Zuma se vroeë vrylating uit die tronk ontketen ’n "misdaadgolf"

  • 0

President Cyril Ramaphosa se besluit om oudpresident Jacob Zuma verlede jaar saam met duisende ander gevangenes vry te laat voordat hulle vonnisse in die tronk uitgedien was, het ’n misdaadgolf in die land ontketen.

So sê die DA in ’n verklaring nadat hulle ondersoek ingestel het na hoeveel van die misdadigers wat vrygelaat is, sedert hulle vrylating weer ’n misdaad gepleeg het.

Ramaphosa het in Augustus verlede jaar 16 472 gevangenis ingevolge ’n spesiale remissieprogram (SRP) vrygelaat onder die dekmantel van die vermindering van oorbevolking in die tronke.

In werklikheid was dit volgens die DA en baie ander ’n politieke guns om Zuma te bevry slegs ure nadat hy weer in die tronk opgeneem is ná ’n onwettige medieseparoolbesluit waartydens hy vroeër vrygelaat is.

Zuma het aanvanklik ’n 15-maande-vonnis gekry nadat hy opdragte geïgnoreer het om voor die Zondo-kommissie te verskyn wat staatskaping ondersoek het.

Hy is in September 2021 op mediese parool vrygelaat. Maar in Desember het die Hooggeregshof die paroolbesluit tersyde gestel en hom beveel om terug te keer tronk toe. In Augustus 2023 het Ramaphosa ’n kwytskeldingsbevel goedgekeur wat verhoed het dat Zuma sy hele vonnis uitdien, en hy is saam met die 16 472 ander gevangenes vrygelaat.

Byna 500 van hierdie oortreders het sedertdien weer die wet oortree. Volgens die DA se syfers het 97 van hulle slegs twee maande ná hul vrylating weer oortredings gepleeg. Die aantal heroortreders is nou 433 sedert 29 Februarie 2024.

Die DA-skaduminister van korrektiewe dienste, Janho Engelbrecht, sê hierdie politieke besluit om Zuma vry te laat – ’n besluit waaroor die ANC-regering waarskynlik spyt sal wees – het reeds verskriklike gevolge gehad vir mense wat in die land woon.

“Ons het nie net heroortredings gesien nie, maar die DA kan nou die 16 472 vrygelate gevangenes se misdade wat daartoe gelei het dat hulle in die eerste plek in die tronk was, openbaar. Dit is ’n aanklag teen die ANC-regering dat hulle toegelaat het dat gewelddadige en ongerehabiliteerde misdadigers op straat vrygelaat word,” sê Engelbrecht.

Van die 16 472 wat vrygelaat is, is die volgendes skuldig bevind en was hulle daarvoor gevonnis:

  • 396 vir roof
  • 17 vir ontvoering
  • 3 vir verkragting en seksuele misdrywe
  • 402 vir aanranding met die opset om ernstig te beseer
  • 3 883 vir diefstal
  • 3 574 vir immigrasiemisdrywe
  • 2 632 vir huisbraak
  • 278 vir strafbare manslag
  • 20 vir brandstigting
  • 3 vir gesinsgeweld.

Dit blyk ook dat die ANC 15 persone wat aan korrupsie skuldig bevind is, vrygelaat het.

Engelbrecht sê wat skokkend is, is dat diegene wat opgesluit is vir verkragting, poging tot verkragting en seksuele aanranding, verkeerdelik vrygelaat is volgens die minister se eie erkenning.

“Wat meer kommerwekkend is, is dat dit nie duidelik is of hierdie oortreders weer in die tronk opgeneem is en of hulle aanhou om in ons strate te loop en ons gemeenskappe teister nie.”

Die minister het geen inligting gegee oor hoe hierdie misdadigers in die eerste plek per ongeluk vrygelaat kon gewees het nie. “Dit wys weer eens dat die ANC alles sal doen om hul eie te beskerm. Honderde misdadigers dwaal nou deur die strate en pleeg weer hul gruwelike misdade, alles vanweë ’n politieke guns aan Zuma,” sê die DA in hulle verklaring.

Die DA het ’n beroep op president Ramaphosa gedoen om in die openbaar om verskoning te vra, nie net vir die nasie nie, maar vir elke slagoffer van hierdie misdade, vir die vrylating van seksuele oortreders in die publiek. Hy moet ook aandui of hierdie misdadigers terug agter tralies is of nie, het die DA gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top