Zuma se stigting bedel geld om sy regskoste te betaal

  • 0

Jacob Zuma bevind hom skynbaar in ’n ernstige finansiële verknorsing noudat die belastingbetalers nie meer moet opdok vir sy regskoste nie.

Die oudstaatshoof, wat die land se howe reeds jare lank snuif trap om uit die tronk te bly se Jacob Zuma-stigting het op Twitter ’n beroep op Suid-Afrikaners en die res van die wêreld gedoen om hom te help om sy regskostes te finansier.

“Geagte mense van Suid-Afrika en die wêreld. Gee asseblief ’n helpende hand,” het die stigting Dinsdag op Twitter gevra. Onder die versoek is daar ’n foto van Zuma agter ’n mikrofoon, vuis in die lug, met ’n byskrif dat daar nederig gevra word vir donasies om vir sy regskostes te help betaal.

Sy bankbesonderhede waar die geld inbetaal kan word, verskyn ook in die boodskap.

’n Volbank regters in die Pretoriase Hooggeregshof het vroeër vanjaar die DA en die EFF se aansoek goedgekeur om die ooreenkoms tersyde te stel waarvolgens die staat verantwoordelik is vir die betaling van Zuma se strafsake. ’n Kostebevel is ook teen Zuma gemaak.

Daarna het die Konstitusionele Hof ook ’n stokkie gesteek voor Zuma se laaste poging om sy duur hofsake uit die belastingbetalers se sak te finansier. Die hof het in Mei binne minute korte mette gemaak met ’n aansoek dat Jan Publiek vir sy hofsake moet betaal nadat hy ’n bloutjie daaroor geloop het in die Hooggeregshof.

Dit beteken Zuma moet nou persoonlik opdok vir sy regskoste in verband met sy [beweerde] korrupsie en bedrogsaak.

Die staatsprokureur is glo voornemens om meer as R18 miljoen se regskoste wat die staat reeds bestee het, van hom te verhaal. ’n Dagvaarding sal glo uitgereik word indien die bedrag nie teen ’n bepaalde datum betaal is nie.

Regter Ledwaba het die staatsprokureur tydens die verhoor in die Hooggeregshof opdrag gegee om ’n volledige rekening op te stel van al die regskostes wat Zuma in sy persoonlike hoedanigheid aangegaan het in die kriminele klagtes teen hom, asook alle aanverwante litigasie. Hy het  opdrag gegee dat alle nodige stappe gedoen word om die geld wat Zuma skuld, in te vorder. Dit sluit ook siviele stappe in om die geld te verhaal.

Of Zuma se ondersteuners tot sy redding gaan kom, is ’n ope vraag. Die reaksie op die versoek om finansiële hulp wat deur sy stigting op sosiale media geplaas is, was nie juis bemoedigend vir hom nie.

Een van Zuma se ondersteuners, die voormalige SABC-bestuurshoof Hlaudi Motsoeneng, wat self onder ’n wolk uit die openbare oog verdwyn het, se reaksie was dat die land in ’n grondwetlike krisis verkeer. “As die voormalige president nie sy regskoste kan bekostig nie, wat sê dit van gewone burgers wat geregtigheid wil sien?” wou Motsoeneng op Twitter weet.

Zuma word deur altesaam 16 aanverwante korrupsieklagtes in die gesig gestaar wat verband hou met Suid-Afrika se omstrede wapentransaksie.

Volgens die DA beloop die hofonkoste tussen Zuma en die DA tot dusver alleen ongeveer R16 miljoen. Die ware koste van al Zuma se hofsake is volgens die voormalige DA-leier Mmusi Maimane nader aan R50 miljoen.

Adjunkregterpresident Aubrey Ledwaba het in sy uitspraak gesê die besluit wat vroeër deur Cyril Ramaphosa en die staatsprokureur geneem is dat die staat verantwoordelik is vir die regskoste wat Zuma in sy persoonlike hoedanigheid aangegaan het, is ongeldig en het dit tersyde gestel.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top