Zuma vaar uit teen ANC se top ses

  • 0

Die tweespalt in die ANC het ’n nuwe hoogtepunt bereik nadat ’n dokument uitgelek het waarin oudpresident Jacob Zuma ’n striemende aanval gedoen het op die leierskap van die ANC. Dit was tydens ’n virtuele vergadering tussen hom en die top ses van die ANC.

Die notas van die vergadering wat verlede maand plaasgevind het, is Maandag op verskeie nuusplatforms gedeel. Die notas van 23 bladsye is op een van Zuma se briefhoofde getik met die versoek dat dit aan die ANC se top ses en ook die party se provinsiale leiers versprei word.

Zuma beskuldig sy party se leierskap daarvan dat hulle hom vir die wolwe gegooi het. Hy sê sy party het nie ’n vinger gelig om sy reputasie te beskerm nie. President Cyril Ramaphosa word onder meer van oneerlikheid beskuldig en dat hy deel was van ’n komplot om Zuma uit die kussings te lig as president van die land voordat sy termyn verstryk het.

Die vergadering het vroeg in Maart plaasgevind toe die top ses hom vermoedelik wou oorreed om wel voor die Zondo-kommissie te verskyn. Zuma se aanval het aan die begin van die vergadering plaasgevind toe hy gevra het om eers sy saak te stel.

Die dokument met Zuma se notas is uitgelek teen die agtergrond van ’n dreigende skeuring in die ANC nadat die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) verlede week besluit het die party se sekretaris-generaal, Ace Magashule, moet sy pos binne 30 dae ontruim as gevolg van die strafregtelike klagte wat teen hom ingedien is.

In die dokument word ook beweer dat Ramaphosa verskeie kere probeer het om Zuma te ontmoet sedert hy president geword het, maar dat Zuma geweier het om hom alleen te ontmoet.

Zuma het ook ’n striemende aanval gedoen op die land se regstelsel. Hy beweer dat hy onregverdig behandel word. Hy het veral sy mes in vir die Konstitusionele Hof wat binnekort uitspraak moet lewer of hy tronk toe moet gaan as gevolg van sy weiering om voor die Zondo-kommissie te verskyn.

Zuma se uitsprake oor die land se regstelsel is verlede week skerp deur Ramaphosa gerepudieer toe hy die NUK se besluite (sonder om Zuma by die naam te noem) aan die land bekendgemaak het.

In die notas beweer Zuma ook dat daar al ’n aanslag op sy lewe was, maar sê hy wil nie daarop uitbrei nie. Hy beskou homself as ’n slagoffer en sê hy het nooit enige iets verkeerd gedoen waarvoor hy vervolg moet word nie.

Volgens hom is hy al jare lank die teiken van mense wat hom uit die pad wil hê. Hy sê lede van sy eie party en mense wat sy kamerade is, het óf anderpad gekyk óf saam in die koor gesing om hom in die oë van die publiek skuldig te bevind.

Politieke ontleders is dit eens dat die volgende 30 dae van die onstuimigste tye in die ANC se geskiedenis gaan wees hangende die Konstitusionele Hof se uitspraak oor Zuma en wat Ace Magashule gaan doen wanneer die 30 dae om is.

Die Zuma-Magashule-faksie in die ANC het reeds volstoom op grondvlak begin steun werf, terwyl Ramaphosa-ondersteuners ewe hard aan die woel is. Hulle eis op hulle beurt optrede teen diegene wat ’n nasionale veldtog wil hou om Magashule en Zuma te ondersteun.

Die ANC-jeugliga het Maandag versoek dat Ramaphosa en die ANC se NUK teen enige partylid moet optree wat beplan om ’n nasionale staking ter ondersteuning van Magashule en Zuma te hou.

Dit kom nadat daar die naweek berig is dat talle ANC-lede sal opruk teen die NUK se besluit om lede 30 dae te gee om uit te tree indien hul aangekla word van korrupsie of ander ernstige misdade.

Magashule en Zuma se ondersteuners het ook versoek dat Ramaphosa en sy hele kabinet herroep moet word.

Zuma se volledige notas van die vergadering tussen hom en die ANC se top leierskap kan hier gelees word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top