verwag dat ’n hoofregter (in sy ampsjare regter Mogoeng Mogoeng) jou as president bo die oppergesag van die Grondwet moet ag nie. Ramaphosa het dit ervaar toe Zondo bevind het dat hy meer moes gedoen het as Zuma se adjunk toe hy staatskaping sien gebeur het; dat dit dus nie goed genoeg was om vermoedelik stil te bly en beweerde staatskaping kwansuis “intern” te beveg nie.

Tot sy eer het Ramaphosa, toe hy op 22 Junie verlede jaar die vyfde deel van die verslag ontvang, die hoofregter en almal wat vir die Zondo-kommissie gewerk het, geloof vir die “monumentale taak” wat hulle in diens van die nasie verrig het. “Hierdie verslag bied aan ons die geleentheid om ’n beslissende breuk met die era van staatskaping te maak,” het hy trots en vol belofte gesê.     

Die oproep wat die President daardie dag op elke landsburger gedoen het, was om die maatreëls te steun wat deur staatstrukture ingestel sou word “om ons land terug te plaas op die weg van integriteit, transformasie en vordering”.

Nou kom dit egter voor asof die beloofde maatreëls sedertdien ontspoor het, as ’n mens ag slaan op die uitlatings wat hoofregter Raymond Zondo laas week gemaak het, zonder aarzeling.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top