Zuma se foto bly op stembriewe

  • 0

Die Konstitusionele Hof se beslissing Maandag dat Jacob Zuma nie tydens volgende week se verkiesing verkiesbaar is om parlement toe te gaan nie, sal geen invloed hê op die stembriewe wat reeds gedruk is nie. Sy foto sal steeds op die stembriewe verskyn.

Die OVK, wat in die Konstitusionele Hof geappelleer het teen ’n vorige beslissing van die Kieshof dat Zuma se kandidaatskap wel toelaatbaar is, het in reaksie op die uitspraak  gesê hy neem kennis van die beslissing, maar dat Zuma se foto op die stembriewe sal bly, hoewel sy naam verwyder sal word van die lys kandidate wat deur die MK-party benoem is.

Zuma se dogter, Dudu Zuma-Sambudla, het op X gesê Zuma se gesig is op die stembrief en dit was hulle grootste stryd gewees.

Die OVK het in ’n verklaring gesê hulle het die Konstitusionele Hof genader om duidelikheid oor die afdwinging van artikel 47(1) van die Grondwet te kry.

Die saak het gehandel oor persone wat in aanmerking kom om lede van die Nasionale Vergadering te wees. Die OVK sê noudat die aangeleentheid deur die hoogste hof afgehandel is en die grondwetlike onsekerhede uitgeklaar is, kan die kommissie doelgerig voortgaan met die finale voorbereidings vir vrye en regverdige nasionale en provinsiale verkiesings sonder om te vrees dat die verkiesing vatbaar is vir uitdaging.

Zuma is die kern van MK-party se veldtog om die ANC uit die kussings te probeer lig, en die vraag op almal se lippe is watter impak dit op die verkiesingsuitslae sal hê as hy nie tot die parlement verkies kan word nie.

Die meeste politieke waarnemers glo nie dat dit ’n noemenswaardige impak op die uitslae sal hê nie. Zuma bly steeds die gesig van die party en ’n stem vir die MK-party is indirek ’n stem vir Zuma.

In reaksie op die uitspraak het die MK-party se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, gesê die uitspraak het geen invloed op die party nie.

"Eerstens het ons nog altyd gesê dat (voormalige) president Jacob Zuma nie magshonger is nie. Tweedens is president Zuma steeds die partypresident en die MK-party gaan ’n tweederdemeerderheid kry. Ons sal beheer neem. President Zuma hoef nie die president van die land te wees nie; hy is steeds die brein agter enige president wat ontplooi sal word. So dit beteken nie dat die president wat ons ontplooi, nie gelei sal word oor hoe om die land te bestuur nie en president Zuma bestuur steeds die land, ongeag wie ook al die president word,” het hy gesê.

Dit wil dus lyk asof vrese vir grootskaalse geweld indien Zuma nie toegelaat sou word om parlement toe te gaan nie, oordrewe was.

Sommige mense het gevrees dat die besluit die risiko sou verhoog dat ondersteuners onrus sal aanwakker in die aanloop tot die verkiesing, of dat hulle die uitslag as gevolg daarvan sou betwis.

Daar was vooraf gerugte dat MK-partyleiers belowe het om die stemmery  te destabiliseer as Zuma verbied word om mee te ding.

Die binnegevegte in die party is egter nog nie verby nie. Die stigter van die MK-party, Jabulani Khumalo, het hom reeds tot die Kieshof gewend in ’n poging om Zuma se presidentskap van die party nietig te verklaar. Khumalo wil hê die hof moet beslis dat hy die president van die party is. Die OVK het vroeër die maand gesê hy raak nie betrokke by die huishoudelike sake van politieke partye nie, en het bevestig dat Zuma die geregistreerde leier van die MK-party is. Khumalo het die Kieshof versoek om sy saak vandag (Dinsdag) aan te hoor.

Volgens Khumalo het hy nie as die party se leier bedank nie. Hy beweer ’n brief wat sy bedanking bevestig, is deur Zuma se dogter, Dudu, vervals.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top