Net sodra hierdie Voertaal-bydraer meen dit is sy laaste bydrae met Jacob Zuma, voormalige president van Suid-Afrika, as die hooftema, dan dié bewuswording: Die Zuma-verhaal is nog niet ten einde.
Dit is ’n verhaal wat, kortpad gestel, in Desember nuwe momentum gekry het met Zuma se aankondiging dat hy die nuutgestigte uMkhonto we Sizwe- of MK-party steun, maar dat hy steeds ’n lojale lid van die ANC bly. Die bestaan van die party was nuus vir die oorgrote meerderheid mense van die land. Hoe nou? het almal gefrons: MK was dan die militêre vleuel van die ANC – en as jy die nuwe party steun en daarvoor gaan stem, hoe bly jy ’n lojale lid van die party wat die ergste daardeur benadeel sal word?
Nog voordat ’n behoorlike antwoord op dié vrae gekry is, was Zuma aan die voorpunt van gesprekke oor die nuwe party, en teen die tyd dat die verkiesing op 29 Mei plaasgevind het, was hy die leier. Tussenin was daar vele hofaansoeke – Verkiesingshof, Hooggeregshof, Konstitusionele Hof – deur die party self en deur die ANC en deur die Verkiesingskommissie. Die gedinge het gehandel oor Zuma se verkiesbaarheid as ’n kandidaat in die verkiesing; oor die MK-naam en -logo; en uiteindelik oor of Jabulani Khumalo in werklikheid die reg het om op die MKP se leiersposisie aanspraak te maak.
In die nuutste uitspraak oor hierdie velerlei hofsake is bevind dat Khumalo nie op die leierskap aanspraak kan maak nie – selfs al volhard hy met die beskuldiging dat Zuma se dogter, Duduzile, sy handtekening vervals het om die leierskap aan Zuma “oor te teken”.
Maar dit is nou alles agtergrondmusiek. Die MK-party het teen alle – en ek bedoel alle – verwagtinge in uitsonderlik in die verkiesing gevaar, spesifiek in sy ontstaansprovinsie, KwaZulu-Natal, die Zoeloe-hartsland en tuiste van Zuma. Hier was die uitslag 45,9% in MK se guns teenoor die ANC se 17,6%, wat deur sommige waarnemers as ’n vernedering vir laasgenoemde beskou word.
Om te bewys dat dit geen gelukskoot aan die kant van MK was nie, moet ’n mens daarmee saam die nasionale uitslae (stempersentasie gewen en die aantal setels in die Nasionale Vergadering verwerf) in ag neem. In dié opsig het MK homself as die derde grootste party gevestig, letterlik oornag, met die ANC wat 40,18% gewen het en 159 setels beset; die DA se getalle is 21,81% en 87; en MK staan op 14,58% en 58 LP’s. Dit beteken dat hulle die EFF laat terugskuif het na die vierde grootste party met omtrent 20 setels en 5% kiesersteun minder as MK s’n (dit is 39 en 9,52%).
“Power relationships are in perpetual contest and flux,” skryf Ferial Haffajee in haar voorwoord vir Richard Calland se 2013-boek The Zuma years – South Africa’s changing face of power. (...) “It is exciting,” brei sy op haar stelling uit, “but deeply mystifying, as networks shape and reframe continuously.”
Die “perpetual contest and flux” wat Zuma oor die jare binne die ANC gedryf het omdat hy steeds glo hy is onregmatig as staatshoof in Februarie 2018 verwyder (nadat Cyril Ramaphosa die 2017-leierskapstryd gewen het) en dat sy inhegtenisname in 2021 vir minagting van die Konstitusionele Hof ook onregmatig was, het in die onlangse verlede rat verwissel.
In ’n stap wat weinig sou kon voorspel het, het hy in sy stryd teen “Ramaphosa se ANC” die mat behoorlik onder sy voormalige kamerade uitgetrek toe hy simbole van die party “gekaap” het vir die stigting van ’n nuwe party. Dié “revolusionêre stap” het – gegee die verkiesingsuitslae – vrugte afgewerp.
Die Zuma-strategie van prosesse frustreer om ’n bepaalde uitkoms te verseker, wat hy tot nou ingespan het vir sy regsmoeilikheid, is ook in MK se werkswyse sigbaar. Nadat hulle nie die amptelike bekendmaking van die verkiesingsuitslae deur die OVK kon keer nie, ’n poging om ’n hertelling van die uitslae te probeer afdwing, het hulle aangedui dat hulle die inswering van nuwe LP’s en die verkiesing van die speaker en die president sal boikot.
Maar selfs voor dié dag aangebreek het, het die magsverhoudinge in KwaZulu-Natal geskuif, omdat, soos Haffajee ook geskryf het, “networks shape and reframe continuously”. Hierdie keer was dit die IVP wat ’n haas uit die hoed gepluk het deur aan te dui dat hy bereid sou wees om ’n provinsiale regering van eenheid saam met ander partye – MK uitgesluit – saam te stel. Dit sal die ANC, DA en NFP insluit, en straks ook ander, kleiner partye. Indien die plan deurgevoer word, sink die MK-mag in ’n gat van nutteloosheid in die provinsie waar hy sy grootste impak sou kon maak as ander partye, bepaald die IVP, hom as regeringsvennoot sou verkies. Ook in die Nasionale Vergadering sal hy verswak word as die ander partye besluit om saam te span, waaroor die burgery eers oor ’n paar dae meer duidelikheid behoort te hê.
Wat politieke waarnemers en konstitusionaliste in die politiek en in die breër samelewing intussen ’n kollektiewe sug van verlugting sal laat slaak, is die vooruitsig dat ’n (ver)swak(te) MK van die mag ontneem sal word om sy ongrondwetlike agenda in werking te stel. Dit is naamlik voorstelle deur die party dat tradisionele leiers ook sitting in die parlement moet kry, selfs al word hulle nie soos die res in verkiesings ingestem nie, en dat die parlement verhewe bó die land se howe gestel moet word. Jy hoor in die lees hiervan duidelik Zuma se gedurige relase oor hoe onregverdig, "antiswart" en Westers die regstelsel (en die land se regeerstelsel in die algemeen) is. Dit laat die blou ligte van sy presidensiële beskermingskonvooi rooi flikker.
Soos wat hierdie bydrae geskryf word, moet nuwe lede van die Nasionale Vergadering en provinsiale wetgewers (behalwe die Wes-Kaap) nog ingesweer word, maar die son skyn en die lug is blou en daar is goeie rede om hoop vir die beste uitkomste te behou.
Hierdie dag sou Zuma se (tweede) grootste oomblik in sy dekades lange politieke loopbaan kon (ge)wees (het), maar toe daag hy nie daarvoor op nie. Die enigste ding wat daarom met sekerheid gesê kan word, is dat die Zuma-manuskrip nog lank nie voltooi is nie.