Zuma te siek vir Zondo

  • 0

Oudpresident Jacob Zuma, wat volgende week vir die tweede keer voor die Zondo-kommissie sou verskyn om vrae te antwoord, het op nommer 99 kleinkoppie getrek.

Hy beweer hy is te siek.

Zuma, wat direk betrek word by bewerings van staatskaping, het tydens sy eerste verskyning in Junie vanjaar voor regter Zondo ’n martelaarshouding ingeneem. Hy beweer hy is die slagoffer van ’n politieke komplot wat teen hom gesmee word.

Foto van Jacob Zuma: YouTube

Sedert die Zondo-kommissie met sy ondersoek na staatskaping begin het, duik Zuma se naam gereeld op in die getuienis wat voor die kommissie gelewer word. Ten spyte hiervan het Zuma nog geen aanduiding gegee dat hy diegene wat die bewerings gemaak het onder kruisverhoor wil neem nie.

Die Zondo-kommissie moes Zuma vroeër vanjaar met stokke en swaarde sover kry om self te gaan getuig.

Ná sy vorige verskyning, het advokaat Paul Pretorius, die hoofondervraer van die Zondo-kommissie, ’n skrywe aan Zuma se regsverteenwoordigers gestuur om aan te dui wat die temas sal wees van sy verdere ondervraging.

Intussen was Zuma telkens in en uit die land se howe om sy naam tot dusver sonder sukses in ere te probeer herstel. Pogings om die klagtes van korrupsie en geldwassery teen hom terug te trek, was ook onsuksesvol. Verder het hy ’n saak teen oudminister Derek Hanekom verloor nadat hy hom op Twitter as ’n uitverkoper gebrandmerk het.

In al die gevalle pleit Zuma die ene onskuld en maak telkens van uitsteltegniek gebruik om die sake teen hom so lank as moontlik uit te rek.

Zuma het vroeër die maand ook ’n aansoek by die hooggeregshof in Pietermaritzburg ingedien vir toestemming tot appél in sy korrupsieverhoor.

Hy wil appelleer teen die volbank regters wat sy aansoek om sy vervolging permanent te staak verlede maand verwerp het.

Sy verskyning vroeër vanjaar voor die Zondo-kommissie het hom ook nie juis in ’n goeie lig gestel nie. In een stadium het sy regspan aangedui dat die oudpresident nie verder voor die Zondo-kommissie wil getuig nie omdat hy voel hy word nie billik behandel nie.

Die Zondo-kommissie het Dinsdag in ’n verklaring gesê die oudpresident sal weer volgende week van 11 tot 15 November voor die Zondo-kommissie getuig. Kort daarna het sy regsverteenwoordigers egter laat weet hy is te siek en sal nie kan getuig nie.

Die appélaansoek oor die twiet waarin hy Hanekom “’n agent van die vyand” genoem het, sou ook vandeesweek voor die hof dien.

Die hooggeregshof het in September gelas dat Zuma ’n verskoning op Twitter moet publiseer én die twiet binne 24 uur op alle mediaplatvorms moet verwyder. Zuma het geweier en verkies om ook daarteen te appelleer. Die twiet wat hy moes verwyder, was Dinsdag steeds op sy Twitterprofiel sigbaar.

Zuma moet ook R500 000 opdok vir die twiet as sy appél nie slaag nie.

Die Zondo-kommissie het in ’n afsonderlike verklaring gesê die Britse politikus en anti-apartheidsaktivis Peter Hain sal ná Zuma op Maandag 18 November voor die kommissie getuig.

Hain, wat hom deesdae sterk beywer vir teen-korrupsie optredes, het onlangs ’n versoek aan die Britse regering gerig om, soos Amerika, sanksies teen die Guptas in te stel.

Zuma, wat voorheen daarmee gespog het dat hy graag sy dag in die hof wil hê, moes sedert sy uittrede reeds verskeie kere voor die hof verskyn op talle klagtes wat verband hou met korrupsie en rampokkery. Hy en sy regspan doen egter alles in hulle vermoë om te keer dat hy sy dag in die howe kry.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top