Heelwat mense in die land het oor ’n moontlike ontmoeting oor die naweek tussen die EFF-leier, Julius Malema, en oudpresident Jacob Zuma gepraat.
Dit volg nadat Malema op Twitter gevra het om Zuma dringend te ontmoet kort nadat Zuma met minagting reageer het op die Konstitusionele Hof se uitspraak dat hy verplig is om voor die Zondo-kommissie oor staatskaping te verskyn.
Malema het Woensdag op Zuma se amptelike Twitter-profiel gevra of hulle dringend saam tee kan drink. Enkele ure later het Zuma geantwoord: “Thobela Moshabi. Ek het jou versoek gesien om ’n koppie tee te drink. Soos jy weet is Nkandla village my tuiste en waar ek deesdae my tyd spandeer. Tee het ek baie en jy is meer as welkom om oor te kom vir ’n koppie.”
Thobela Moshabi. I have seen your request to share a cup of tea. As you know, Nkandla village is home for me and that is where my time is spent these days. Tea I have plenty of, you are more than welcome to come over for a cup. https://t.co/7Okdw94WAH
— Jacob G Zuma (@PresJGZuma) February 3, 2021
Malema het ewe flink daarop reageer. “Dankie Baba. Ek sal ’n plan maak om op te daag, moontlik hierdie naweek.” Hy het Zuma bedank dat hy sy versoek aanvaar het en gesê dit is in die beste belang van die land.
Thank you Baba, I will make a plan to arrive, possibly this weekend. I will take it further with your young man @mzwandileMasina for final details. Thank you for accepting my request promptly. It is in the best interest of our country. 🙏🏿
— Julius Sello Malema (@Julius_S_Malema) February 3, 2021
Die tonge was hierna behoorlik los op sosiale media. Daar is wyd en syd gegis waarom Malema vir Zuma wil sien.
Sommige was van mening hy wil Zuma probeer oorreed om die Konstitusionele Hof se uitspraak te respekteer en wel voor die Zondo-kommissie te verskyn. Ander het weer ander motiewe in die beoogde ontmoeting gesien en glo Malema is besig om iets anders in die mou te voer.
“Die duiwel se ooreenkoms! Daar was ’n soortgelyke een tussen Hitler en Stalin wat in 1939 onderteken is,” het die politieke kommentator en voormalige visekanselier van die Universiteit van Johannesburg, Adam Habib, getwiet. Habib is tans verbonde aan die Universiteit van Londen se School of Oriental and African Studies.
Malema het vinnig teruggekap op Habib se twiet en gesê die pakt is reeds by Mangaung gesluit toe Habib se gunsteling (met klaarblyklike verwysing na Cyril Ramaphosa) Zuma se adjunk geword het. “Jy het gerieflikheidshalwe daarvan vergeet omdat dit vir jou gewerk het,” het Malema sy twiet afgesluit.
’n EFF-woordvoerder, Vuyani Pambo, het later bevestig dat ’n ontmoeting tussen Zuma en Malema die naweek sal plaasvind en dat die gesprek daaroor op Twitter geen fopnuus is nie.
Hy het aan TimesLIVE gesê dit is ’n ontmoeting van nasionale belang en Malema sal die gesprek voer as ’n leier van die gemeenskap en opperbevelvoerder van die EFF.
Vroeër die week het die EFF gesê Zuma se besluit om die Konstitusionele Hof se uitspraak te minag is misplaas. Die party het ’n beroep op Zuma en sy regsverteenwoordigers gedoen om te herbesin oor die besluit, wat op “swak advies” berus.
Die ANC is diep verdeeld oor Zuma se uitlatings oor die Konstitusionele Hof se besluit. Die ANC in die Oos-Kaap het gevra dat daar intern opgetree moet word teen Zuma, terwyl die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, weier om hom uit te spreek teen Zuma se uitlatings en sê hy sien niks verkeerd daarmee nie
Die ANC se uitvoerende burgemeester van Ekurhuleni en een van Zuma se vertrouelinge, Mzwandile Masina, het Zuma en Malema se beoogde teedrinksessie verwelkom. Hy sê dit sal interessant wees en hy is seker daarvan dat “die twee mans wat bygedra het tot die grondwetlike welsyn van die land” insig sal gee hoe volwasse ons demokrasie geword het. “Die aftelling begin nou, sal julle op hoogte hou,” het hy getwiet.
Tea session of @PresJGZuma and @Julius_S_Malema will be interesting and I’m sure the two men who contributed to the constitutional being of SA will provide a grate insight of how mature our democracy has become. Count down starts now, keep you posted!!!!
— Mzwandile Masina (@mzwandileMasina) February 3, 2021
Die Constitution Hill Trust het intussen ook gevra dat Magashule en Zuma die Suid-Afrikaanse Grondwet moet respekteer. Die voorsitter van die trust en ook ’n voormalige sekretaris-generaal van die ANC, Cheryl Carolus, sê tot nou toe is Zuma van beweerde wangedrag beskuldig, maar indien hy nié voor die Zondo-kommissie verskyn nie, is dit nie meer net bewerings nie en oortree hy die wet.
Netwerk24 berig dat Julius Malema en EFF-afgevaardigdes Vrydagoggend in ’n helikopter by oudpres. Jacob Zuma se Nkandla-woning in die noorde van KwaZulu-Natal aangeland het.
▶️ KYK HIER - Julius Malema, EFF-leier, en ander afgevaardigdes van sy party het Vrydagoggend in ’n helikopter by oudpres. Jacob Zuma se Nkandla-woning in die noorde van KwaZulu-Natal aangekom.
Posted by Netwerk24 on Friday, February 5, 2021
In Nkandla the chopper carrying some of the EFF’s leaders including Julius Malema and Dali Mpofu has arrived and is making its way into the former president’s home #MalemaZuma pic.twitter.com/ST27yuNLvz
— Matshidiso Madia (@tshidi_lee) February 5, 2021