Zuma se geheime siekte spaar hom nóg ’n dag in die hof

  • 0

Jacob Zuma se onbekende mediese toestand het hom nóg ’n dag in die hof gespaar toe sy verhoor Donderdag vir die soveelste keer uitgetel is.

Intussen maak Zuma se mediese parool opnuut opslae. In ’n onderhoud met die SABC het dit aan de lig gekom dat die adviesraad vir mediese parool die aansoek dat hy op mediese parool vrygelaat word, afgekeur het.

Die kommissaris van die Departement Korrektiewe Dienste, Arthur Fraser, het in ’n TV-onderhoud met die SABC erken dat hy op sy eie besluit het om Zuma op mediese parool vry te laat in weerwil van die adviesraad se besluit. Fraser word self van moontlike korruptheid gedurende sy termyn in die Zuma-administrasie bekyk en word as een van Zuma se ondersteuners beskou.

Die DA en AfriForum het aangedui dat hulle die besluit in die hof wil toets. Regskenners wys egter daarop dat dit van weinig nut sal wees, aangesien Zuma se gevangenistermyn na alle waarskynlikheid reeds verstreke sal wees teen die tyd dat die saak voor die hof sal dien.

AfriForum sê in ’n verklaring hulle wil dringend antwoorde hê oor Zuma se vrylating op mediese parool. ’n Prokureursbrief is Dinsdag aan Fraser beteken waarin hy gevra word om in die lig van die dringendheid van die aangeleentheid en die potensiële skending van geregtigheid teen vandag (10 September) op verskeie vrae te antwoord.

In die brief word gevra dat Fraser inligting aan AfriForum voorsien wat sekerheid sal bied oor of die vrylating van Zuma aan die tersaaklike wetgewing voldoen. Die volgende inligting word spesifiek vereis:

  • Of Zuma aan ’n terminale siekte ly wat sy mediese parool regverdig.
  • As Zuma nié met ’n terminale siekte gediagnoseer is nie, moet besonderhede oor die aard van sy besering, siekte of kwaal wat mediese parool regverdig, bekendgemaak word
  • Gegewe Zuma se goedgepubliseerde weiering om deur dokters ondersoek te word wat deur die Nasionale Vervolgingsgesag aangestel is, ondanks duidelike voorskrifte deur die KwaZulu-Natalse Hooggeregshof, word volledige terugvoer versoek oor Fraser se gevolgtrekking dat daar nie ’n risiko is dat Zuma weer sal oortree nie.
  • ’n Afskrif van die aansoek om mediese parool, in die voorgeskrewe formaat, wat deur Fraser oorweeg is.
  • ’n Afskrif van die mediese verslag wat aanbeveel dat Zuma op mediese parool geplaas moet word.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, het gesê dit is skreiend dat ’n hoëprofielsaak soos dié in soveel geheimsinnigheid gedompel is. “Mens sou dink dat die Departement van Korrektiewe Dienste seker sou maak dat daar geen onduidelikheid by die publiek sou wees oor waarom hierdie besluit geneem is nie. Tog blyk dit met die eerste oogopslag dat hierdie besluit geneem is sonder dat daar aan die vereistes van die wet voldoen is.”

Roets het gesê dat Fraser se antwoord op AfriForum se prokureursbrief sal bepaal of verdere regsaksie nodig is, maar dat AfriForum se regspan gereed is om die saak verder te voer indien nodig.

Die menseregteprokureur Richards Spoor het op Twitter gesê tensy die besluit om Zuma op mediese parool vry te laat omgekeer word, is die saak teen Zuma so goed as verby.

Spoor sê die toestaan van mediese parool kan ook nie omgekeer word nie, selfs al sou ’n persoon wat terminaal siek is, wonderbaarlik herstel soos in die geval van Schabir Shaik.

Volgens Spoor kan dit Zuma se verhoor weens die korrupsieklagtes teen hom ook in die weegskaal plaas.

“Hoe verhoor mens ’n sterwende man of iemand wat nie in staat is om na homself om te sien nie? So ’n persoon kan duidelik nie hof toe gaan om verhoor te word nie, aangesien hy te siek is. Die saak teen die wapenvervaardiger Thales sal dan sonder Zuma moet voortgaan,” meen Spoor.

Hy sê die een stukkie positiewe nuus is dat ’n persoon wat mediese parool kry, sy reg op vertroulikheid rakende sy mediese toestand verbeur vir die doel van die paroolprosedure. Enige hof sal kan toets op grond waarvan Fraser besluit het om mediese parool aan Zuma te verleen.

Zuma se regspan het Donderdag aan die Hooggeregshof in Pietermaritzburg gesê sy mediese span, en dié van die staat, werk saam ten opsigte van die verdere assessering van Zuma se gesondheid.

Regter Pieter Koen het die wapentransaksieverhoor wat Donderdag sou hervat het, tot 21 en 22 September uitgestel.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top