Zuma speel slagoffer maar stotter oor vrae

  • 0

Die eerste dag van oud-president Jacob Zuma se getuienis voor die Zondo-kommissie het afgeskop met ’n slagoffermentaliteit deur die voormalige president.

Jacob Zuma (Foto: YouTube)

Hy beweer daar is al sedert 1990 ’n goed beplande komplot om van hom ontslae te raak. Volgens hom was daar al verskeie fyn uitgewerkte planne gesmee om hom te vermoor en hy sê gesin ly ernstig daaronder.

’n Selfversekerde Zuma het sy getuienis begin deur die kommissie te probeer oortuig die sameswering om van hom ontslae te raak, word onder andere gedryf deur sekere mense binne-in die ANC wat glo spioene was tydens die apartheidsera. Die Zondo-kommissie is volgens hom ook ’n uitvloeisel daarvan.

Zuma se selfversekerde houding het aansienlik begin taan toe advokaat Paul Pretorius van die kommissie se regspan hom begin ondervra het. Hoewel Zuma se regspan reeds geruime tyd in besit is van die dokumente waaroor Pretorius hom wil ondervra, was hy duidelik nie voorbereid daarop nie. Sy regsverteenwoordigers het aangedui dat hulle nie die dokumente voor hulle het nie en Zuma ook nie. Hulle moes egter toegee dat dit wel aan hulle bedien is en dat hulle dit ontvang het. Sommige daarvan reeds verlede jaar.

Tydens sy lang inleiding het Zuma verklaar dat hy oor sensitiewe inligting beskik rakende sekere mense in die ANC. Hy het gesê tot dusver het hy nie daardie inligting met die buitewêreld gedeel nie, want hy wou hulle beskerm maar dat hy gedwing word om nou van daardie inligting te onthul.

Die eerste van verskeie bomme wat Zuma na verwagting voor die Zondo-kommissie gaan los, was ’n beskuldiging dat ’n voormalige minister van die Staatsdiens en Administrasie, Ngoako Ramatlhodi, gedurende die apartheidsjare ’n spioen was.

Zuma het aan die Zondo-kommissie in Johannesburg gesê hy is daartoe gedwing om dié intelligensie-inligting te onthul. Hy het vertel dat Ramatlhodi tydens sy studentejare in Lesotho as spioen gewerf is. Ramatlhodi het vroeër in sy getuienis voor die Zondo-kommissie gesê Zuma doen net wat hy wil in die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee en dat hy die land uitverkoop het.

Zuma het sarkasties hierop reageer tydens sy getuienis. Hy ontken dat hy die land opgeveil het. “Wat het ek opgeveil, Tafelberg?” wou hy weet. Al die bewerings wat teen hom gemaak word, is volgens Zuma deel van  ’n uitgebreide plan van intelligensie-organisasies om van hom ontslae te raak.

Die klagtes waarop hy in die hof teregstaan, is glo ook deel van die samesweringskomplot teen hom. Selfs die Zondo-kommissie, wat deur homself aangestel is, is glo daarop uit om hom te diskrediteer. Hy was veral vies omdat hy nie soos normaalweg die voorsitter van die kommissie self kon aanstel nie. Regter Zondo is op aanbeveling van die vorige openbare beskermer, advokaat Thuli Madonsela, deur  die hoofregter aangestel as voorsitter van die kommissie en nie deur Zuma nie.

Zuma het geskimp dat hy oor nog name in die ANC beskik wat spioene was tydens die apartheidsera en ook daardie name sal noem as dit nodig is.

Die enigste erkentenis wat Zuma tot dusver gedoen het was dat hy instrumenteel was in die stigting van die Guptas se New Age-koerant en die TV-kanaal wat deur die Guptas begin is. Hy sien niks daarmee verkeerd nie. Hy erken ook dat die naam van die koerant, New Age, een van sy voorstelle was. Zuma sê daar was niks ongerymd daaraan nie en dat hy graag ’n alternatiewe stem wou laat hoor omdat die hoofstroommedia in die land uiters negatief gesind is teenoor die ANC.

Die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee is ook breedvoerig daaroor ingelig, sê Zuma. Hy het die Guptas bestempel as vriende en sê daar was nooit enige onregmatige bedrywighede tussen hulle nie.

Hy het ook gesê hy is nie die eerste president wat met die Guptas bevriend is nie. Beide Nelson Mandela en Thabo Mbeki was volgens hom met die Guptas bevriend en niemand het ’n probleem gehad daarmee nie. Hy sê die Guptas was nader aan Mbeki en vorige presidente as aan hom.

Die Thabo Mbeki-stigting het kort na Zuma se getuienis weer ’n vorige verklaring van die stigting op Facebook geplaas waarin enige skakeling tussen Mbeki en die Guptas ontken word.

Zuma sal sy getuienis voor die Zondo-kommissie die res van die week voortsit. Intussen gons dit op sosiale media soos wat sy ondersteuners en teenstaanders die verrigtinge regstreeks op die internet dophou en daarop reageer. Sommige het hom as ’n uitverkoper uitgekryt terwyl ander sy lof besing en vas glo hy is die slagoffer van een of ander komplot.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top