Zuma en 20 beweerde staatskapers aangekla

  • 0

Die vakbond Solidariteit het klagte van korrupsie, diefstal, bedrog en die wanbestuur van staatsfondse teen 21 beweerde staatskapers gelê.

’n Yslike dossier met talle bekende name, waaronder dié van Jacob Zuma, is deur Solidariteit saamgestel van mense wat volgens hulle strafregterlik aangekla moet word.

Benewens Zuma is van die ander bekendes die voormalige voorsitter van die SAL, Dudu Myeni, die voormalige hoof van Transnet en Eskom, Brian Molefe, die voormalige voorsitter van Denel, Daniel Mantsha, en die voormalige uitvoerende hoof van Denel, Zwelakhe Ntshepe.

Hierdie strafregtelike klagte volg na aanleiding van onder andere verslae en aanbevelings van die Zondo-kommissie.

Solidariteit sê in ’n verklaring hulle sal geen steen onaangeroer laat om die skuldiges aan die pen te laat ry  nie.  

Jacob Zuma is beskuldigde nommer een in die dossier. Hy word aangekla weens sy beweerde aandeel in die fasilitering van korrupte aktiwiteite. Hy word ook aangekla van bedrog en die verkryging van, besit van, of gebruik van, die opbrengs van onwettige aktiwiteite. Hy word ook ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur aangekla van die wanbestuur van openbare geld.

Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, was al die aangeklaagdes ten minste op ’n prima facie-grondslag by kriminele aktiwiteite betrokke. Volgens Hermann rus daar  ’n statutêre plig op inwoners om korrupte aktiwiteite by die polisie aan te meld.

Hy sê hierdie verpligting het ook op Solidariteit betrekking, veral indien sy lede direkte slagoffers is. Die dossier is volgens hom die mees omvattende klagte wat na aanleiding van onder andere die Zondo-verslag by die polisie ingedien is.

“Staatskapers het werkers se werk en toekoms, asook belastingbetalers se swaarverdiende geld gesteel. Ons kan nie toelaat dat werkers se werk en geld gesteel word en die plunderaars vry rondloop met al die geld nie. Dit is ons plig om namens ons lede staatskapers te help vervolg.”

Alhoewel die dossier nie daartoe beperk is nie, fokus dit op korrupte aktiwiteite wat werkers se werk tot voordeel van individue se sakke vernietig het. “Ons hoef nie en gaan ook nie vir president Ramaphosa wag om planne aan te kondig oor wat die regering met die Zondo-kommissie se aanbevelings gaan maak nie. Die Nasionale Vervolgingsgesag moet onmiddellik met vervolging begin,” sê Hermann.

Dudu Myeni se optrede het die SAL na bewering R800 miljoen gekos. In haar tyd as voorsitter is die SAL deur beweerde korrupsie en bedrog geteister. In plaas daarvan om in die beste belang van die entiteite op te tree, is sy en ander wat vir die korporatiewe bestuur van die SAL, SAL Tegnies en SA Express verantwoordelik was, deur eie belang gemotiveer, sê Solidariteit. Sy word ook onder andere van bedrog en die wanbestuur van openbare fondse aangekla.

Brian Molefe word onder andere van bedrog aangekla omdat hy na bewering korrupte aktiwiteite in Transnet en die SAL gefasiliteer het. Strafregtelike klagte van bedrog is ook teen hom ingedien oor die bedrieglike wyse waarop hy homself met pensioengeld van Eskom verryk het. Hy word ook aangekla van die wanbestuur van openbare geld.

Daniel Mantsha, asook die hele 2015-raad van Denel en die voormalige uitvoerende hoof, Zwelakhe Ntshepe, is aangekla. Werkers by Denel kry al jare lank nie hulle volle salarisse nie as gevolg van beweerde korrupsie en wanbestuur.

“Die bedrieglike en/of onregmatige aktiwiteite wat uit die Zondo-verslag voortvloei, beloop ongeveer R50 miljard. Die land het onberekenbare skade gely. Die Nasionale Vervolgingsgesag het geen ander keuse as om die beskuldigdes in die Solidariteit-dossier te vervolg nie. Suid-Afrika in die algemeen, en werkers in die besonder, eis verantwoordbaarheid. Ons soek mense in oranje oorpakke om as voorbeeld te dien vir enigeen wat dit weer sou oorweeg om werkers en belastingbetalers se geld te plunder,” sê Hermann.

Om Solidariteit se volledige klagte te besigtig, klik hier.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top