Zuma daag land se hoogste hof uit

  • 0

Die parlement behoort spoedig in te gryp en oudpresident Jacob Zuma te stroop van die talle voordele wat hy, en sy uitgebreide familie, as oudstaatshoof geniet.

So het die president van Action SA, Herman Mashaba, Maandag getwiet kort nadat ’n veglustige Zuma ’n verklaring uitgereik het waarin hy weier om sy samewerking te gee aan die Zondo-kommissie wat staatskaping ondersoek.

Zuma se uitdagende houding teenoor die land se regstelsel volg op ’n uitspraak deur die Konstitusionele Hof verlede week wat Zuma verplig om voor die Zondo-kommissie te verskyn en getuienis te lewer.

Mashaba sê in sy twiet die belastingbetalers kan nie voortgaan om vir Zuma se uitspattige lewe te betaal terwyl hy die land se wette minag nie.

In ’n verklaring van ses bladsye het Zuma Maandag uitgevaar teen die land se regstelsel. Hy sê hy is nie bang om in hegtenis geneem te word nie, hy vrees ook nie skuldigbevinding nie, en is ook nie bang om opgesluit te word nie.

Sy volledige verklaring kan hier gelees word.

Die groot vraag op almal se lippe is wat die owerhede gaan doen wanneer Zuma nie sy samewerking aan die kommissie gee nie en wegbly wanneer hy moet getuig. Gaan hulle hom in hegtenis neem?

Dit is duidelik dat hy besig is om die stelsel openlik uit te daag en die vraag is of die owerhede die moed het om hom te arresteer en hoe die verskillende faksies in die ANC daarop gaan reageer.

“Ek stel dit daarom by voorbaat dat die kommissie geen verdere samewerking van my kan verwag in enige van hulle prosesse nie. As hierdie standpunt van my gesien word as ’n oortreding van hulle wet, moet hulle wet sy gang gaan,” het Zuma gesê.

Die leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Groenewald, het in sy reaksie gesê dit is duidelik dat Zuma martelaar probeer speel deur te sê hy sal nie voor die kommissie getuig nie, en is uitdagend deur te sê hy sal eerder tronk toe gaan as om te getuig.

Groenewald sê in ’n verklaring deur ook te sê die huidige regering tree op soos die vorige regering, sleep hy apartheid in en speel hy die apartheidskaart.

“Met hierdie poging probeer Zuma die aangeleentheid verpolitiseer en dit sal die spanning binne die ANC aansienlik verhoog. Die faksiegevegte in die ANC sal hierdeur op die spits gedryf word.

“Indien Zuma so onskuldig is as wat hy voorgee, kan hy dit maklik maak vir homself en vir die land deur te gaan getuig voor die kommissie waar hy sy onskuld kan bewys.”

Groenewald sê die VF Plus se siening is dat Zuma vervolg moet word en tronk toe moet gaan indien hy verkies om só die prys te betaal vir die beweerde wandade waarby hy betrek word.

“Die belastingbetalers van Suid-Afrika het reeds ’n duur prys betaal vir dié oudpresident se optrede waar hy toegelaat het dat belastinggeld geplunder word. Die tyd het daarom aangebreek dat hy ook die prys betaal vir sy optrede,” sê Groenewald.

Die Grondwetkenner Pierre de Vos het op Twitter gesê Zuma is duidelik desperaat om nie te antwoord op die vrae oor sy beweerde misdade nie. “Wat het hy om weg te steek”? wou De Vos weet.

In sy verklaring vaar Zuma skerp uit teen die land se regstelsel en sê dit is duidelik dat die wette van die land tot in die hoogste hof gepolitiseer is.

Zuma sê gedurende al die jare se stryd om vryheid het hy nooit kon dink dat die dag sal kom dat ’n demokratiese regering in Suid-Afrika wat op grondwetlike waardes gebou is, net soos die apartheidsregime sal optree deur ’n regsproses te skep wat sekere individue in die gemeenskap teiken nie.

Volgens Zuma kan enigeen met die naam Zuma geen wetlike beskerming in die land verwag nie en dat hy en sy familie uitgesonder en geteiken word. Hy het ook uitgevaar teen regter Raymond Zondo en hou vol dat Zondo ’n persoonlike byltjie met hom te slyp het.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top