Zuma se mediese parool laat die wenkbroue lig

  • 0

Terwyl ondersteuners van Jacob Zuma in die wolke is oor die nuus dat hy op mediese parool vrygelaat word, het die nuus opposisiepartye en belangegroepe met agterdog gevul.

Die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet, CASAC, dring daarop aan dat Zuma se mediese-parool-voorwaardes bekendgemaak word, terwyl AfriForum sy mediese parool as ’n skending van geregtigheid beskou wat nie aanvaar kan word nie.

Politieke partye wat hulle sterk uitgespreek het teen Zuma se vrylating, sluit onder andere die DA, die VF Plus en Cope in.

Die DA sê in ’n verklaring  Zuma se mediese parool maak ’n bespotting van die Suid-Afrikaanse regstelsel, terwyl die VF Plus sê dit is duidelik dat Zuma spesiale behandeling geniet.

Zuma word glo op parool vrygelaat op grond van mediese verslae van sy dokters. Hy is ’n maand na sy inhegtenisneming op 8 Julie in die hospitaal opgeneem nadat hy vir 15 maande tronk toe gestuur is vir minagting van die hof omdat hy ’n bevel van die Konstitusionele Hof geïgnoreer het om voor die staatskapingskommissie te verskyn.

Die DA-leier, John Steenhuisen, sê sy party gaan ’n aansoek indien ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) en vra dat die redes waarom die Departement van Korrektiewe Dienste mediese parool aan Zuma toegestaan het, bekend gemaak word.

Steenhuisen sê dit is opmerklik dat die parool toegestaan is deur Arthur Fraser, wat self onder verdenking staan weens beweerde korrupsie in die staatsveiligheidsagentskap toe hy aan die hoof daarvan gestaan het. Steenhuisen sê die DA gaan die portefeuljekomitee van die Departement van Korrektiewe  Dienste vra om Fraser voor die komitee te daag sodat hy aan die parlement kan verduidelik wat die redes was waarom daar aan Zuma mediese parool toegestaan is en waarom die regte prosedures daarvoor nie gevolg is nie.

Die leier van die VF Plus, Pieter Groenewald, sê in sy verklaring die feit dat Zuma feitlik deurentyd sy straf in die Estcourt-gevangenis se mediese afdeling uitgedien het, het reeds gedui op spesiale bevoordeling en dit is daarom geen verrassing dat hy mediese parool ontvang het nie.

Die VF Plus sê hulle het gewaarsku dat daar nie ’n herhaling moet wees van die Schabir Shaik-klugspul waar ’n beweerde ernstige siekte en hospitalisering ’n maklike metode was om verdiende straf vry te spring nie.

“Dit is egter duidelik dat wat nou met Zuma gebeur het, ’n herhaling van die Shaik-metode is om straf te ontduik. Hierdie spesiale behandeling vir sommiges laat toe dat die land se strafregstelsel ondermyn word,” het Groenewald gesê.

Hy sê daar sal gekyk moet word na die magte en bevoegdhede van die kommissaris van korrektiewe dienste om mense klaarblyklik net op parool vry te laat soos wat met Zuma gebeur het. “Vir Shaik was dit bloot ’n vrypas om gholf te speel en sy vryheid te geniet. Dit sou onaanvaarbaar wees indien Zuma dieselfde maklike pas na vryheid ontvang het.”

Die VF Plus wil ook sien dat ’n onafhanklike mediese mening ingewin word om Zuma se siektetoestand te staaf.

Mediese parool kan hoofsaaklik toegeken word aan persone wat aan ’n terminale siekte ly en om aan hulle die geleentheid te bied om tuis in die laaste fases van hul die siekte by hul naasbestaandes deur te bring.

AfriForum sê in ’n verklaring hulle raadpleeg tans hulle regspan oor die moontlikheid om ’n dringende hersieningsaansoek te bring.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, sê dat die vrylating van Zuma op mediese parool ’n growwe skending van geregtigheid is wat nie so aanvaar kan word nie.

Intussen het die vreugdevure by Zuma se woning in Nkandla Maandag reeds hoog gebrand. Sy dogter, Dudu Zuma-Sambudla, het op Twitter geskryf: “The People’s President” is geliefd en hulle sien al die boodskappe vir hom en hoor die gebede.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top