Zuma moet self opdok vir sy hofsake  

  • 0

Oud-president Jacob Zuma

Oud-president Jacob Zuma, wat tot dusver elke nou en dan ten duurste op Jan Taks se rekening hof toe gegaan het om sy sin te probeer kry, moet nou die hand diep in sy eie sak steek om op te dok vir die miljoene rande se hofkoste wat hy op die hals gehaal het. Of Zuma die geld het is ’n ope vraag.

’n Volbank regters in die Pretoriase Hooggeregshof het Donderdag die DA en die EFF se aansoek goedgekeur om die ooreenkoms ter syde te stel waarvolgens die staat verantwoordelik is vir die betaling van Zuma se strafsake. ’n Kostebevel is ook teen Zuma gemaak. Dit beteken Zuma moet nou persoonlik opdok vir sy regskoste in verband met sy korrupsie en bedrogsaak. Zuma word deur altesaam 16 aanverwante korrupsieklagtes in die gesig gestaar. Dit hou verband met Suid-Afrika se omstrede wapentransaksie.  

Die DA-leier, Mmusi Maimane, het die besluit van die Pretoriase Hooggeregshof verwelkom. Hy sê dit is ’n oorwinning in die stryd teen korrupsie.

Volgens die DA beloop die hofkoste tussen Zuma en die DA alleen tot dusver ongeveer R16 miljoen. Die ware koste is volgens Maimane nader aan R50 miljoen. Die DA-leier het in ’n verklaring gesê hulle het die hof genader om uitspraak te gee wie vir Zuma se hofkoste verantwoordelik is omdat hulle glo dit was onaanvaarbaar vir Suid-Afrikaners om daarvoor te betaal.

Adjunk-regterpresident Aubrey Ledwaba het in sy uitspraak gesê die besluit wat vroeër deur president Cyril Ramaphosa en die staatsprokureur geneem is dat die staat verantwoordelik is vir die regskoste wat Zuma in sy persoonlike hoedanigheid aangegaan het, is ongeldig en het dit ter syde gestel.

Die DA het hulle tot die hof gewend waarop Ramaphosa ’n kennisgewing by die hof ingedien het dat hy die uitslag van die hof sal eerbiedig. Die president se kantoor sê hy bestudeer die hooggeregshof se uitspraak dat die staat nie verantwoordelik is vir oudpresident Jacob Zuma se persoonlike hofkoste nie. Die implikasies van die beslissing sal ook ondersoek word.

Maimane sê die hofuitspraak bring ’n einde aan die kringloop van korrupsie en mense wat wil steel sal nou twee keer moet dink. Die EFF wat ’n soortgelyke aansoek as die DA tot die hof gerig het, het ook Donderdag se hofuitspraak verwelkom.

Regter Ledwaba het die staatsprokureur opdrag gegee om ’n volledige rekening op te stel van al die regskoste wat Zuma in sy persoonlike hoedanigheid aangegaan het in die kriminele klagtes teen hom asook alle aanverwante litigasie. Hy het  opdrag gegee dat alle nodige stappe getref word om die geld wat Zuma skuld in te vorder. Dit sluit ook siviele stappe in om die geld te verhaal.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top