Oudpresident Jacob Zuma mag die vonk gewees het, maar die huidige plundery in Suid-Afrika het niks meer met Zuma te doen nie. Dit is eerder ’n ongedissiplineerde bevolking met geen respek vir reëls of eiendom nie teenoor ’n swak-opgeleide en onbekwame polisiemag.
So sê die oudpolitikus en politieke kommentator Pieter Mulder. Mulder het op Twitter gesê die vraag is in hoeverre die weermag ’n verskil gaan maak om wet en orde te herstel.
Zuma mag die vonk gewees het, maar die huidige plundery het niks meer met Zuma te doen nie. Dit is eerder ’n ongedissiplineerde bevolking met geen respek vir reëls of eiendom nie teenoor ’n swak opgeleide en onbekwame polisiemag. Vraag is hoever die Weermag ’n verskil gaan maak?
— Pieter Mulder (@pieter_mulder) July 13, 2021
Verskeie Suid-Afrikaners, onder wie politieke en sakeleiers, sê vinnige en ferm optrede is nodig om die wetteloosheid en geweldpleging wat in die land losgebars het na Zuma se inhegtenisname, tot ’n einde te bring.
Die nasionale gesamentlike en operasionele intelligensiestruktuur, Natjoints, het die land Dinsdag tydens ’n nuuskonferensie ingelig oor die veiligheidsituasie in die land en die optrede wat beoog word om wet en orde te herstel.
President Cyril Ramaphosa, wat die land Maandagaand regstreeks op TV en radio toegespreek het, sê dit is van kardinale belang dat wet en orde herstel word. Daarom het hy as opperbevelvoerder van die veiligheidsmagte opdrag gegee dat die weermag ontplooi word om die polisie in hulle taak by te staan.
President @CyrilRamaphosa addresses the nation on Government's response to the public violence in parts of the country https://t.co/9a1MPCl2lg
— Presidency | South Africa 🇿🇦 (@PresidencyZA) July 12, 2021
Die minister van polisie, Bheki Cele, wat skerp onder kritiek deurgeloop het omdat hy so stil was nadat die geweld in KwaZulu-Natal en Gauteng losgebars het, het ook Dinsdag sy stilswye verbreek. Cele het die ontplooiing van die weermag verwelkom. In ’n verklaring het hy die versekering gegee dat alles wat nodig is, gedoen sal word om lewens en eiendom te beskerm en wet en orde te herstel.
Ramaphosa en Cele het Suid-Afrikaners ook verseker dat die belhamels wat die wetteloosheid die afgelope paar dae aangeblaas het, vasgevat sal word. Ramaphosa het spesifiek verwys na mense wat sosiale media gebruik om die geweld aan te blaas.
Een van hulle wie se optrede skerp veroordeel word op sosiale media, is Zuma se dogter Dudu Zuma-Sambudla. Sedert haar pa se arrestasie het sy die vlamme van geweld onverpoosd aangeblaas op Twitter met videomateriaal van oproer en brandende eiendom.
Sy het onder andere op haar Twitterprofiel ’n foto van Ramaphosa geplaas wat flenters geskiet word met ’n geweer. Sy het ook verskeie video’s geplaas van eiendom en winkels wat brand met goedkeurende kommentaar daarby.
Die ANC het reeds te kenne gegee hulle sal Zuma-Sambudla verantwoordelik hou vir haar uitlatings op sosiale media sedert haar pa tronk toe is. Die party se adjunksekretaris-generaal, Jessie Duarte, het tydens ’n nuuskonferensie na afloop van die ANC se laaste NUK-vergadering bevestig Zuma se dogter is een van diegene wat deur die party oor die kole gehaal sal word vir haar opruiende stellings.
Polisieminister Bheki Cele het Dinsdag bevestig dat haar naam een van die name is wat aan die veiligheidsmagte bekend is en ondersoek word.
Intussen het die Zuma-stigting uitgevaar teen Ramaphosa se stelling dat etniese mobilisasie deel vorm van die afgelope dae se geweld. Die stigting sê hulle gaan ’n klag by die Menseregtekommissie (MRK) indien vir wat hulle noem sy “roekelose ongegronde” stelling. Hulle wil weet watter bewyse hy het dat die landwye protes etnies gebaseer is.
The Foundation will approach the @SAHRCommission tomorrow to report Pres Ramaphosa for his reckless, devisive & unsubstantiated allegations about ethnic based mobilisation.
Where is his evidence that these country-wide protests are ethnic based? pic.twitter.com/kT6bRz9vi5— JGZuma Foundation (Official) (@JGZ_Foundation) July 11, 2021
Politieke partye was oor die algemeen krities omdat die regering volgens hulle te lank gesloer het om daadwerklik op te tree teen die geweld wat die naweek uitgebreek het. Die DA-leier, John Steenhuisen, het KwaZulu-Natal besoek om hom van die situasie daar te vergewis. Steenhuisen sê wetsgehoorsame burgers verdien sterk leierskap wat die nodige aksie sal neem om wet en orde in gemeenskappe te herstel.
Today, DA Leader @jsteenhuisen is in KwaZulu-Natal to visit the communities affected by the violence and chaos that has unfolded over the last few days.
Law-abiding citizens deserve strong leadership that will take action and help restore law and order in communities. 🇿🇦 pic.twitter.com/QWawvoDSa3
— Democratic Alliance (@Our_DA) July 13, 2021
Die leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Groenewald, het in sy reaksie ook gevra vir vinnige en ferm optrede. Hy sê dit is duidelik dat misdadige elemente hier werksaam is en dat die Zuma-aangeleentheid as rookskerm misbruik word om te steel en plunder.
“Die intelligensiedienste in Suid-Afrika is duidelik onbevoeg. Indien die staatsveiligheidsagentskap (SVA) sy werk behoorlik gedoen het, sou al die vooraf-tekens genoeg waarskuwing gebied het oor presies dit wat nou besig is om in die land af te speel,” het Groenewald in ’n verklaring gesê.
In teenstelling met feitlik al die ander politieke partye het die EFF die ontplooiing van die weermag ten sterkste veroordeel. Die party se leier, Julius Malema, het op Twitter gedreig sy party sal by die protes aansluit as die weermag ontplooi word. “Geen soldate op ons strate nie! Anders sluit ons ook aan. Alle vegters moet gereed wees ... hulle sal ons nie almal doodmaak nie. Ons benodig ’n politieke oplossing, nie soldate nie,” het Malema op Twitter gesê.
No soldiers on our streets! Otherwise, we are joining. All fighters must be ready... they won't kill us all. We need a political solution to a political problem, not soldiers.#NoToSoldiers
— Julius Sello Malema (@Julius_S_Malema) July 12, 2021