Zuma se einde is naby

  • 0

Jacob Zuma se dae as president van Suid-Afrika is getel. Die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het die afgelope naweek besluit Zuma moet sy amp voor volgende jaar se algemene verkiesing ontruim om plek te maak vir die land se adjunkpresident, Cyril Ramaphosa.

Dit was die NUK se eerste gewone vergadering nadat Ramaphosa verlede maand in Zuma se plek as die nuwe ANC-leier verkies is. Die ANC regeer Suid-Afrika sedert die land se eerste demokratiese verkiesing in 1994, maar is op die oomblik ’n diep verdeelde party.

Zuma bly president van die land tot volgende jaar se verkiesing tensy hy herroep word. Dit beteken daar is nou twee magsbasisse in die Suid-Afrikaanse politiek, wat dit moeilik maak vir Ramaphosa om sy politieke agenda uit te voer. Die een magsbasis is die ANC se hoofkantoor in Johannesburg (Luthuli-huis), waar Cyril Ramaphosa nou in beheer is, en die ander magsbasies is in die Uniegebou, waar die regeringshoof gesetel is en Zuma nog in beheer is.

Die ANC se hoofleiers moet nou besluit hoe om van Zuma ontslae te raak sonder dat dit die party nog verder verdeel.

Ramaphosa het tydens sy eerste openbare optrede as president van die ANC in Oos-Londen hoop by Suid-Afrikaners geskep dat die ANC onder sy leierskap korrupsie gaan vasvat en dat diegene wat verantwoordelik is vir staatskaping en korrupsie, verantwoordelik gehou sal word.

“Ons moet staatskaping so gou moontlik ondersoek sodat die land vorentoe kan beweeg,” het Ramaphosa in ’n onderhoud met Dan Moyane van die TV-kanaal eNCA gesê. Hy het die land verseker dat die regterlike kommissie van ondersoek na staatskaping wat deur die vorige openbare beskermer, Thuli Madonsela, aangevra is, toegelaat sal word om sy werk te doen soos wat Madonsela aanbeveel het.

Die kommissie se ondersoek sal deur adjunkhoofregter Raymond Zondo gelei word. Madonsela se opvolger, Busiswe Mkhwebane, wil hê die kommissie se ondersoek moet ook die vergrype van die apartheidsverlede ondersoek en nie net die onlangse staatskaping nie. Ramaphosa is nie daarteen gekant nie, maar meen die huidige staatskaping soos wat deur Madonsela uitgewys is, is prioriteit.

Die ondersoek kan Zuma se posisie verder bemoeilik aangesien hy ook in Madonsela se verslag by staatskaping betrek word.

Terwyl Suid-Afrikaners hoop Ramaphosa se 8 Januarie-verklaring bring ’n nuwe era van hoop in die land, waarsku politieke ontleders dat Zuma steeds in beheer van die land se regering is en nog oor baie mag beskik  

Die ANC is ’n diep verdeelde party met Ramaphosa en Zuma se ondersteuners wat min of meer gelykop verdeel is in die top ses leiersposisies van die party en die NUK. Alles dui egter daarop dat Ramaphosa besig is om die oorhand te kry en dat al hoe meer van Zuma se ondersteuners in die party se top leierskap nou vir Ramaphosa steun.

Dit is nou ’n uitgemaakte saak dat Zuma uit sy pos verwyder sal word voordat sy termyn as president van die land volgende jaar amptelik verstryk. Vorige pogings van die opposisiepartye om van Zuma ontslae te raak het misluk omdat die ANC hom tot dusver elke keer beskerm het.

Met volgende jaar se algemene verkiesing om die draai word Zuma ’n al hoe groter verleentheid vir sy party. Dit kan die ANC duur te staan kom by stembus as hulle nie betyds van hom ontslae raak nie. Die party se steun het skerp afgeneem onder Zuma se leierskap.

Tydens die vorige munisipale verkiesing het die ANC verskeie munisipaliteite aan die opposisie afgestaan, onder andere dié van drie van die grootste stede in die land, naamlik Johannesburg, Pretoria en Port Elizabeth. Dit is dus nie ’n uitgemaakte saak dat die ANC volgende jaar se algemene verkiesing sal wen as die party homself nie vinnig regruk nie. Met Jacob Zuma steeds in die presidentstoel sal dit vir die ANC baie moeilik wees om volgende jaar se verkiesing oortuigend te wen. Daarom kan aangeneem word dat hulle eerder gouer as later van hom sal ontslae raak.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top