Dit wil voorkom of regter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie oor staatskaping, besig is om sy geduld te verloor met die manier waarop oudpresident Jacob Zuma kat en muis met die kommissie speel.
Zuma was veronderstel om dié week voor die kommissie te getuig, maar het allerlei verskonings aangevoer waarom dit nie vir hom moontlik is om voor regter Zondo te verskyn nie. By ’n vorige verskyning het Zuma ook gedreig om nie verder deel te neem nie, omdat hy na bewering doelbewus in ’n swak lig geplaas word.
Hy beweer hy het nie genoeg tyd gehad om voor te berei vir die week se verskyning nie en dat sy dokters hom aangeraai het om ook nie so baie te reis nie vanweë sy hoë ouderdom.
Zondo het Sondag in ’n mediaverklaring gesê hy het verskeie navrae van die publiek en die media ontvang oor Zuma se verskyning voor die kommissie en dat hy Maandag daarop sou reageer wanneer die kommissie sy werksaamhede hervat.
Media Release#StateCaptureInquiry pic.twitter.com/N1OFAzMwtz
— State Capture Commission (@StateCaptureCom) September 20, 2020
Met die aanvang van Maandag se sitting het Zondo ’n verklaring gemaak en gesê hierdie week was tot Vrydag opsy gesit vir Zuma om te getuig. Sy regsverteenwoordigers het egter ’n brief aan die kommissie geskryf waarin hulle aanvoer dit sal nie vir hom moontlik wees om dié week te getuig nie omdat hy besig is om voor te berei vir die strafsaak teen hom oor die omstrede wapentransaksie wat in Desember hervat word.
He says the 9th October 2020 has been set for a decision on a subpoena, he adds that he has also set the 16th-20th November as the new dates for Mr Zuma’s appearance before the commission.#StateCaptureInquiry
— State Capture Commission (@StateCaptureCom) September 21, 2020
Zondo het Maandag beslis Zuma moet nou van 16 tot 20 November voor die staatskapingskommissie verskyn. Hy sê die kommissie sal op 9 Oktober besluit of hy gedagvaar sal word. Die regter het dit ook baie duidelik gemaak dat die kommissie nie bereid is om met getuies wat voor hom moet verskyn te onderhandel oor datums wat die getuies pas nie. Indien daar geldige redes is waarom iemand nie voor die kommissie kan getuig nie, sal die kommissie dit aanhoor en daarvolgens handel. Die kommissie is egter nie bereid om lukraak met getuies te onderhandel wanneer hulle kan getuig nie. Diegene wat voor die kommissie getuig moet inval by die datums wat deur die kommissie bepaal word tensy daar goeie redes is wat deur die kommissie aanvaar word.
Zondo wou nie Maandag kommentaar lewer oor die redes wat deur Zuma se regspan aangevoer is waarom hy nie dié week kan getuig nie. Die regter sê wanneer hy op 9 Oktober besluit of Zuma gedagvaar sal word om te getuig, sal hy die besluit neem met of sonder die teenwoordigheid van Zuma se regspan. Hy sê indien nodig kan daar ook reëlings getref word dat Zuma virtueel voor die kommissie verskyn as hy nie persoonlik teenwoordig kan wees nie. Dit is egter duidelik dat Zondo geen verdere uitstel sal duld nie, tensy daar baie goeie redes voor is.
Dit was reeds uit sy vorige verskynings duidelik dat Zuma geen ooghare het vir die Zondo-kommissie se ondersoek na staatskaping nie. Hy moes verlede jaar met stokke en swaarde so ver gekry word om voor die kommissie te getuig. Tydens sy getuienis het Zuma verskeie bewering voor regter Zondo gemaak wat wissel van ’n beweerde komplot om van hom ontslae te raak tot bewerings dat verskeie hooggeplaastes in die ANC eintlik apartheidspioene is wat steeds hulle mes vir hom in het.
Zuma bevraagteken ook die kommissie se mandaat en wil glo daaroor ook regsadvies inwin.
Hy beweer ook die kommissie is bevooroordeeld teenoor hom en deel van ’n heksejag. Zuma hou vol hy is die slagoffer van ’n politieke komplot wat teen hom gesmee word.
Toe Zuma verlede jaar vir die tweede keer voor die kommissie moes verskyn, het hy op nommer 99 kleinkoppie getrek en beweer hy is te siek.
Zuma se naam duik gereeld by die Zondo-kommissie op sedert daar met die ondersoek na staatskaping begin is.
Buro: MvH