Oudpresident Jacob Zuma berei hom voor om as ’n martelaar tronk toe te gaan en hoop skynbaar om so die simpatie van sy ondersteuners verder uit te buit.
In aanloop tot die Konstitusionele Hof se uitspraak teen hom het die oudstaatshoof die afgelope week ’n uitdagende brief aan hoofregter Mogoeng Mogoeng gestuur. Daarin verklaar hy hom bereid om liewer tronk toe te gaan as om sy samewerking te bied om sy kant van die saak te stel.
Zuma is bekend vir sy Stalingrad-taktiek om hofuitsprake teen hom telkens uitgestel te kry. Sy uurglas is egter besig om vinnig leeg te loop.
Met sy jongste brief aan regter Mogoeng lyk dit asof Zuma die Konstitusionele Hof in ’n hoek probeer druk. Hy sinspeel daarop dat dit tot sosiale en politieke onrus in die land kan lei indien die hof hom tronk toe sou stuur. Sy brief aan Mogoeng kan hier gelees word.
Al hoe meer politieke kommentators en regskenners meen egter Zuma se blaf is erger as sy byt. Hulle meen hy is besig om sy hand te oorspeel en geniet glad nie meer soveel steun as voorheen nie. Al sy opsies is feitlik uitgeput en hy het slegs homself om te blameer vir die dilemma waarin hy hom tans bevind, word gesê. Selfs sy eie party sien vermoedelik nie meer kans om hom openlik te steun nie.
Zuma se huidige struweling met die land se hoogste regsgesag spruit uit sy weiering om voor die Zondo-kommissie te getuig. Daarvoor is hy voor die Konstitusionele Hof gedaag, maar getrou aan sy styl het hy hom eenvoudig afgevee daaraan en doelbewus versuim om vir sy verhoor op te daag.
In ’n finale poging om hom ’n geleentheid te bied om sy kant van die saak te stel het regter Mogoeng hom versoek om voor die afgelope Woensdag (14 April) aan die hof te verduidelik waarom hy nie tronkstraf moet kry nie. Zuma moes self sê wat hy as ’n gepaste vonnis beskou vir sy minagting vir die land se regstelsel.
Weer eens het Zuma hom daaraan afgevee. Hy het die geleentheid gebruik om verdere aanvalle op die land se regters te loods en kordaat verklaar dat hy gereed is om die tronk binne te stap.
Die Konstitusionele Hof het nou geen ander keuse as om Zuma skuldig te bevind aan minagting van die hof nie. Of hy regtig sal tronk toe gaan daarvoor, is ’n ander saak. Die vraag op almal se lippe is wat gebeur dan?
Dit is onwaarskynlik vir ’n hof om iemand wat skuldig bevind word aan minagting van die hof sonder die keuse van ’n boete tronk toe te stuur. Hoewel Zuma moontlik direkte tronkstraf mag vryspring, bevind hy hom in ’n al hoe groter wordende krisis.
Sy huidige geskil met die Konstitusionele Hof is maar net die oortjies van die seekoei wat uitsteek. Die groot hofsaak waar hy teregstaan op ’n hele rits ernstige klagte wat wissel van rampokkery tot geldwassery en korrupsie lê net om die draai vir hom en wag.
Intussen het Zuma die afgelope week ook by die Appèlhof in Bloemfontein ’n verdere bloutjie geloop. Die hof het beslis hy moet die meer as R16 miljoen wat die regering tot dusver vir sy verdediging in die korrupsiesaak teen hom betaal het, terugbetaal. Zuma het in 2006 en 2008 die staatsprokureur op die koste van die staat om regshulp genader. Hy is aangekla van geldwassery, korrupsie en afpersing in verband met die omstrede wapentransaksies.
Laasgenoemde saak hang al van 2005 soos ’n swaard oor sy kop nadat sy sakevriend Schabir Shaik skuldig bevind is. Regter Hilary Squires het destyds bevind dat daar “’n algemeen korrupte verhouding” tussen die twee van hulle was.
Na baie jare se kat-en-muis-speletjies met die gereg is Zuma se dag in die hof uiteindelik nader as ooit. Tensy hy, soos dikwels in die verlede, nog ’n haas uit die hoed pluk, mag daar dalk net ’n oranje oorpak vir hom wag om aangetrek te word. Dit is waarskynlik sy grootste vrees, al is hy so breedsprakig oor sy bereidwilligheid om die tronk binne te stap.