Zuma was onwettig op parool, bevind Appèlhof

  • 0

Die waarnemende kommissaris van korrektiewe dienste moet waarskynlik nou besluit of  Jacob Zuma moet teruggaan tronk toe of nie.

Dit volg nadat die Appèlhof Maandag bevind het dat Zuma moet teruggaan tronk toe, maar tog die tronkdeur op ’n skrefie oopgelaat het dat dit nie noodwendig hoef te gebeur nie.

Die hof het bevind dat die voormalige nasionale kommissaris van korrektiewe dienste, Arthur Fraser, se besluit om mediese parool aan Zuma toe te staan, ​​onwettig was.

Dit het ook bevind dat dit ​​téén die advies van die Mediese Parool Adviesraad, ’n spesialisliggaam, was.

“Op enige denkbare grondslag was die kommissaris se besluit onregmatig en ongrondwetlik. Die Hooggeregshof was korrek om dit tersyde te stel,” lui die uitspraak.

Die regters het dit egter nou aan die waarnemende kommissaris oorgelaat om te besluit of die tyd wat  Zuma aan onregmatige mediese parool bestee het, in ag geneem moet word by die bepaling van die oorblywende tydperk van sy vonnis agter tralies.

Die DA het die hof se uitspraak dat die parool onwettig was, verwelkom en gesê dit is van kardinale belang dat die kommissaris van korrektiewe dienste nou “die regte ding doen” en Zuma verplig  om sy vonnis uit te dien soos enige gewone Suid-Afrikaner verplig sou word om te doen.

Die DA-leier, John Steenhuisen sê in ’n verklaring die kommissaris moenie afgedreig word deur dreigemente van ’n herhaling van die Julie-onrus in KZN verlede jaar, wat veroorsaak is deur Zuma-ondersteuners wat teen sy inhegtenisneming betoog het nie.

Die DA het op 10 September 2021 by die Gautengse Hooggeregshof aansoek gedoen om Fraser se besluit om Zuma op mediese parool te plaas, te hersien en tersyde te stel.

Die aansoek het daartoe gelei dat die Hooggeregshof Zuma se mediese parool onwettig verklaar het en hom beveel het om terug te keer tronk toe. Die Departement van Korrektiewe Dienste het, onsuksesvol, teen hierdie uitspraak geappelleer.

Steenhuisen sê die Appèlhof se uitspraak is ’n oorwinning vir die DA namens die mense van Suid-Afrika en die oppergesag van die reg vir die beginsel van gelykheid voor die reg, en vir aanspreeklikheid, wat alles noodsaaklike voorvereistes vir ’n suksesvolle, voorspoedige samelewing is.

Steenhuisen sê dit is ook ’n verskriklike aanklag teen president Ramaphosa dat hy nie net versuim het om hom uit te spreek teen die besluit om Zuma medies op parool te kry nie, maar dit openlik verwelkom het.

“Erger nog, hy het dit vergemaklik deur die diep gekompromitteerde Arthur Fraser in die eerste plek in die pos van kommissaris van korrektiewe dienste te ontplooi,” sê Steenhuisen.

Ramaphosa het Fraser in 2018 van sy pos as direkteur-generaal van die Staatsveiligheidsagentskap na die pos van nasionale kommissaris van korrektiewe dienste oorgeplaas, terwyl hy geweet het van die talle beweerde misdade waarvan Fraser beskuldig is, insluitend die parallelle intelligensienetwerk wat hy na bewering op die been gebring het om Zuma se persoonlike belange na bewering te dien.

Steenhuisen sê Ramaphosa se bymotief om Zuma toe te laat om op mediese parool geplaas te word, het duideliker geword met die voordeel van terugskouing. Dit was volgens hom nie net ’n poging om die Zuma-faksie van die ANC te paai ter wille van ANC-eenheid en om nog ’n massaprotes soos verlede jaar in Junie in KZN te vermy nie, maar ook om sy eie Phala Phala-fiasko se geraamtes in die kas te probeer hou omdat hy weet dat Fraser die sleutel vir daardie kas gehad het.

Die Jacob Zuma-stigting het nie dadelik op die uitspraak gereageer nie, terwyl ’n woordvoerder van die Departement van Korrektiewe Dienste gesê het die uitspraak word bestudeer en dat hulle waarskynlik later sal reageer.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top