Vreugde en woede was onderskeidelik die reaksies van Suid-Afrikaners nadat die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria Woensdag beslis het oud president Jacob Zuma moet teruggaan tronk toe om die res van sy vonnis uit te dien.
Die burgerregte-organisasie AfriForum en die DA, wat albei applikante in die saak was om te vra dat Zuma teruggaan tronk toe, het die uitspraak bestempel as ’n oorwinning vir geregtigheid.
Zuma se ondersteuners was woedend. Carl Niehaus het op Twitter gesê dit is ’n groot onreg wat teen Zuma gepleeg word omdat hy, volgens Niehaus, in die eerste plek sonder ’n verhoor in die tronk beland het.
Niehaus sê almal wat in geregtigheid glo, moet die hof se uitspraak dat Zuma teruggaan tronk toe “totaal teenstaan”.
Verskeie mense wou weet wat Niehaus daarmee bedoel en of hy besig is om voorspraak te maak vir geweld soos wat uitgebreek het toe Zuma vroeër vanjaar tronk toe gestuur is. “So nou stook jy geweld aan as jy sê ons moet die uitspraak teëstaan? Sal jy verantwoordelikheid aanvaar vir wat gaan gebeur?” wou een van die twitterati weet.
This is gross injustice, @PresJGZuma was illegally imprisoned without a trial in the first place. Our courts are fully captured. All South Africans who believe in justice must totally oppose Nxamalala's return to jail! #HandsOffMsholozi! https://t.co/xymVhYkqh4
— Carl Niehaus (@niehaus_carl) December 15, 2021
Zuma is op 5 September vrygelaat vir ’n onbekende mediese toestand. Hy is tronk toe gestuur omdat hy versuim het om voor die kommissie van ondersoek na staatskaping te verskyn omdat hy beweer het die voorsitter, regter Raymond Zondo, is nie onpartydig teenoor hom nie.
Die 79-jarige Zuma het homself in Julie aan die polisie oorgegee ná ’n openbare stryd, maar sy tronkstraf, ongekend vir ’n oud-president, het gewelddadige betogings en plundering veroorsaak.
AfriForum sê in hulle verklaring hulle is verheug oor die uitspraak in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria dat Zuma se mediese parool onwettig toegestaan is. AfriForum beskou die uitspraak as ’n deurbraak vir geregtigheid.
𝗠𝗲𝗱𝗶𝗮𝘃𝗲𝗿𝗸𝗹𝗮𝗿𝗶𝗻𝗴
SUKSES: Zuma moet terug tronk toe; mediese parool onwettig verklaar ná AfriForum ingryp https://t.co/AJ6viW0C7h
— AfriForum (@afriforum) December 15, 2021
Die organisasie was ’n applikant in dié saak wat gevra het vir die dringende hersiening van Zuma se mediese parool.
“Die publiek is al vir ’n tyd lank bekommerd dat daar dubbele standaarde in die Suid-Afrikaanse regstelsel is en dat senior politici of mense met politieke verbintenisse nie dieselfde hanteer word as wat gewone landsburgers of die res van die publiek hanteer word nie. Dit is juis waarom AfriForum as ’n applikant by hierdie saak betrokke geraak het en dit is ook waarom ons hierdie uitspraak as ’n deurbraak vir geregtigheid beskou,” sê Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum.
Die DA-leier John Steenhuisen het in sy reaksie gesê die uitspraak is ’n groot oorwinning vir die oppergesag van die reg.
The DA has won its case against Arthur Fraser and his decision to grant medical parole to former President Jacob Zuma. The courts order is conclusive.
This is a big victory for the rule of law and the principle of equality before the law. There is ONE set of laws to ALL. 🇿🇦 pic.twitter.com/tG41hYpflU
— John Steenhuisen MP (@jsteenhuisen) December 15, 2021
Volgens die hof se uitspraak moet Zuma teruggaan tronk toe en mag die tydperk wat hy by die huis was terwyl hy onwettig op parool was nie van sy vonnis afgetrek word nie.
“Die besluit van die eerste respondent (mnr Arthur Fraser destyds) om die derde respondent op mediese parool te plaas, geneem op 5 September 2021, word hersien, onwettig verklaar en tersyde gestel,” lui die uitspraak.
“Hiermee word gelas dat die derde respondent (Zuma) na die bewaring van die Departement van Korrektiewe Dienste terugbesorg word om die res van sy vonnis van gevangenisstraf uit te dien.
“Daar word verklaar dat die tyd wat die derde respondent op mediese parool uit die tronk was, nie gereken moet word vir die nakoming van die derde respondent se vonnis van 15 maande wat deur die Konstitusionele Hof opgelê is nie.”
Dit is onseker wat die volgende stap gaan wees, wanneer Zuma sal terugkeer tronk toe en of hy oudergewoonte gaan probeer om teen hierdie uitspraak ook te appelleer.
Die Departement van Korrektiewe Dienste het Woensdag in ’n kort verklaring gesê hulle “bestudeer die uitspraak”.