Zuma het sy mes in vir regter Zondo

  • 0

Oudpresident Jacob Zuma sal volgende maand met vrae gepeper word wanneer hy uiteindelik self voor die Zondo-kommissie verskyn om vrae oor sy rol in staatskaping te beantwoord. Die oudpresident het egter sy mes in vir regter Zondo en is nie van plan om hom in die openbaar te laat verneder nie.

Links: Oudpresident Jacob Zuma (Foto: Australian Embassy Jakarta [CC BY 2.0], via Wikimedia Commons)

Zuma, wat voorheen daarmee gespog het dat hy graag sy dag in die hof wil hê, moes sedert sy uittrede reeds verskeie kere voor die hof verskyn op talle klagtes wat verband hou met korrupsie en rampokkery. Hy en sy regspan maak telkens van uitsteltaktiek gebruik om die klagtes teen hom verder uit te stel en die howe te ontduik. Nou het hy geen ander keuse as om persoonlik rekenskap te gee van die beskuldigings teen hom nie.

Sedert die Zondo-kommissie met sy ondersoek na staatskaping begin het, duik Zuma se naam gereeld op in die getuienis wat voor die kommissie gelewer word. Ten spyte hiervan het Zuma nog geen aanduiding gegee dat hy diegene wat die bewerings gemaak het, onder kruisverhoor wil neem nie.

Die Zondo-kommissie moes Zuma met stokke en swaarde so ver kry om self te gaan getuig.

In ’n kort verklaring het die kommissie Dinsdag bevestig dat Zuma van 15 tot 19 Julie voor die kommissie sal verskyn.

Die ironie van Zuma se verskyning voor die kommissie is dat hy self die kommissie aangestel het.

Noudat hy self voor die kommissie moet verskyn, beskuldig hy die kommissie van partydigheid en dat hulle hom in ’n hinderlaag wil lei.

Die oudpresident is ook boos omdat die kommissie sy aanvanklike onwilligheid om voor die kommissie te verskyn in ’n persverklaring openbaar gemaak het.

Ten spyte van verdoemende getuienis dat hy by staatskaping betrokke was (deur onder andere die voormalige Bosasa-baas, Angelo Agrizzi), ontken Zuma dat hy op enige wyse daaraan aandadig was.

Volgens sy regsverteenwoordigers is die Zondo-kommissie daarop uit om Zuma in ’n slegte lig te stel deur vooraf die openbare mening teen hom te laat draai.

Hulle het aanvanklik gevra dat die kommissie sy vrae aan Zuma skriftelik aan hom stuur maar die kommissie het daarop aangedring dat hy self voor die kommissie verskyn.

Zuma is reeds verlede jaar voor die Zondo-kommissie betrek toe die voormalige woordvoerder van die kabinet, Themba Maseko, beweer het dat Zuma hom persoonlik opdrag gegee het om die omstrede Guptas te ontmoet toe hulle hulp nodig gehad het. Zuma hou egter vol dat hy die sondebok gemaak word oor alles wat tydens sy termyn as president verkeerdgeloop het.

Regter Zondo het Zuma verlede maand versoek om voor die kommissie te verskyn en is nie daarvoor te vinde dat Zuma slegs skriftelike vrae beantwoord nie. Hy wil die oudpresident onder vier oë ten aanskoue van die hele wêreld sien.

Zuma is duidelik nie hiermee beïndruk nie en beskuldig die regter nou deur middel van sy regsverteenwoordigers daarvan dat hulle hom as ’n beskuldigde hanteer eerder as iemand wat slegs voor die kommissie moet getuig.

“Dit laat ons met die uitdruklike indruk dat u na u eie waarheid soek en ons kliënt in die openbaar aan die kommissie wil uitlewer om hom te verneder en in ’n lokval te lei,” het Zuma se prokureur, Daniel Mantsha, aan regter Zondo geskryf.

Zuma het nog geen kommentaar uit sy eie gelewer oor sy verskyning voor die kommissie nie en het tot dusver slegs deur sy prokureur gereageer.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top