Zuma se Stalingrad-trein se stoom is op

  • 0

Jacob Zuma is uiteindelik nog ’n dag nader aan sy veelbesproke “dag in die hof” nadat sy appèl misluk het om die aanklaer in die korrupsiesaak teen hom te verwyder.

Die Hoogste Hof van Appèl het Donderdag vier petisies van Zuma teen sy vervolging met koste van die hand gewys, enkele dae voordat hy weer in die hof moet wees vir sy korrupsieverhoor.

Zuma wou hê dat die staatsadvokaat, Billy Downer, hom aan die saak moet onttrek omdat hy glo bevooroordeeld teenoor Zuma is. Die oudpresident wou ook hê dat getuies geroep moet word om sy bewerings te staaf dat die staat onregverdig teenoor hom optree.

Hy moet nou weer op 11 April 2022 in die hof verskyn vir sy korrupsieverhoor rakende die Thales-wapenskandaal. Dit is ’n groot slag vir Zuma se pogings om die korrupsiesaak teen hom uit te stel.

In die jongste bloutjie wat Zuma in die hof geloop het, het die Appèlhof bevind dat Zuma se petisies “geen redelike vooruitsigte op sukses in ’n appèl het nie en daar is geen ander dwingende rede waarom ’n appèl aangehoor moet word nie”.

Zuma, wat vroeër vanjaar 80 jaar oud geword het, se oudag is besig om al hoe meer van ’n nagmerrie vir hom te word.

Die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria het vroeër ook beslis dat Zuma moet teruggaan tronk toe om die res van sy vonnis vir minagting van die hof uit te dien.

Hy het ook daarteen appèl aangeteken en die uitspraak is nog hangende.

Mthunzi Mhaga, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het Donderdag gesê die staat verwelkom die Appèlhof se uitspraak en sal nou daarop fokus om te verseker dat die verhoor op 11 April 2022 hervat word. Hy sê die staat het altyd volgehou dat daar geen vooruitsig op sukses op appèl is nie.

Vir Zuma, wat nou ook sy eie regskoste moet betaal, is dit nie goeie nuus nie.

Vroeër die week is berig dat die staatsprokureur ook reeds begin het met stappe om meer as R18 miljoen se regskoste wat Zuma die staat skuld, van hom te verhaal.

Indien hy nie meer sy regsverteenwoordigers self kan bekostig nie, sal hy aansoek moet doen om regshulp, of self sy verdediging moet behartig.

Intussen het Solidariteit vroeër die week aangekondig dat hulle ook klagtes van korrupsie, diefstal, bedrog en die wanbestuur van staatsfondse teen Zuma en 20 ander beweerde staatskapers gelê het na aanleiding van regter Raymond Zondo se verslae oor staatskaping.

Zuma is beskuldigde nommer een in Solidariteit se dossier. Hy word aangekla weens sy beweerde aandeel in die fasilitering van korrupte aktiwiteite. Hy word ook aangekla van bedrog en die verkryging van, besit van of gebruik van die opbrengs van onwettige aktiwiteite. Hy word ook ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur aangekla van die wanbestuur van openbare geld. Solidariteit sê hy het die NVG ses maande gegee om die 21 mense wat na bewering by staatskaping betrokke is, te vervolg.

Die organisasie teen belastingmisbruik, Outa, sê dit lyk of Zuma se Stalingrad-trein vinnig besig is om stoom te verloor.

Suid-Afrikaners bly egter skepties oor die vraag of Zuma ooit regtig sy dag in die hof sal kry. Daar word wyd bespiegel dat hy weer eens sy gesondheid as verskoning sal probeer aanvoer waarom hy nie in staat sal wees om in die hof te verskyn nie.

Die woordvoerder van die Jacob Zuma-stigting, Mzwanele Manyi, sê Zuma is besig om die uitspraak van die Appèlhof te bestudeer. Volgens Manyi sal Zuma met sy regspan vergader sodra hy die uitspraak klaar bestudeer het.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top