Zuma se minagting van Zondo is ernstige sake

  • 0

Jacob Zuma se minagting van die Zondo-kommissie se opdrag om voor hom te verskyn het die hele land aan die gons of daar teen hom opgetree gaan word en wat die gevolge gaan wees.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo het die staatskapingskommissie Donderdag verdaag nadat Zuma sonder sy toestemming die verrigtinge verlaat het.

Zuma se aansoek dat Zondo hom as voorsitter van die kommissie onttrek, is deur Zondo van die hand gewys. Zondo het bevind Zuma se regspan kon nie bewys dat hulle kliënt nie ’n regverdige verhoor onder sy voorsitterskap sal hê nie. Zuma se regspan het intussen aangedui dat hulle die uitspraak op hersiening sal neem.

Terwyl die kommissie vir tee verdaag het, het Zuma en sy regspan spore gemaak en nie weer ná tee hulle verskyning gemaak nie.

Zondo het gesê hy beskou Zuma se optrede in ’n ernstige lig. 

Zuma was veronderstel om die hele week voor die Zondo-kommissie te verskyn nadat hy deur Zondo gedagvaar is om daar te wees.

Zuma se regspan was vies omdat Zondo hulle aansoek afgekeur het. Zuma se regsverteenwoordiger het aan Zondo gesê hulle gaan die saak verder neem en ’n klag by die regterlike dienskommissie indien omdat Zondo vermoedelik regter gespeel het in ’n saak wat homself betrek.

Die grondwetkenner Pierrre de Vos het op Twitter gesê hy wonder wat staan die kommissie te doen noudat Zuma hom afgevee het aan die dagvaarding om voor die kommissie te verskyn. De Vos sê hy weet nie of dit juis sal help om hom te probeer dwing om te getuig nie.

The Citizen meen dat Zuma se planne om Zondo te verkla niks anders as ’n leë dreigement is nie. Volgens die koerant se bronne sal dit geen gewig dra by die regterlike dienskommissie nie. Regskenners het aan die koerant gesê Zuma staar ’n boete in die gesig weens sy minagting van die kommissie, of die kommissie kan vra dat daar ’n lasbrief vir sy inhegtenisname uitgereik word omdat hy nie toestemming gehad om die kommissie te verlaat nie.

Zondo moes die sitting na Donderdag se petalje tot Maandag verdaag omdat daar volgens hom geen sin is dat die kommissie die res van die week sit nie, aangesien dit duidelik is Zuma is nie van plan om dié week terug te kom nie.

’n Prokureur, Ulrich Roux, het aan The Citizen gesê kragtens die wet oor kommissies het Zuma hom aan ’n oortreding skuldig gemaak.

Die betrokke wetgewing dateer terug tot 1947 en beskryf die aard van die oortreding. Die wet maak voorsiening vir ’n boete of tronkstraf van tot ses maande in ’n geval soos hierdie.

Op sosiale media was daar Donderdag uiteenlopende reaksies op Zuma se optrede. Sy ondersteuners het sy optrede geprys en gesê dit is duidelik dat daar ’n heksejag teen hom gevoer word.

Ander was egter van mening dat dit ’n skande is vir iemand wat die hoogste amp in die land beklee het, om disrespekvol op te tree en het sy optrede as arrogant beskryf. “Daar is niks spesiaal aan Zuma nie en ek hoop hy kom een of ander tyd tot die besef,” het Menzi Magagula op Twitter gesê.

Zuma se regsverteenwoordiger, Muzi Sikhakhane, sê hulle is vasbeslote om Zondo se uitspraak op hersiening te laat neem en dit is die rede waarom Zuma nie verder dié week voor die kommissie kan verskyn nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top