Zuma se party glimlag al die pad stembus toe

  • 0

Jacob Zuma en sy MK-party glimlag tot dusver al die pad stembus toe nadat die ANC Maandag nóg ’n bloutjie in die hof geloop het om Zuma se nuwe politieke tuiste te probeer ontwrig.

Die Hooggeregshof in Durban het die ANC se aansoek oor die MK-handelsnaam en -logo met koste van die hand gewys in ’n uitspraak van minder as 30 sekondes.

Die ANC het aangevoer dat die naam uMkhonto we Sizwe deel van sy erfenis en intellektuele eiendom is, terwyl die MK-party aangevoer het dat die ANC nie regte op uMkhonto we Sizwe se naam en logo besit nie.

Maandag se uitspraak word beskou as ’n beduidende oorwinning vir MK voor die algemene verkiesing van 29 Mei. Zuma se ondersteuners het in die hof gejuig en gesing nadat die uitspraak gelewer is.

MK se provinsiale leier in KZN, Visvin Reddy, het gesê dit is die beste moontlike nuus vir die party, wat in Desember van stapel gestuur is. Hy het van buite die hofsaal in Durban aan die TV-kanaal Newzroom Afrika gesê die ANC se regsgedinge teen die party se bestaan wys hoe bang hulle is.

Die ANC sê hulle gaan appèl aanteken teen die uitspraak. “Die ANC beoog om teen die uitspraak van die Hooggeregshof van Suid-Afrika in Durban, te appelleer. Die ANC sal ’n beroep doen op die hof om die onwettige gebruik van die ANC se handelsmerke, simbole en erfenis te stop en te verbied,” het die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, gesê.

Die Verkiesingskommissie het ook appèl aangeteken by die Konstitusionele Hof in ’n poging om die Verkiesingshof se uitspraak om te keer.

Die MK-party sê hy is nie bekommerd oor die feit dat die ANC teen die Durbanse Hooggeregshof-beslissing gaan appelleer nie.

Dit is die derde saak wat die ANC verloor het wat verband hou met pogings om die howe te gebruik om te keer dat die MK-party aan die komende verkiesing deelneem.

Die strategie om die MK-party na die howe te neem het tot dusver geen resultate vir die ANC opgelewer nie. Dit het nog elke keer in die gesig van die party se omstrede sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, ontplof en hom met eier in sy gesig gelaat.

Politieke waarnemers meen dit het in werklikheid die teenoorgestelde uitwerking gehad as wat die ANC beoog het en die indruk gelaat dat die ANC bang is vir Jacob Zuma en die MK-party. Hulle sê dit toon ook desperaatheid aan die kant van die ANC. Dit skep die indruk dat hulle Zuma en sy party op enige manier wil verhoed om aan die verkiesing deel te neem.

Hoewel die nuwe MK-party geen realistiese kans het om die verkiesing te wen nie, kan hulle die ANC ernstig knou. Dit is die eerste keer sedert die einde van apartheid in 1994 dat die ANC sy volstrekte meerderheid in die parlement kan verloor.

Dit is veral in Zuma se tuisprovinsie, KZN, waar Zuma en die MK-party groot steun geniet. Dit kan ’n deurslaggewende rol daarin speel dat die ANC sy beheer oor die provinsiale wetgewer kan verloor. Selfs op nasionale vlak kan die MK-party daartoe bydra dat die ANC se steun tot onder 50% daal.

Die MK-naam en -logo hou groot politieke simboliek vir baie Suid-Afrikaners in as gevolg van die nou ontbinde gewapende vleuel se rol in die stryd teen apartheid.

Vroeër hierdie maand het die Verkiesingshof ’n verbod van die Verkiesingskommissie op deelname deur die 82-jarige Zuma aan die komende verkiesing as kandidaat vir ’n parlementêre setel omgekeer.

Die Grondwet verbied mense om ’n openbare amp te beklee as hulle skuldig bevind is aan ’n misdaad en tot meer as 12 maande tronkstraf gevonnis is.

Zuma is in 2021 tot 15 maande tronkstraf gevonnis omdat hy versuim het om verder  voor die Zondo-kommissie te getuig. Hy het egter slegs drie maande van sy vonnis uitgedien voordat hy aanvanklik weens gesondheidsgronde op parool vrygelaat is en later kwytskelding van president Ramaphosa ontvang het.

Die Verkiesingshof het nog nie ’n rede vir sy uitspraak gegee nie, maar Zuma se prokureurs het aangevoer dat die kwytskelding beteken dat sy vonnis “gekanselleer” is.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top