Zuma se party besig om ANC erg te knou

  • 0

Met minder as twee weke oor voordat president Cyril Ramaphosa die datum vir vanjaar se landwye nasionale en provinsiale verkiesings bekend maak, wil dit voorkom of die ANC se steun besig is om soos water deur ’n sif te loop – as die jongste meningspeilings in die kol is. 

Volgens ’n peiling deur die Social Research Foundation (SRF) kan oudpresident Jacob Zuma se nuwe politieke tuiste, die uMkhonto weSizwe- of MK-party, die helfte van die regerende ANC se steun in KwaZulu-Natal (KZN) lok.

’n Peiling deur die SRF dui daarop dat die nuwe party 24% van die stemme in Zuma se tuisprovinsie, KZN, Suid-Afrika se tweede mees bevolkte provinsie, kan kry.

Die data toon dat Zuma op nasionale vlak die gunstelingpolitikus onder 28,9% van alle geregistreerde kiesers is. Onder alle geregistreerde kiesers in KZN geniet Zuma glo 63,1% steun.

Die SRF beklemtoon in hulle verslag dat die gunstige refleksie van ’n persoon of party nie noodwendig die moontlike uitslag van die verkiesing weerspieël nie, omdat dit nie rekening hou met die sterk party-infrastrukture van sekere politieke partye nie.

Die stigting se skatting is dat Zuma se nuwe politieke tuiste op sy beste net ’n paar punte meer as die ANC se steunbasis geniet.

Dit kan egter die oorheersing van die ANC, wat die land sedert die einde van apartheid regeer, beëindig, het die SFR gesê.

Zuma se MK-party kan volgens die peiling ’n groot duik maak in die ANC se steun landwyd, maar dit is veral in KZN waar die rooi ligte vir die ANC flikker indien die peiling se voorspelling waar word.

Frans Cronjé, voorsitter van die SRF, het volgens mediaberigte gesê die ANC-huis is aan die brand.

Die SRF sê op hulle webwerf die peiling ondersoek die gewildheid van Jacob Zuma in KZN en Suid-Afrika. Dit word gedoen deur Zuma se politieke gunstigheidstelling op nasionale vlak en vir KZN te toets. Dit toets ook watter president KZN-kiesers dink die beste vir die provinsie was.

Die nasionale data is gebaseer op ’n opname van 1 412 geografies en demografies verteenwoordigende geregistreerde kiesers in opdrag van die stigting in Oktober 2023.

Dié opname het ’n nasionale foutmarge van 5% gehad. Die KwaZulu-Natalse data is gebaseer op ’n opname van 2 432 geografies en demografies verteenwoordigend geregistreer kiesers in opdrag van die stigting in September 2023. Dié opname het ’n provinsiale foutmarge van 3%.

Intussen het opposisiepartye tydens Dinsdag se debat oor president Ramaphosa se staatsrede behoorlik ingeklim onder die ANC.

John Steenhuisen, die DA-leier, het Ramaphosa se staatsredetoespraak as “Cyril in Wonderland” beskryf.

Hy het gesê die prentjie wat Ramaphosa geskets het, verskil van dié van die Suid-Afrika waarin die meeste mense woon.

Steenhuisen het verwys na die Konstitusionele Hof se uitspraak Maandag wat ’n Hooggeregshofbevel afdwing dat die ANC sy kaderontplooiingsrekords moet oorhandig van toe Ramaphosa die kaderontplooiingskomitee se voorsitter was.

“Die DA verwag dat die ANC by hierdie uitspraak sal hou om sy vuil kadergeheime te ontbloot en hoe mnr Ramaphosa se komitee die grondslag gelê het vir staatskaping en die daaropvolgende ineenstorting van dienslewering,” sê hy.

“As die ANC probeer om die oppergesag van die reg te ondermyn, sal ons nie huiwer om sy leiers tronk toe te stuur vir minagting van die hof, met dieselfde presedent wat geskep is toe Zuma tronk toe gestuur is vir dieselfde oortreding nie.

“Leë beloftes, soos gewoonlik,” het die IVP-leier, Velenkosini Hlabisa, Ramaphosa se toespraak opgesom.

“Die staatsrede was glad nie inspirerend nie, want dit het leë oorwinnings geëis,” het hy gesê.

Hlabisa het in sy toespraak gesê die land het gefloreer toe dit deur die regering van nasionale eenheid gelei is en KZN tussen 1994 en 1999 regstreeks deur die IVP regeer is.

Hlabisa sê Ramaphosa kan nie na 1994 wys om te toon hoe ver die land gekom het nie, want die ANC het nie alleen regeer nie.

“Dit was eers toe die ANC onbeperkte mag verkry het, dat die regering begin wankel het,” het die IVP-leier gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top