Jacob Zuma het vir die soveelste keer die land aan die gons oor die manier waarop hy die MKP se leierskap na willekeur skommel en verander.
Zuma skommel die MKP se leierskap nou al so gereeld dat dit lyk asof geen posisie of struktuur veilig is nie. Skaars 50 dae voor die plaaslikeregeringsverkiesing op 4 November het hy weer ’n senior partystruktuur ontbind, die burgemeesterskandidaat vir eThekwini vervang en ’n ondersoek na beweerde manipulasie van kandidaatlyste gelas.
Die voortdurende ingrypings begin al hoe minder na normale herorganisering en al hoe meer na ’n leierskapkrisis lyk.
Die jongste verwikkeling het Woensdag na vore gekom toe die party aankondig dat Zuma ’n formele ondersoek gelas het na bewerings dat behoorlik genomineerde kandidate verwyder is van die lyste wat by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) ingedien is, en dat ander name in hul plek ingestuur is.
[MEDIA STATEMENT]: President Zuma Orders Investigation Into Alleged Councillor Candidate List Manipulation and Disbands Presidential Task Team pic.twitter.com/UcvJgAPONM
— uMkhonto WeSizwe Party (Official) (@MkhontoweSizwex) September 9, 2026
Volgens ’n verklaring van die party bedreig sulke optrede die integriteit van die organisasie en die demokratiese wil van sy strukture en lede. Zuma sê daar is geen plek vir manipulasie, politieke hekwagtery of die misbruik van organisatoriese prosesse nie.
Die ironie is dat Zuma se jongste ingryping self tot verdere ontwrigting gelei het.
Zandile Hlophe-Mkhwanazi, wat slegs 12 dae tevore as die party se kandidaat vir die eThekwini-burgemeestersamp aangekondig is, is saam met Sibonelo Maphumulo met onmiddellike ingang uit die National Party Liaison Committee verwyder, hangende die uitslag van die ondersoek.
Die komitee is die party se amptelike skakel met die OVK, en elke party mag slegs twee verteenwoordigers hê. Die MKP het dus albei sy verteenwoordigers op dié belangrike komitee verloor, enkele weke voordat kiesers na die stembus gaan.
In Hlophe-Mkhwanazi se plek is die party se nasionale voorsitter, Apostle Mxolisi Phakathi, as die nuwe eThekwini-burgemeesterskandidaat aangewys.
Die party het om verskoning gevra vir die “onsekerheid en ontwrigting” en lede aangemoedig om agter die nuwe kandidate te verenig.
Die jongste verandering staan egter nie op sy eie nie. Dit is deel van ’n patroon waarin Zuma die party se strukture en senior leierskap telkens herorganiseer.
Zuma het in Februarie ‘n Presidensiële taakspan gestig om die party se takstrukture uit te bou en dit vir die plaaslike verkiesing voor te berei. Sy seun Duduzane Zuma was een van die lede.
Teen laat Julie het Zuma die span ontbind en sy magte, mandaat en finansies aan ’n nuwe Strategiese presidensiële taakspan oorgedra. Vroeg in Augustus het hy egter weer van koers verander: Die Taakspan is teruggebring en die Strategiese span ontbind. Nou, skaars ses weke later, is die Taakspan weer ontbind.
In Augustus het Zuma ook vir Duduzane as eerste adjunkpresident aangestel en John Hlophe uit dié pos verwyder. Nathi Nhleko is as nasionale voorsitter vervang deur Phakathi, terwyl ander senior figure ook rondgeskuif is.
Vroeër vanjaar is die party se National High Command ontbind en ’n nuwe struktuur in die lewe geroep.
Die ontevredenheid oor die wyse waarop die party bestuur word, het Maandag in Durban openlik na die oppervlak gekom toe MKP-lede betoog het buite die plek waar Zuma met nasionale en plaaslike leiers vergader het.
Die betogers het onder meer gekla dat kandidate wat deur gemeenskappe gekies en deur die party se verkiesingspan aanvaar is, nie noodwendig die name is wat uiteindelik by die OVK ingedien is nie.
Die kwessie is veral sensitief in eThekwini, waar die MKP sy grootste verkiesingsbelang het. KwaZulu-Natal is die party se sterkste provinsie en eThekwini sy belangrikste teiken in die plaaslike verkiesing. In 2024 het die party sowat 45% van die stemme in KwaZulu-Natal gekry, maar uit die provinsiale regering gehou.
Die tyd vir verdere organisatoriese gespartel is egter besig om uit te loop. Die OVK het reeds aangedui dat die nominasieproses op 28 Augustus om 17:00 gesluit het. Die finale kandidaatlyste word op 16 September gepubliseer en sertifikate op 25 September uitgereik.
Die party kan dus nie bloot die name wat reeds ingedien is, verander nie, selfs al sou Zuma se ondersoek onreëlmatighede aan die lig bring.
Vir ’n party wat sterk op KwaZulu-Natal steun en eThekwini as een van sy belangrikste pryse in November beskou, kom die interne onsekerheid op ’n slegte tyd.
Zuma se ingrypings word telkens in die naam van orde, integriteit of die belange van die party geregverdig. Maar die opeenvolgende ontbindings, aanstellings en verwyderings laat al hoe meer die indruk van ’n party wat sukkel om ’n stabiele leierskap en behoorlike interne strukture te vestig.
Die vraag is daarom of die MKP hom as ’n volhoubare politieke organisasie kan vestig as sy leierskap telkens na die smaak van een man verander word.
Want te midde van al die veranderinge is daar darem een ding wat konstant bly en dit is Jacob Zuma.
- Lokprent deur Michael Schwarzenberger van Pixabay

