Zuma en Guptas wou vermoedelik Eskom ook kaap

  • 0

Die staatskapingkommissie onder leiding van regter Raymond Zondo moes dié week hoor hoe Eskom vermoedelik tot op die heel hoogste vlak gemanipuleer is. Selfs oudpresident Jacob Zuma het glo sy invloed gebruik sodat die omstrede Guptas na bewering hulle hande ook in Eskom se kasregister kon inwurm.

Die voormalige raadsvoorsitter van Eskom, Zola Tsotsi, het Woensdag aan die kommissie vertel dat die voormalige minister van openbare ondernemings, Lynne Brown, na bewering toegesien het dat opdragte van die Gupta-familie uitgevoer word.

Tsotsi het verduidelik dat Brown in 2014 daarop aangedring het dat uitgesoekte mense op verskeie raadskomitees moet dien. ’n Sakevennoot van die Guptas, Salim Essa, het die name voorgestel en dit per e-pos aan Tsotsi gestuur. Hy sê vroeër het hy sy eie lys aan Brown gestuur, wat sy toe afgekeur het.

Tsotsi sê ook dat Tony Gupta aan hom ’n lys gewys het van Eskom-raadslede wat deel was van ’n WhatsApp-groep saam met lede van die Guptas. Hy sê dit het voorgekom asof Tony Gupta hom hiermee wou intimideer en dat Brown verdere druk op hom geplaas het.

Vroeër die week het Tsotsi getuig dat Zuma hom telefonies beveel het om ’n raadsvergadering van Eskom te kanselleer. Dit was nadat Brown hom versoek het om ’n vergadering van die raad te herskeduleer. Later het Zuma hom persoonlik gebel en aangesê om die vergadering wat op 26 Februarie 2015 moes plaasvind uit te stel.

Hy het ook opdrag van die direkteur-generaal van die Departement van Openbare Ondernemings gekry om ’n raadsvergadering te kanselleer.

Tsotsi het ook aan regter Zondo vertel hoedat Brown hom na haar huis ontbied het en aan die Gupta-broers voorgestel het. Zondo wou by Tsotsi weet waarom hy toegelaat het dat Zuma hom beveel om ’n raadsvergadering te kanselleer terwyl hy nie die bevoegdheid gehad het om dit te doen nie. Tsotsi het later erken hy was bang hy verloor sy werk as hy nie gehoor gee aan die opdragte nie. Hy was bevrees oor wat met hom sou gebeur as hy nie aan hulle eise toegee nie.

Die voormalige raadsvoorsitter sê hy het ’n waarskuwing gekry en sy posisie is na bewering deur die voormalige minister van openbare ondernemings, Lynne Brown, bedreig. Tsotsi sê hy wou Zuma nie ontstel nie en daarom het hy die opdragte uitgevoer.

Volgens Tsotsi het hy die probleme oor beurtkrag reeds in 2014 geopper. Hy sê dit het oorgespoel na 2015. Hy onthou dit baie goed, want in Januarie daardie jaar was daar beurtkrag selfs die dag toe die parlement geopen het.

Regter Zondo was die afgelope week bykans sprakeloos soos wat die wurms die een na die ander uit ’n blik gepeul het tydens Tsotsi se getuienis. Zondo sê hy vind dit vreemd dat daar van buite ingemeng is in hoe die Eskom-raad sy sake bestuur.

Tsotsi het aan Zondo gesê hy het die Gupta-broers die eerste keer by ’n ANC-geldinsamelingsfunksie in 2014 ontmoet. Die Gupta-broers was saam met die ANC se top ses leiers aan tafel, waar sowel Zuma as die voormalige SAUK-voorsitter, Ellen Tshabalala, ook gesit het. Hy sê hy is na die funksie uitgenooi omdat Eskom een van die hoofborge van die geleentheid was. Zondo wou by Tsotsi weet waarom ’n staatsinstelling ’n ANC-funksie borg. Tsotsi sê was hy nie bewus van die borgskap nie.

Die jongste getuienis voor die Zondo-kommissie vind plaas in ’n week waartydens die land opnuut daagliks met beurtkrag gekonfronteer word.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top