Jacob Zuma se dag in die hof is Dinsdag vir die soveelste keer met nóg ’n maand uitgestel. Dit volg nadat sy regspan vir uitstel gevra het weens mediese oorwegings waarvan die besonderhede onbekend is.
Zuma, wat onder meer van korrupsie aangekla word, systap die land se howe reeds jare lank met sy sloertaktiek. Elke denkbare metode is al deur sy regspan gebruik om te verhoed dat hy sy dag in die hof kry.
Die hofsaak sou Dinsdag uiteindelik in alle erns in Pietermaritzburg se Hooggeregshof begin. Dit is op die laaste nippertjie uitgestel.
Regter Piet Koen het egter ook gelas dat die Staat toegelaat word om ’n mediese praktisyn aan te stel om Zuma te ondersoek om te bepaal of hy medies geskik is om verhoor te word.
Zuma en die Franse wapenvervaardiger Thales se saak is tot 9 en 10 September uitgestel. Die staatsaanklaer, Wim Trengove, het gesê ’n doktersbrief gee nie besonderhede oor Zuma se toestand nie en stel dit slegs dat ’n noodprosedure nodig is wat reeds vir 18 maande uitgestel is.
Dit bly steeds ’n raaisel wat Zuma regtig makeer en waarom hy te siek is om in die hof te verskyn. Trengove het Dinsdag gesê die staat weet nie wat Zuma makeer nie en die staat het die reg om te vra vir ’n bloedtoets wat Zuma se gesondheidstoestand sal bepaal.
Trengove het Dinsdag in die hof gesê hy vind dit moeilik om te verstaan hoe Zuma se toestand so kon verander dat hy nie geskik is om verhoor te word nie. Die Staat en die verdediging het egter ingestem dat ’n mediese verslag rakende Zuma se gesondheid op 20 Augustus ingedien word. Die verslag sal bepalend wees oor die regsproses wat gevolg sal word.
Die staat mag ook ’n mediese praktisyn aanstel om te bepaal of Zuma medies geskik is om verhoor te word. Dié dokter sal ook deur die staat as getuie geroep kan word om te getuig.
Zuma se regsverteenwoordiger, Dali Mpofu, het Dinsdag in die hof gesê daar is volgens hom nou twee moontlikhede wat Zuma se hofsaak betref. Hy kan medies ongeskik verklaar word om sy verhoor te kan bywoon, waarna die Staat kan besluit of hulle so ’n aanbeveling aanvaar of nie. Of daar kan bevind word dat Zuma wel medies geskik verklaar word om verhoor te word, in welke geval die verhoor normaalweg sal voortgaan.
Zuma se sloerende hofsaak kos reeds miljoene rand. Daar is vroeër berig die regskoste vir die hofsake vandat hy in 2009 president van Suid-Afrika geword het, beloop altesame R24,24 miljoen.
Die inligting is in die parlement verskaf in ’n skriftelike antwoord van die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste op ’n parlementêre vraag van Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Zuma het hom reeds oor minstens vyf aangeleenthede sonder enige sukses tot die hof gewend. Slegs een van hierdie aangeleenthede is gefinaliseer. Hy het feitlik elke keer van minstens drie advokate gebruik gemaak, en in een geval selfs van vyf.
Die Appèlhof het vroeër vanjaar bevind dat Zuma self moet opdok vir sy regskoste en dat die staat nie aanspreeklik is vir die koste wat hy in sy persoonlike hoedanigheid aangaan nie.
Die ekonoom Magnus Heystek het Maandag, nadat Zuma se vermeende siekte bekend geword het, op Twitter gesê: “Hier gaan ons alweer ... reg uit die boek van Shabir Shaik.”
Here we go again..straight out of the playbook by Shabir Shaik. Let's see how Constitutional Court deals with this...
SANDF medical boss: Zuma’s life is at 'significant risk', will take 6 months to treat him https://t.co/iH95HECqH1 via @news24— Magnus Heystek (@MagnusHeystek) August 10, 2021
News24 berig dat Zuma volgens ’n militêre dokter glo verlede jaar ’n “traumatiese besering” opgedoen het en intensiewe mediese behandeling benodig wat ses maande kan duur.