Zuma se MK-lede word kanonvoer in Rusland se oorlog met Oekraïne

  • 0

In ’n tragikomiese draai wat die MK-party se geloofwaardigheid verder knou, veg 17 van sy eie lede nou op Oekraïne se frontlinie, nie as beskermers van Jacob Zuma nie, maar as Russiese huursoldate in Donbas.

Wat as “beskermingopleiding” begin het, het in ’n lokval ontaard waar jong, werklose Suid-Afrikaners uit KwaZulu-Natal met beloftes van R20 000 tot R50 000 per maand na Rusland gelok is, maar hulle nou in Russiese uniforms in ’n oorlog onder konstante bombardement bevind.

Daar word beweer dat meer as 20 mans aanvanklik in Julie 2025 na Rusland gestuur is. Die mans is na bewering na Rusland gestuur om “by die wêreld se bestes te leer”.

’n Brief van 19 September 2025, gerig aan die Russiese minister van verdediging, Andrey Belousov, het versoek dat die Suid-Afrikaanse mans uit die oorlogsone verwyder en na ’n veiliger plek gestuur word. Daar word berig dat die brief die handtekening van voormalige president Jacob Zuma dra.

Die brief het verklaar dat die Suid-Afrikaanse mans mislei is deur ’n voormalige Suid-Afrikaanse soldaat in Rusland. Die soldaat het die mans na bewering ingeskryf vir ’n basiese infanteriekontrak in Pskov, en nie vir ’n offisiersopleidingsprogram nie.

Die nuus is die afgelope Maandag deur News24 bekendgemaak toe die uitgelekte brief van Zuma openbaar geword het. In die brief smeek Zuma om die mans uit die gevegte te verwyder: “Die ontplooiing van onopgeleide vrywilligers in aktiewe gevegte is ’n gewisse tragedie.” Hy waarsku dat Westerse media reeds ondersoek instel en dat die storie “skade kan doen aan die MK-party en aan die verhoudings tussen Rusland en Afrika”.

Die ironie is skreiend. Die MK-party, wat homself as die “militêre vleuel van die stryd” bemark en die ANC gereeld van “jeugverraad” beskuldig, het, indien die bewerings alles waar is, sy eie lede nou in Russiese kanonvoer verander.

Zuma en sy party kritiseer gereeld die Weste, noem Oekraïne se Zelenski ’n Nazi, en skaar hul openlik aan Moskou se kant. Tog is dit nou hulle eie jeug wat sonder kos, betaling of mediese sorg in die oorlogslinies is om teen Oekraïne te veg in ’n oorlog wat niks met hulle te doen het nie.

“Ons slaap in gate, daar is geen kos nie. Ons veg vir Rusland, maar ons het nooit daarvoor geteken nie,” lui ’n WhatsApp-boodskap van ’n lid wat deur News24 aangehaal word. Die mans, tussen die ouderdom van 20 en 29, is in September met ’n Zuma-ondertekende brief per vliegtuig na Rusland. By hul aankoms is hulle na verneem word in Russiese kontrakte (in Sirilliese skrif, sonder vertaling) ingeskryf en na die frontlinie gestuur met slegs basiese wapenopleiding.

Ingevolge plaaslike Suid-Afrikaanse wetgewing is aansluiting by buitelandse leërs strafbaar met tot 10 jaar tronkstraf.

Die sage het sosialemediaverontwaardiging ontketen, met gebruikers wat beide werkloosheid en politieke manipulasie blameer. MK-woordvoerder Nhlamulo Ndhlela het ontwykend reageer op die media se navrae. Hy het Zuma se handtekening op die brief erken, maar geen verskoning aangebied nie. In plaas daarvan blameer die party glo ’n “voormalige Suid-Afrikaanse soldaat in Rusland” vir die “verkeerde kontrak”. Geen amptelike verklaring is op die MK-party se  X-rekening geplaas nie, ’n stilte wat kritici as ’n skulderkenning beskou.

News24 berig president Cyril Ramaphosa se kantoor het Dinsdag ’n ondersoek gelas onder die Wet op Buitelandse Militêre Hulp (1998). “Dit is duidelik dat kwesbare jeug uitgebuit is,” sê woordvoerder Vincent Magwenya. Die regering werk glo deur diplomatieke kanale, waarskynlik via Brics, om die mans huis toe te bring. Intussen waarsku die Departement van Internasionale Betrekkinge reeds sedert Augustus 2025 teen valse Russiese “werkgeleenthede” op sosiale media.

Op X is die publiek woedend en blameer die MK-party vir die gemors. Die joernalis Max du Preez noem dit “erger as kaderontplooiing” en het op X gesê MK-partylede word vasgevang in die Rusland-Oekraïne-oorlog na vals “lyfwagopleiding”.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top