Oudpresident Jacob Zuma is nie van plan om weer voor regter Raymond Zondo te verskyn nie en gaan alles in sy vermoë probeer om te verhoed dat hy weer deur die Zondo-kommissie ondervra word.
In ’n brief wat deur Zuma se regsverteenwoordigers aan die kommissie geskryf is, vra Zuma dat die voorsitter van die kommissie, adjunkhoofregter Raymond Zondo, hom as voorsitter moet onttrek.
Zuma se prokureur, Eric Mabuza, sê in ’n brief aan Zondo hy voel Zondo is bevooroordeeld teenoor Zuma en daarom moet ’n ander regter die kommissie lei. Die brief volg op Zondo se opdrag dat Zuma voor die kommissie moet kom getuig, aangesien talle getuies hom by bewerings van staatskaping betrek het. Zondo sê hy het nie tyd om met getuies te onderhandel oor die datums waarop hulle moet getuig nie. Zuma is gelas om op 16 November te getuig.
Een van Zuma se grootste ondersteuners, Carl Niehaus, het op Twitter verder uitgevaar teen die Zondo-kommissie. Niehaus het ’n foto van hom en Zuma op Twitter geplaas en daarby geskryf dit was die korrekte ding om te vra dat die “bevooroordeelde” regter Zondo hom van die kommissie moet onttrek en hy ondersteun dit ten volle.
This is the correct move by @PresJGZuma to call for the biased #JudgeZondo to recuse himself from the #StateCaptureCommission and I fully support it! ✊🏾 pic.twitter.com/qVcBKCprG0
— Carl Niehaus (@niehaus_carl) September 29, 2020
In Zuma se brief sê sy prokureurs Zondo kan nie as onpartydige regter van die kommissie optree nie. Hulle is van plan om ’n formele aansoek te bring dat Zondo hom aan die kommissie moet onttrek.
Vroeër het die Zuma-stigting ook in ’n brief ’n striemende aanval op Zondo gedoen. Die aanval op Zondo se integriteit maak dit duidelik dat Zuma geensins van voorneme is om sy samewerking aan die kommissie te gee nie.
Volgens Zuma se regsverteenwoordigers beeld regter Zondo Zuma uit as ’n persoon wat weier om saam te werk met die kommissie. Hulle beweer daar is ook persoonlike sake wat Zondo eers in die openbaar moes uitgeklaar het voordat hy die aanstelling as voorsitter van die kommissie aanvaar het.
In ’n onderhoud wat die joernalis Hanlie Retief Sondag in Rapport met Carl Niehaus gevoer het, ontken Niehaus dat Zuma telkens besig is met uitsteltaktiek. “As hy siek is, is hy siek. Regter Zondo het gesê hy wil met die dokters praat, asof hy nie glo wat president Zuma se regspan sê nie. Maar toe het hy nie die moeite gedoen nie,” het Niehaus aan Retief gesê.
Hy sê dit lyk of regter Zondo en die kommissie daarop gefikseer is om Zuma daar te kry, terwyl mense soos Brian Molefe bereid is om te getuig, maar nie geroep word nie. “Pravin Gordhan word met handskoene hanteer,” sê Niehaus in die onderhoud waarvan hy ’n foto op Twitter gedeel het.
#CarlNiehaus responds to questions from journalist @HanlieRetief of the Afrikaans Sunday newspaper #Rapport about @PresJGZuma, and the #CommisionOfEnquiryIntoStateCapture (#ZondoCommission). pic.twitter.com/08qxG7u0Zz
— Carl Niehaus (@niehaus_carl) September 27, 2020
Hy beweer ook in die onderhoud Zondo jag Zuma omdat hy die prominentste verteenwoordiger van die radikale ekonomiese transformasie (RET) is.
- Die Zondo-kommissie het sy sitting Dinsdag voortgesit en getuienis aangehoor van die direkteur van Blackhead Consulting, Edwin Sodi. ’n Tender van R255 miljoen is in 2014 aan ’n gesamentlike onderneming tussen Blackhead Consulting en Diamond Hill Trading toegeken om die asbesdakke van laekostebehuising in die Vrystaat te evalueer en te oudit. Sodi het in sy vorige getuienis gesê dat hy nie bewus was van die inhoud van ’n dokument wat deur sy sakevennoot, wyle Ignatius Mpambani, opgestel is nie. Die dokument het die voorletters bevat van diegene wat vir die projek betaal moes word. Hulle was glo amptenare in die Vrystaatse Departement van Huisvesting. Mpambani is in 2017 helder oordag in sy Bentley in ’n straat in Sandton doodgeskiet. Hy het kort voor die aanval by ’n kitsbank geld onttrek, wat hy nog by hom gehad het nadat hy geskiet is.