President Cyril Ramaphosa het die herdenking van die ANC se 107-jarige bestaan afgeskop met die belofte dat grond in Suid-Afrika sonder vergoeding onteien sal word of die mense daarvan hou of nie.
Die president was die hoofspreker tydens die amptelike viering van die ANC se 107-jarige bestaan in Durban terwyl sy voorganger Jacob Zuma ’n eregas by die geleentheid was.
Ramaphosa het vroeër by ’n kransleggingsplegtigheid ook net lof gehad vir oud-president Zuma. Hy sê daar is geen sprake dat hy Zuma wil teregwys nie en dat hulle goed oor die weg kom. “Ek is een van die gelukkigste presidente in die ANC gedurende die onlangse jare omdat daar nog twee voormalige presidente is wat leef asook Kgalema Motlanthe.
Ramaphosa se hand-om-die-blaas-houding met Zuma tydens die ANC se verjaarsdagpartytjie volg nadat die Sunday Times die afgelope naweek berig het Ramaphosa wil Zuma onder vier oë spreek. Volgens die koerant wil Ramaphosa vir Zuma konfronteer oor sekere uitlatings wat hy die afgelope tyd in die openbaar gemaak het, onder andere op Twitter. Die president het dit Dinsdag ten sterkste ontken en sê daar is geen rede om op Zuma te skreeu nie.
#PeoplesManifesto Launch
ANC President Cyril Ramaphosa, former President, Cde Jacob Zuma, ANC KZN Chairperson, Cde Sihle Zikalala ANC eThekwini Regional Chairperson, Cde Zandile Gumede, ANC head of elections, Cde Fikile Mbalula cutting the cake celebrating #ANC107 Birthday. pic.twitter.com/Mdje9ODi1m
— African National Congress (@MYANC) January 8, 2019
Zuma het ook op Twitter te velde getrek teen die Sunday Times. Hy beskuldig die koerant daarvan dat hulle lieg. Zuma wou weet wie se agenda die Sunday Times dien en of hulle nie in staat is om koerante te verkoop sonder om sy naam te noem nie,
You keep lying about my name @SundayTimesZA whose agenda are you serving? Are you unable to sell your newspaper without mentioning the Zuma name? I am still awaiting the title deed pic.twitter.com/GFia38g1Lo
— Jacob G Zuma (@PresJGZuma) January 7, 2019
Ramaphosa het sy 8 Januarie-toespraak in ’n deel van die land gehou waar Zuma steeds groot steun geniet. Hy het ANC-ondersteuners die versekering gegee dat hy saam met Zuma werk om die ANC se “ware gesig van eenheid” aan die kiesers te wys en sê Zuma se teenwoordigheid is ’n teken van daardie eenheid.
Na afloop van sy toespraak het die skare “Zuma-Zuma” gedreunsang, maar is deur die ANC se verkiesingshoof, Fikile Mbalula, stilgemaak.
Dit was duidelik dat senior ANC-leiers uit hul pad gegaan het om eenheid in die party ten alle koste te probeer handhaaf. Die adjunk-president van die ANC, David Mabuza, het op Ladysmith gesê die ANC moet sorg dat hulle weer die kultuur van dissipline in die ANC gestand doen en daadwerklik optree teen diegene wat verdeeldheid veroorsaak.
Die ANC het tydens sy 107de verjaardagvieringe by Inanda in Durban veral klem gelê op die vordering wat die party sedert 1994 gemaak het. Ramaphosa het ’n onafhanklike regbank en mediavryheid uitgewys as die hoogtepunte in dié demokrasie.
Oor grondhervorming het Ramaphosa gesê die ANC het ’n “monumentale” besluit geneem tydens die party se nasionale konferensie in 2017 dat grond deur middel van onteiening sonder vergoeding verdeel moet word.
Hy het onder luide applous van die skare gesê die ANC sal daardie besluit impliseer ongeag of mense daarvan hou of nie.
Volgens die president sal daar ’n nuwe fase van bespoedigde grondhervorming in werking tree wat ’n bydrae sal lewer om veral armoede in landelike gebiede te verminder.
Buro: NB