Zuma: King Comrade

  • 0
“The man who tried to be king” – die man wat koning probeer speel het – is hoe ’n mens Jacob Zuma se rol in Suid-Afrika se geskiedenis kan opsom, in ’n era wat op Valentynsdag tot ’n einde gekom het met ’n liefdesboodskap, nie aan die land nie, maar aan die prins wat hy gedink het hy in ons harte is.

Veel gewag is gemaak van die feit dat sy bedanking twee weke van sogenaamde onderhandelinge gekos het, sedert die nuwe ANC-president, Cyril Ramaphosa, en ander lede van die regerende ANC-party se top-ses die mandaat gekry het om Zuma so ver te kry om te loop. Maar eintlik is dit ’n geringe tydjie in ’n groter era van volgehoue mislukking wat terugstrek tot die 1960’s, toe Zuma die eerste keer opgang begin maak het in die party se strukture.

In 14 Februarie se boeiende verwikkelinge, wat om vyfuur die oggend afgeskop het met die inhegtenisneming in Bloemfontein en Johannesburg van sleutelfigure in die sage van staatskapings deur die Guptafamilie se sake-empire, en na ’n uur lange TV-onderhoud met Zuma, laatnag gevolg deur sy uiteindelike bedanking, was die taal en gebare soms asof ’n Shakesperiaanse tragedie oor ’n obskure koning uiteindelik eindig met ’n leë kateder in ’n mediakamer, sonder vrae.

“What is it that I did wrong?” was die refrein dwarsdeur die dag – dit na onder meer ’n bevinding deur die Konstitusionele Hof dat hy sy konstitusionele pligte versaak het; die openbare beskermer se verslae eers oor die onwettige verbouings aan sy landgoed te Nkandla, en toe oor die beweerde kaping van die staat deur sy vriende, die immigrantefamilie uit Indië.

Jacob Zuma (Foto's: YouTube)

Dit is gevolg deur ’n vloedgolf van kommentaar en plasings in die tradisionele en sosiale media: “WTF? Wat is verkeerd met die man?” Maar Zuma het geweet wat aangaan – in sy oë het mense bloot nie verstaan waarmee hy eintlik besig was nie: die postkoloniale projek van feitlik alle Afrikaleiers sedert uhuru om ’n rojale dinastie in elkeen se eie land te vestig waarin hy, die politieke prins, verhewe bo die storm en drang van die gewone politiek was.

En na byna 60 jaar van “gewone politiek” in die buiteland en hier te lande, van Koue Oorlog-komplottery en omkopery, van die canapés, whiskey en jong, wit vroue-aktiviste van die kringloop van bevrydingsbewegings, van “struggle bookkeeping” en geheime agente se platinumkredietkaarte, moet ’n mens toegee dat ’n land se leier kan dink hy draai sy rug daarop deur homself bloot as verhewene te beskou.

En Zuma hét homself as verhewe bo alles beskou. Julle wil ’n swembad en krale hê te Nkandla? Gaan voort; my mense sal dit uitsorteer – ek het net tyd om die papiere te teken, wat ook al daarop staan. Wil my voorganger Thabo Mbeki en dié se regterhand, Ahmed Essop, se vertrouelinge swart bemagtiging ’n hupstoot gee deur huweliksgaste by ’n militêre basis in te vlieg? Doe zo voort. Hou my net daaruit, en as iemand fall guy moet wees, maak hom ambassadeur iewers.

In sy amper patetiese Afrika-troefkaart in die onderhandelinge oor sy bedanking – waarin hy beweer hy moes eers tyd kry om Cyril Ramaphosa aan sy vriende, die leiers van ander Afrikalande, te gaan voorstel ten einde hulle gerus te stel oor sekere persepsies – is dit duidelik wat Zuma as hierdie verhewenheid bo alles, hierdie koningskap, beskou. Sy vriende is meestal semidiktators wat in hul eie gewaande wêreldryk van stralers en vyfstersuites en geishas aristokrate van aansien en belang is.

Toe Zimbabwe se Robert Mugabe in 2000 begin het om plaasbesettings van sy ministers se plase om te swaai na besettings van wit boere se grond, het ’n redakteur in Suid-Afrika eenmaal aan my verduidelik dat ons Westerlinge moet verstaan dat ’n landsleier in Afrika nie bloot ’n amptenaar in ’n politieke party is nie, maar meer soos ’n koning in stamverband is. ’n Koning hoef nie te verduidelik nie, het nie beperkinge op sy drange en behoeftes nie, en omring homself met howelinge wie se plig dit is om sy denke te eggo. Toe die Britse koningin Zuma nooi om die einde van apartheid in Westminster Abbey te gaan vier, het hy dit aanvaar, maar op die laaste oomblik besluit om eerder vir sir Bob en lady Grace te gaan kuier.

Soos ’n koning het Zuma hom omring met jongelinge wat in die openbaar verklaar het dat hulle hul lewens sou neerlê vir hom. Sy vier vrouens is aangevul deur ’n harem van ou girlfriends wat staatsinstansies as hul troetelprojekte vir liefdadigheid beskou het. 

“What did I do wrong?” herinner ’n mens aan Lodewyk XVIII en Marie Antoinette, aan Shakespeare se Richard III en aan Julius Caesar met sy laaste, onbegrypende woorde: “Et tu, Brutus?” Hy wou redes hê, wat die ANC met ’n mond vol tande gelaat het, want dit sou geen verweer hê teen ’n eenvoudige antwoord soos: “Maar as my howelinge het julle my jare lank beskerm teen pogings om my te ontsetel, het julle my verontskuldig teen aanklagte, het julle my gehelp om die staat se instellings af te breek.”

Op die ou end kon Zuma dit nie regkry om af te tree as koning nie, anders as sir Bob. Hy kry net ’n gewone pensioen en dié sal hy moet gebruik vir al die hofsake wat gaan volg.

Maar dit is bloot die jongste van sy mislukkings.

Sy eie hofnar, Jesse Duarte, het hom na sy bedanking geloof vir sy loopbaan. In ’n tyd waarin Suid-Afrika se onderwysstelsel alte dikwels as onder die swakstes in die wêreld onthul word, het sy dit genoem as ’n sukses van sy presidensie, met verwysing na die stygende matriekresultate. Geen ander syfer som dalk beter die gaping tussen die “koninklike Zuma”-fantasie en die werklikheid op nie – ’n syfer wat aangepas is vir plaaslike taalgebruikers en gebaseer is op belaglik lae slaagstandaarde.

Duarte het die Nasionale Ontwikkelingsplan genoem as sy projek, terwyl dit eintlik Ramaphosa s’n is, en die Zuma-era is gekenmerk deur desperate pogings om die projek te syrangeer ter wille van PowerPoint-planne deur sy eie ministers.

Maar hierdie rekord van mislukking strek nog dieper terug in sy loopbaan. Theo Venter van Potchefstroom het daarop gewys dat hy die gevaar loop, sou hy nie bedank nie, om vir die tweede keer in sy loopbaan afgedank te word (in 2005 het Thabo Mbeki hom die trekpas gegee as adjunkpresident). Voor dit kon hy nie verder vorder as LUK van die provinsie KwaZulu-Natal nie.

Duarte het genoem dat hy in die 1960’s deur die destydse ANC-leier, OR Tambo, aangesê is om die ANC se ondergrondse strukture te stig. Baie meen Zuma se mag het gelê in die binne-inligting wat hy op dié manier oor almal in die ANC bekom het. Maar die strukture self, grootliks vergestalt in Umkhonto we Sizwe, was komieklik in hul mislukking. Niël Barnard, die Nasionale Party-regime se intelligensiehoof, skryf in sy jongste boek hoe die ANC tydens die pre-1994-Kodesa-onderhandelinge naderhand uit pure verleentheid MK begin verswyg het.

Vandag is die gesig van MK Zuma se ander groot hofnar, Carl Niehaus, bekend vir sy oumanstoi-toi en sy marxistiese spekskietery.

Zuma se mislukking ondergronds het lelik geraak met die gebeure rondom Quatro, die kamp in Angola waarin ANC-afvalliges aangehou en gemartel is, gebeure waarvoor die party kwytskelding gekry het met ’n flou afdeling in die Waarheid-en-Versoeningskommissie se verslag. Zuma se termyne as president is moontlik gemaak deur hierdie versuim.

Met sulke beskerming, aangevul deur die ANC se volgehoue steun sedert die joernalis (wyle) Mandy Rossouw op ’n besoek aan Nkandla terloopse vrae aan werkers op die bouperseel gestel het, wat hom agt mosies van wantroue laat oorleef het, wie sou nie begin fantaseer oor immuniteit op ’n koninklike vlak nie? Die Comrade King ...

Zuma se aftrede, en dié van Mugabe ’n paar maande gelede, het die finale nekslag toegedien aan pogings deur narsistiese Afrikaleiers om konings en keisers te word, hier in die suide, altans. Die ANC is nog steeds diep gewortel in patronaatskap, en was nog altyd deur die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party gekaap.

Wat Zuma laat faal het, was die blok van demokrasie wat Kodesa om sy enkels geketting het. En die weiering van een kader, die voormalige openbare beskermer, Thuli Madonsela, om howeling vir die Koning van Nkandla te word.

  • Hans Pienaar is 'n skryfgenoot by die Johannesburg Institute of Advanced Study.
Buro: MvH
  • 0
Top