Die burgerregteorganisasie AfriForum sê hulle is in die proses om ’n dringende hofaansoek teen sowel die Departement van Korrektiewe Dienste as die nasionale kommissaris van Korrektiewe Dienste, Arthur Fraser, te beteken oor die vrylating van Jacob Zuma op mediese parool.
Dit volg na berigte die naweek in die Sondagkoerant City Press dat president Cyril Ramaphosa voor die tyd in die vrylatingsbesluit geken is. Ramaphosa het nog nie op die bewerings reageer nie.
AfriForum sê in ’n verklaring indien dit waar is dat Zuma terminaal siek is of op enige ander wyse aan die voorskrifte van die wet voldoen, daar geen probleem met sy mediese parool is nie.
“Alles wat die Departement van Korrektiewe Dienste egter in die afgelope week gedoen en gesê het, dui op politieke inmenging wat nie aan die voorskrifte van die wet voldoen nie. Die bewerings dat pres Cyril Ramaphosa betrokke was by die besluit om Zuma vry te laat, stuur ’n duidelike boodskap dat die president nie ernstig daaroor is om korrupsie en misdaad in die regering sowel as die regerende party aan te pak en stop te sit nie,” het Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, gesê.
AfriForum bring dringende hersieningsaansoek oor Zuma se vrylating https://t.co/pqXCkEZpPn
— Ernst Roets (@ErnstRoets) September 14, 2021
Die minister in die presidensie, Mondli Gungubele, het Dinsdag by die Uniegebou in Pretoria kort voor die kabinet se lekgotla aan joernaliste gesê indien daar enige onreëlmatighede was met die besluit om Zuma op mediese parool vry te laat, die betrokke owerhede dit sou hanteer.
Netwerk24 het Dinsdag berig dat Gungubele nie kommentaar wou lewer op die berigte dat Ramaphosa uit die staanspoor van die mediese parool geweet het nie. Hy het gesê die kabinet verwag dat die normale instellings dit moet hanteer indien daar enige “wandade” was.
Die DA het ook reeds aangedui dat hulle wil hê Zuma se mediese parool moet deur die hof hersien word. Die Ahmed Kathrada-stigting het volgens die mediagroep IOL ook daarop aangedring dat Zuma se parool bo enige verdenking moet wees, sodat daar geen vermoedens moet bestaan dat die voormalige staatshoof spesiale behandeling geniet nie.
Volgens AfriForum wil dit voorkom asof die toepaslike statutêre voorskrifte nie nagekom is nie. AfriForum het verlede week ’n dringende prokureursbrief aan Fraser beteken in sy hoedanigheid as nasionale kommissaris van Korrektiewe Dienste waarin antwoorde oor Zuma se vrylating versoek is.
Die brief het onder meer gevra of Zuma aan ’n terminale siekte ly, dat besonderhede oor Zuma se toestand bekend gemaak moet word, en vir afskrifte van die paroolaansoek en die mediese verslag waarin die aanbeveling gemaak word.
Hoewel Fraser die brief gelees het, het hy nie daarop gereageer nie. Roets sê dit is ’n saak van nasionale belang en dat dit ’n skande is indien mense op grond van hul politieke aansien bevoordeel word.
Fraser word beskou as een van Zuma se vertrouelinge gedurende Zuma se ampstermyn as president en is self iemand wat glo daarvan verdink word dat hy moontlik deel was van die korrupsie gedurende Zuma se termyn.
Intussen is Zuma se ondersteuners volgens mediaberigte reeds besig om vir hom ’n gul ontvangs voor te berei by sy huis in Nkandla wanneer hy tuiskom. Hy word tans nog in die hospitaal behandel vir ’n siekte waarvan niemand kennis dra nie behalwe die dokters wat hom ondersoek het en diegene wat sy mediese parool oorweeg het.