Zuma se uurglas as vry man loop leeg

  • 0

Oudpresident Jacob Zuma se uurglas is besig om vinnig leeg te loop voordat hy hom dié naweek aan die polisie moet oorgee om sy 15 maande tronkstraf uit te dien. Die Jacob Zuma-stigting en vertrouelinge hou egter vol hy hoort nie in die tronk nie.

Zuma moet hom laatstens Sondag vrywillig aanmeld om tronk toe te gaan, anders moet die minister van polisie, Bheki Cele, en die nasionale polisiekommissaris voor die einde van volgende week toesien dat hy agter tralies is.

Die Jacob Zuma-stigting het in ’n verklaring uitgevaar teen die Konstitusionele Hof se vonnis. Die stigting beweer Zuma is sonder verhoor tronk toe gestuur. “Tydens apartheid was daar aanhouding sonder verhoor. Waarvoor presies was die stryd vir geregtigheid dan gewees?” wou die stigting op Twitter weet.

Volgens die stigting was die Konstitusionele Hof se uitspraak emosioneel, vol woede en nie in ooreenstemming met die land se Grondwet nie.

Die stigting sê Zuma het hom nog nooit as bo die land se Grondwet beskou nie. Hulle voer aan dat die regsbeginsel dat almal gelyk is voor die reg, deur die hof geminag is en dat die hof in gebreke gebly het om reg te laat geskied.

Hoewel Zuma 15 maande tronkstraf opgelê is sonder die keuse van ’n boete, sal hy na verwagting hoogstens vier maande in die tronk deurbring voordat hy op parool vrygelaat sal word. Volgens die Strafproseswet kan gevangenes in Suid-Afrika vir parool in aanmerking kom nadat hulle ’n kwart van hulle vonnis uitgedien het.

Zuma se vertrouelinge wou nie Donderdag sê waar hy hom op die oomblik bevind nie, maar sê hy is nie van plan om weg te hardloop nie. Daar was tot dusver nog geen grootskaalse optogte of betogings teen Zuma se vonnis nie.

Een van Zuma se groot bondgenote, Carl Niehaus, en woordvoerder van die MKMVA (Umkhonto we Sizwe Militêre-veterane-vereniging), sê egter hulle is woedend oor die vonnis en sal alles in hulle vermoë doen om te keer dat Zuma in hegtenis geneem en tronk toe gestuur word.  

Een van Zuma se seuns, Edward Zuma, het vroeër die week gesê hy sal nie toelaat dat sy pa gearresteer word nie en sal hom met sy lewe beskerm.

Die ANC se alliansievennote, Cosatu en die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party (SAKP), het nie veel simpatie getoon met Zuma nie. Albei die organisasies, wat hom in die verlede byna blindelings gesteun het, is deesdae van sy grootste kritici.

Cosatu se sekretaris-generaal, Bheki Ntshalintshali, sê hoewel hulle teleurgesteld is dat die kwessie in die hof moes eindig, berus hulle hulle by die hof se bevinding. Hy sê niemand is bo die wet verhewe nie.

Die SAKP se adjunk- algemene sekretaris, Solly Mapaila, het in sy reaksie gesê die hof se uitspraak bevestig die oppergesag van die Grondwet en dat almal gelyk is voor die reg.

Zuma self het nog nie ’n woord gerep oor sy vonnis nie. Donderdag was dit nog onduidelik waar hy hom bevind, maar sy dogter Dudu Zuma-Sambudla het gesê hy is op pad Nkandla toe.

Die Zuma-stigting het op Twitter gesê sy regspan bestudeer nog die hof se uitspraak. 

Volgens die stigting gaan hy oor die naweek die nasie toespreek.

Die ANC het ook nog nie breedvoerig reageer op Zuma se vonnis nie. Die party het wel ’n beroep op kalmte gedoen en gesê hulle steun steeds die oppergesag van die reg en respekteer die hof se besluit. Die party se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) vergader die naweek en sal na verwagting daarna ’n breedvoeriger verklaring oor die uitspraak uitreik. Dit is die eerste keer in die land se geskiedenis dat ’n voormalige staatshoof tronk toe gestuur word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top