Leuens, manipulasie en misleiding van die uitvoerende gesag was aan die orde van die dag terwyl Jacob Zuma president van die land was. Dit is Zuma wat vir die kabinet gelieg het, sê die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordan.
Gordon wou nie die afgelope week tydens sy getuienis voor die Zondo-kommissie name noem wie agter die staatskaping sit nie. Zuma se voetspore was egter deurgaans sigbaar in sy getuienis.
Hy sê hy hoop die Zondo-kommissie sal aan die einde van sy werksaamhede in staat wees om presies aan te dui wie het daaragter gesit het en wie die sleutelspelers in die staatskapingsdrama was.
Op ’n vraag van regter Zondo wie dan gelieg, gemanipuleer en die kabinet mislei het, het Gordan geantwoord dit was die oud-president. “Sy inmenging in die hofsaak oor die Guptas se bankrekeninge, die kernkragsentrale ... as mens terugkyk na alles beteken dit dat daar ’n skema was wat deur iemand ontwerp is. Ek hoop die kommissie kan kyk na wie die ontwerper is,” het Gordan aan regter Zondo gesê.
Gordan het aan die kommissie gesê die sogenaamde Gupta leaks het hom gehelp om die legkaart inmekaar te sit, maar hy wou nie spesifiseer of hy oor inligting beskik dat Zuma direk met korrupsie verbind kan word nie. Hy laat dit aan die kommissie om self daaroor te besluit.
Gordhan het vroeër die week ook besonderhede verskaf oor sy beperkte interaksies met die Guptas en sy vertolking van die staatskapingsproses gegee. Gordhan het beklemtoon dat daar nooit 'n sakeverhouding tussen hom en die Guptas was nie. Hy het getuig dat die Gupta-broers verskeie kere probeer het om hom in sy kantoor by die nasionale tesourie te sien, maar dat hy geweier het. Gordhan sê hy het die Guptas slegs by krieketwedstryde en by enkele geleenthede gesien.
Intussen het Zuma 'n beëdigde verklaring by die Konstitusionele Hof ingedien waarin hy poog om ’n ander kommissie se werksaamhede in die gedrang te bring. Hy voer aan dat die Nugent-kommissie van ondersoek na die Suid-Afrikaanse Inkomstediens geen gronde het vir sy aanbeveling dat Tom Moyane as hoof van die Inkomstediens afgedank moet word nie.
Oudregter Robert Nugent het bevind dat Moyane nie geskik is om aan hoof van die Inkomstediens te staan nie en dat hy uit sy pos verwyder moet word. President Ramaphosa het hom kort daarna afgedank. Moyane het reeds begin om sy afdanking in die hof te beveg. Sy regsverteenwoordiger voer aan dat Moyane dubbeld vervolg word deur middel van 'n tugverhoor asook die Nugent-kommissie se ondersoek.
Zuma sê dit was hy – en nié Ramaphosa nie – wat die kommissie aangestel het en dat die kommissie buite sy mandaat optree.
Zuma sê die kommissie het afgewyk van sy oorspronklike rol om die werkkontrakte van indiwidue te ondersoek.
Volgens Gordhan was Moyane veronderstel om aan hom as die minister van finansies rekenskap te gee. Hy sê Moyane het verskeie kere geweier om dit te doen en het verskeie veranderinge aan die Inkomstediens aangebring sonder dat Gordhan as minister van finansies in die saak geken is.
Die EFF-leier, Julius Malema wat een van diegene was wat gevra het vir ’n ondersoek na staatskaping, het nou ook sy mes in vir Gordan. Hy sê die EFF sal nie rus totdat Gordhan die trekpas gekry het nie omdat hy die agent sou wees wat wit monopolie-kapitaal bevorder. Malema hou vol dat Gordhan binnekort uit die kussings gelig sal word.
Buro: NB