Suid-Afrika bevind hom voor ’n grondwetlike krisis as daar nie gehoor gegee word aan die eis dat oudpresident Jacob Zuma gestraf word weens minagting van die hof nie.
Die voorsitter van die staatskapingkommissie, adjunkhoofregter Raymond Zondo, sê sy kommissie gaan die Konstitusionele Hof vra om vir Zuma tronk toe te stuur as bevind word dat hy die hof se beslissing geminag het om voor die kommissie te verskyn.
Regter Zondo het Maandag gesê hy beskou Zuma se minagting van die Konstitusionele Hof se beslissing in ’n baie ernstige lig. Hy sê die hof het ’n keuse om Zuma ’n boete of tronkstraf op te lê, maar weens die erns van die saak gaan die kommissie tronkstraf aanbeveel.
DCJ says the commission will approach the constitutional court to impose a term of imprisonment for Mr. Zuma. #StateCaptureInquiry
— State Capture Commission (@StateCaptureCom) February 15, 2021
Die regter het in sy reaksie op Zuma se optrede gesê Zuma het volle geleentheid gehad om sy saak voor die Konstitusionele Hof te stel waarom hy nie voor die kommissie wil verskyn nie. Hy het egter gekies om dit nie te doen nie.
Zondo het Maandag verskeie keer op die erns van Zuma se optrede gewys. Hy sê daar sal min oorbly van die land se demokrasie as Zuma se optrede ongestraf gelaat word. Almal is onderhewig aan die land se wette en dit is onaanvaarbaar dat Zuma hom nie aan ’n bevinding van die land se hoogste hof steur nie. Dit kan ook ’n onhoudbare presedent skep vir diegene wat nog voor die kommissie moet getuig as een van die getuies sommer net sou besluit hy weier om te getuig.
Volgens Zondo is hy al 24 jaar op die regbank en dit is nog net Zuma wat ’n probleem met hom gehad het en gevra het dat hy hom van ’n saak moet verskoon.
https://t.co/juvK7Qk8wN#StateCaptureInquiry
— State Capture Commission (@StateCaptureCom) February 15, 2021
Opposisiepartye het ook geëis dat Zuma in hegtenis geneem word. Die DA se skaduminister van justisie en korrektiewe dienste, Glynnis Breytenbach, sê in ’n verklaring die volle mag van die reg moet sy gang gaan en Zuma moet aangekla word.
“Zuma het homself en sy trawante nog altyd bokant die wet geag, en dit het al hoe duideliker geword soos wat sy presidentskap se afbrekende werk na vore gekom het.” Breytenbach sê Zuma is hierin gesteun deur sy kollegas in die ANC.
Much can be said about the ANC, who have encouraged this type of behaviour in the past, and the present, and have done nothing to call their members to order, nor to distance themselves from this bad behaviour. As always, they are big on talk (shops), but very little action.
— Democratic Alliance (@Our_DA) February 15, 2021
Breytenbach sê in haar verklaring Zuma moet gestraf word om te bewys dat alle Suid-Afrikaners gelyk is voor die reg.
Zondo het ook Maandag beklemtoon dat almal gelyk is voor die reg en dat nie hy of die hoofregter van die land of die president of voormalige president bokant die wette van die land verhewe is nie.
Ook die leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Groenewald, het Zuma se optrede in ’n verklaring ten sterkste veroordeel.
“Dit is minagting van die hoogste hof in die land en enige ander burger van Suid-Afrika sou in dieselfde omstandighede nou al in hegtenis geneem gewees het. Die VF Plus se standpunt is dat Zuma nie verhewe is bo die reg nie. Hy kan nie spesiale behandeling ontvang nie en moet in hegtenis geneem word. Sy regspan kan dan op verdere stappe besluit,” het Groenewald gesê.
The FF Plus's view is that Zuma is not above the law. He may not get preferential treatment and must be arrested. And then his legal team can decide what to do next. @GroenewaldPJ #StateCaptureCommission
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) February 15, 2021
Dit wil volgens Groenewald voorkom of Zuma hoop die kommissie se termyn verstryk einde Maart vanjaar en daarom probeer hy tyd wen in ’n poging om nie te getuig nie. Hy sê die werklikheid is egter dat die kommissie se tydsduur wel verleng kan word.
“Dit is ook nie vir Zuma en sy regsverteenwoordigers om te besluit of hy voor die kommissie hoef te verskyn of nie. Dit was ’n bevel van die Konstitusionele Hof dat hy vandag moes verskyn en hierdie bevel is doelbewus verontagsaam.”