Zuma se empire verkrummel al hoe meer

  • 0

President Cyril Ramaphosa is besig om sy magsbasis in die ANC tree vir tree te verstewig terwyl oudpresident Jacob Zuma se kaartehuis al hoe meer ineenstort.

Binne een week het nog een van Zuma se ondersteuners in die kabinet, Malusi Gigaba, handdoek ingegooi terwyl die oudpresident se naam al hoe meer genoem word in die Zondo-kommissie wat ondersoek instel na staatskaping. Dit is die tweede minister in die kabinet wat bedank het sedert Ramaphosa die leisels by Zuma oorgeneem het.

Gigaba was een van die Zuma-ondersteuners wat Ramaphosa, ter wille van eenheid in die ANC, in sy kabinet aangehou het toe hy president geword het. Nou het Gigaba se kaperjolle en leuens hom tot so mate ingehaal dat hy self besluit het om die aftog te blaas en te bedank voordat Ramaphosa hom noodgedwonge in die pad sou moes steek.

Gigaba ontken steeds dat hy enigiets verkeerd gedoen het. Hy voer aan dat hy bedank het omdat die integriteit en reputasie van die ANC en die  regering vir hom belangriker is as enige politieke amp.

Die meeste politieke waarnemers is dit eens dat Ramaphosa druk op Gigaba geplaas het om as minister van binnelandse sake te bedank. Gigaba was die afgelope maande om al die verkeerde redes in die kollig. Hy is in die hof, sowel as in die parlement betrap dat hy gelieg het. Verder moes hy ook bontstaan om sy reputasie te probeer red toe ’n seksvideo van hom soos ’n veldbrand versprei het.

Verlede week het hy nog geweier om te bedank en gesê hy sal slegs loop as Ramaphosa hom in die pad steek.

Intussen is Zuma en sy handlangers se kierangs besig om al hoe meer te begin braai namate die een na die ander swaargewig politikus voor die Zondo-kommissie begin getuig.

Die  voormalige minister van openbare ondernemings Barbara Hogan het die afgelope week voor die Zondo-kommissie getuig hoe Zuma ingemeng het met departemente om sy lakeie aangestel te kry. Diegene wat hom teengestaan het, is summier in die pad gesteek. Sy het onder meer getuig dat haar lewensmaat, die struggle-ikoon Ahmed Kathrada, in die motor buite Zuma se ampswoning moes sit en wag terwyl hy haar afgedank het.

En dit is nog maar net die oortjies van die seekoei wat uitsteek. Daar word voorspel dat die poppe behoorlik gaan dans wanneer die huidige minister van openbare ondernemings, Pravin Gordan, voor die Zondo-kommissie getuig.

Gordan sou aanvanklik Maandag voor die kommissie getuig het. Sy getuienis is uitgestel nadat ’n beëdigde verklaring aan die Zondo-kommissie waarin sy naam voorkom aan die media uitgelek het. Hieroor was die minister woedend. Hy wou weet hoe dit moontlik is dat ’n vertroulike verslag wat voor die kommissie moet dien aan die media uitgelek word nog voordat hy getuig het.

Verskeie pogings is al sedert Zuma se bewind aangewend om Gordan op elke denkbare manier swart te smeer en by onreëlmatighede te betrek. Niemand kon tot dusver daarin slaag om sy reputasie af te breek nie.

Volgens die uitgelekte verklaring het Gordan tydens sy termyn as minister van finansies ook met die omstrede Guptas vergader. Hy ontken nie dat hy die Guptas een keer ontmoet het nie, maar daar is tot dusver geen aanduiding dat Gordan op enige manier deur die Guptas beïnvloed is om gunste vir hulle te doen in ruil vir geld nie.

Daar word verwag dat Gordan se getuienis voor die Zondo-kommissie nóg ’n spyker in Zuma se doodskis kan wees omdat dit sal bevestig hoe die oudpresident mense wou manipuleer om na sy pype te dans.

Dit is algemene kennis dat Gordan lankal geen ooghare vir Zuma en sy kabaal het nie en die media sit met opgehoue asems en wag om te sien met watter opskuddings hy by die kommissie vorendag gaan kom.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top